Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vrae oor poste vir bedrieërs
Drie VS-amptenare herontplooi
Ons werk met ernstige aangeleenthede en die kantoor van die sekretaris ag die komitee nie as ernstig nie.
Neels van Rooyen

Drie Vrystaatse amptenare van die kantoor van die premier is by ander departemente in die provinsiale regering herontplooi nadat hulle aan bedrog skuldig bevind is.

Só het Kopung Ralikontsane, direkteur-generaal van die Vrystaatse regering, die openbare rekeningekomitee Dinsdag in Bloemfontein ingelig.

Ralikontsane moes oor die 2014-’15-verslag van die ouditeur-generaal (OG) aan die komitee verslag doen.

Luidens die OG se verslag het die drie amptenare, wat in die protokolkantoor van die premier se kantoor gewerk het, hul laaste skriftelike waarskuwings ontvang en is na ander departemente oorgeplaas nadat hulle op aanklagte van bedrog met eise vir reis- en verblyfkoste skuldig bevind is. Ralikontsane het gesê die amptenare sal in hul nuwe poste nie meer met reislogistieke werk nie.

“Die algehele bedrag ter sprake is minder as R40 000,” het hy gesê.

Hy het verder gesê een van die amptenare is na die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer oorgeplaas.

Roy Jankielsohn, een van die komiteelede, het hierna ’n aanmerking gemaak oor die herontplooiing van die amptenare.

Neels van Rooyen, voorsitter van die openbare vergaderingkomitee, het Thabo Mokoena, sekretaris van die Vrystaatse wetgewer, voor stok gekry oor die gebrek aan kommunikasie aan die uitvoerende raad van die provinsie oor die besluite van die komitee. Mokoena moes aan die komitee oor die 2014-’15-verslag van die OG oor die Vrystaatse wetgewer verslag doen.

Volgens Van Rooyen moet die besluite wat die betrokke huis aanvaar het, so gou moontlik aan die onderskeie departemente oorgedra word sodat hulle dit voor die einde van die finansiële boekjaar ter sprake in werking kan stel. Van Rooyen het gesê die gebrekkige kommunikasie van die besluite aan die raad ry die doel van die komiteevergaderings in die wiele.

“Ons werk met ernstige aangeleenthede en die kantoor van die sekretaris ag die komitee nie as ernstig nie.

“Die komitee sal net geld verkwis deur tyd aan besluitneming oor die die uitkomste en voorstelle van die OG se verslae te bestee wat dan nie aan die betrokke partye oorgedra word nie,’ het Van Rooyen gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.