Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Stuur SMS en help só JZ se skuld terugbetaal’
Sylvester Mathebula, uitvoerende lid en woordvoerder van die Public Members Unit Team (PMUT) maak gister hul planne om pres. Jacob Zuma se Nkandla-skuld te betaal, in Johannesburg bekend Foto: Felix Dlangamandla
Sylvester Mathebula (links), uitvoerende lid en woordvoerder van die Public Members Unit Team (PMUT), praat gister oor hul planne om pres. Jacob Zuma se Nkandla-skuld te betaal. Langs hom is Clinton Symes, die PMUT-regsverteenwoordiger, Vumelani Mchu

Suid-Afrikaners mág maar pres. Jacob Zuma se Nkandla-skuld namens hom terugbetaal.

Die Public Members Unit Team (PMUT), ’n groep sakelui, het gister in Johannesburg hul eerste inisiatief bekend gestel om die geld in te samel.

Sylvester Mathebula, uitvoerende lid en woordvoerder van die PMUT, het gister gesê mense kan solank geld skenk deur die woord “AMANDLA” na ’n nommer te SMS. R5-skenkings word gedoen met ’n SMS na een nommer en ’n R30-skenking met een na ’n ander nommer.

Gholfdae en ander geldinsamelingsprojekte sal ook gehou word.

Hy meen Suid-Afrikaners moet die presidensie en Zuma self respekteer, “ongeag hoe burgers, die howe en ander (politieke) partye voel”.

Volgens hom kan Suid-Afrika nie aanbeweeg (van Nkandla) nie en berokken dit die reputasie van die presidensie en elke gewone Suid-Afrikaner groot skade. Daarom moet maatskappye en burgers tot die PMUT-fonds bydra sodat almal saam Zuma se skuld kan delg.

Mathebula het gesê talle PMUT-lede het al van hul eie geld tot die fonds bygedra, maar hy wou nie name en bedrae bekend maak nie.

“Met die huidige situasie met Nkandla wil mense hê die geld moet terugbetaal word. Ons sal geld insamel en ’n verskil maak. As ons R300 miljoen moet insamel, sal ons R300 miljoen insamel,” het hy gesê.

Die PMUT weet nog nie presies hoeveel geld hulle moet insamel nie.

Hulle het al ’n trustfonds, maar sal eers die besonderhede daarvan bekend maak wanneer hulle uitvind hoeveel geld Zuma moet terugbetaal.

Mathebula kon nie met sekerheid sê aan wie die geld betaal moet word nie. Hy vermoed wel dit is die tesourie. “Ons sal alles in ons vermoë doen om die rekening te delg.”

Die PMUT het ’n Johannesburgse regsfirma, Symes Attorneys, aangestel om toesig te hou oor die geldinsameling. “Ons het ’n mandaat om die regte strukture op te rig om die PMUT se toekomstige planne te fasiliteer,” het Clinton Symes gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.