Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zakhele Mbhele skerm vir Dianne Kohler Barnard
Zakhele Mbhele. Foto: Nasief Manie

Dianne Kohler Barnard, DA-LP en ’n gewese joernalis, moet opgelei word oor hoe die media werk. Dit is een van die strafmaatreëls wat deur die DA se tugraad voorgestel is en deur die party se federale uitvoerende komitee oorweeg moet word.

Kohler Barnard, wat die DA se woordvoerder oor polisie was, het Vrydag in ’n DA-tugverhoor skuld beken aan wangedrag, dat sy die party in oneer gebring het en dat sy die party se beleid oor sosiale media verontagsaam het.

Dit kom nadat sy ’n Facebook-skrywe oor misdaad aangestuur het waarin geskryf is dat die land beter gevaar het onder die leierskap van PW Botha.

Die DA se federale komitee sal ’n spesiale vergadering hou om te besluit of die tugraad se strafmaatreëls toe­gepas gaan word.

Kohler Barnard is ook met R20 000 beboet, sy moet uit haar eie sak verskonings in vyf groot koerante laat plaas, en in haar nuwe pos as adjunkwoordvoerder oor openbare werke val haar jaarlikse salaris met R40 000. Sy is blykbaar ook haar posisie as adjunkleier van die DA in KwaZulu-Natal kwyt.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, sê die raad het gister gesit, maar ’n spesiale vergadering sal oor die saak gehou word. Die raad het blykbaar nog nie die tugraad se aanbevelings ontvang nie.

Kohler Barnard het navrae na adv. Glynnis Breytenbach, die DA se hoof van regsake, verwys.

 Zakhele Mbhele, Kohler Barnard se opvolger as woordvoerder oor polisie, sê intussen aan Rapport hy glo nie Kohler Barnard is ’n rassis nie. Haar plasing oor PW was liewer ’n “vergissing”. Mbhele is ontevrede met hoe die voorval verdraai en uit verband geruk is.

“Sy het ’n fout gemaak,” sê hy.

Hy het ook Donderdag, voor Kohler Barnard se tugverhoor, gesê Mmusi Maimane, die DA-leier, het lankal oorweeg om sy skimkabinet te skommel.

Mbhele (30) dien in sy eerste termyn as LP. Hy was Kohler Barnard se adjunk en sê hy het baie by haar geleer.

“Haar beste eienskappe is haar institusionele geheue en kennis van polisiëring. Ek sou graag nog by haar wou leer.”

Hy verwerp ook bewerings van DA-rassisme. “Gaan kyk maar net na die diversiteit in ons leierskorps en die feit dat iemand soos ek in die party kan gedy en ontwikkel.

“Ek was nog nooit aan die ontvangkant van enige rassistiese voorvalle nie,” sê Mbhele.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.