Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Aankondiging oor SAL ‘kom gou’, hoor LP’s

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, sal binnekort ’n aankondiging oor die SAL doen, het Phumulo Masualle, adjunkminister van openbare ondernemings, gesê.

Hy is Woensdag in die parlement deur LP’s gepeper met vrae oor die staatsbeheerde lugdiens ná ’n debat oor die jongste mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR).

Dr. Corné Mulder, VF Plus-LP, wou onder meer weet of daar spesifieke voorwaardes gekoppel is aan die aanpassings aan die begroting om onder meer reddingsboeie van R26 miljard aan Eskom, R5,5 miljard aan die SAL en R1,8 miljard aan Denel moontlik te maak.

Volgens Masualle is daar “inderdaad” voorwaardes gekoppel aan die aanpassings. Hy het egter nie verder daaroor uitgewei nie.

Phumulo Masualle, adjunkminister van openbare ondernemings. Foto: SON

Hy het in antwoord op ’n ander vraag gesê daar is ’n proses aan die gang om met alle rolspelers in die SAL-familie – die bestuur, die werknemers asook die verskaffers – te praat ten einde die lugdiens volhoubaar te maak.

Ashor Sarupen, DA-LP, het gesê die reddingsboei aan Eskom het die begrotingstekort wawyd oop geblaas. Die eindelose bedrae geld wat geleen word om sukkelende staatsentiteite aan die lewe te hou, moet deur Suid-Afrikaners terugbetaal word.

“Deur daarvoor te betaal, is die gebeurlikheidsreserwe van R13 miljard uitgewis. Die doel van so ’n reserwe is dat geld beskikbaar is vir ’n groot nasionale noodgeval. Pleks daarvan is dit uitgewis deur reddingsboeie.”

Volgens Sarupen moes die gebeurlikheidsreserwe eerder vir droogteverligting gebruik geword het. “Maar nou sien ons hoe landbou kwyn en dorpe wat Dag Zero bereik het met ’n regering wat nie juis besorg is daaroor nie.”

Wouter Wessels, VF Plus-LP, sê al wat die MTBR wys, is dat die land diep in die moeilikheid is omdat daar die afgelope 25 jaar toegelaat is dat alle staatsdepartemente en -entiteite in alle regeringsfere straffeloos geplunder is.

“Agbare voorsitter, die goue gans is moeg goue eiers gelê. Belastingbetalers kan nie die regering se mislukkings finansier nie.

“Ondernemings speel bankrot. Die landelike ekonomie is op sy einde omdat infrastruktuur verval en daar geen ekonomiese ontwikkeling is nie. Die feit van die saak is dat u staatmaak op inkomste van die private sektor om die ekonomie en die land te red. Maar hoe kan hulle as julle en jul rooi maatjies (die EFF) hulle heeltyd kritiseer?” het Wessels gesê.

Ondernemings speel bankrot. Die landelike ekonomie is op sy einde omdat infrastruktuur verval en daar geen ekonomiese ontwikkeling is nie.

Zola Mlenzana, ANC-LP, het tydens die MTBR-debat aan LPs gesê hulle moet tydens kiesafdelingswerk en hul Desember-verlof gewone landsburgers oor die ware stand van Suid-Afrika se geldsake inlig. “Ons moenie voorgee alles is goed en wel nie. Ons sukkel.”

Volgens hom ondersteun die ANC daarom die 2019-MTBR en die herkapitalisasie van staatsentiteite.

Hy het ’n beroep op die regering gedoen om die prys van elektrisiteit te verlaag en om die verouderende waterinfrastruktuur dringend te herstel.

Volgens hom verwelkom die ANC Tito Mboweni, minister van finansies, se veldtog van fiskale konsolidasie omdat dit sal verseker die land se skuld word nie na toekomstige generasies oorgedra nie.

Meer oor:  Phumulo Masualle  |  Pravin Gordhan  |  Reddingsboeie  |  Sal  |  Mtbr  |  Soe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.