Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Aanslag teen Springbok-embleem kry spoed

Die Springbok-embleem is net soos die ou Suid-Afrikaanse landsvlag “ ’n internasionale simbool van haat, wit heerskappy en apartheid”, sê ’n Oos-Kapenaar wat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) aanvat oor die “onwettige” gebruik en tentoonstelling daarvan.

Kanya Mdaka (39) van Beacon Bay in Oos-Londen dreig om Saru na die gelykheidshof te sleep en die hof te vra om die unie te beboet weens die vertoon van die embleem.

Hy sê in ’n beëdigde verklaring die beslissing deur die gelykheidshof in 2019 dat die vertoon van die ou landsvlag haatspraak is, beteken die “afstootlike” Springbok-embleem is net soos enige “apartheid-simbole van haat” onwettig.

Mdaka het aan Rapport gesê hy het oorspronklik beplan om Saru man­alleen te takel en sy aansoek teen die unie Vrydag by die gelykheidshof in Oos-Londen in te dien.

‘Gegewe dat dit steeds ’n broeiplek is vir verkramptheid.’

“Verskeie burgerlike, politieke organisasies en rugbyspelers het my intussen gekontak en aangedui hulle wil deel daarvan wees. Ek praat op die oomblik met hulle oor regsverteenwoordiging.”

Mdaka meen Saru maak hom skuldig aan haatspraak deur die Springbok-embleem te gebruik en eis dat die gelykheidshof ’n “gepaste” boete aan Saru oplê weens die “skade” wat hy daarmee aanrig. Mdaka wil hê die hof moet die embleem verbied in ooreenstemming met sy beslissing in 2019 dat dit haatspraak is om die ou landsvlag te vertoon.

Niemand moet volgens hom toegelaat word om die naam Springbokke en die Springbok-embleem binne of buite die landsgrense te gebruik nie.

Die gelykheidshof het die ou landsvlag in 2019 verbied nadat die Nelson Mandela-stigting ’n aansoek om ’n verklarende bevel gevra het. AfriForum is as ’n respondent by die saak gevoeg omdat dié burgerregte-organisasie se lede glo die ou vlag in Swart Maandag-protesoptogte teen plaasmoorde in 2017 vertoon het.

Regskenners het toe gewaarsku dat die verbod van simbole vreemde en gevaarlike presedente gaan skep en vryheid van spraak beperk.

Mdaka sê in sy verklaring hy nader die hof as ’n besorgde burger en ’n voorstander van ubuntu, wat die waardes van menseregte weerspieël.

Hy sê hy het Saru aan die begin van Julie in twee briewe gevra om in die lig van die uitspraak deur die gelykheidshof op te hou om die Springbok te gebruik. Mdaka sê in die briewe aan Saru dat die unie die Springbok-embleem in die vroeë sestigerjare met ander sportkodes in die land gedeel het. Die voorwaarde was dat dit slegs aan wit sportlui toegeken sou word.

Dit het daarna ’n internasionale simbool van haat, wit heerskappy en apartheid geword toe geen swartes behalwe “ereblankes” dit ingevolge wetgewing kon dra nie, sê hy. “Dit is juis daarom dat alle ander sportsoorte weggedoen het met die Springbokembleem en die Protea as die nasionale embleem aanvaar het.

“Dit is geen toeval dat rugby die uitsondering is nie, gegewe dat dit steeds ’n broeiplek is vir verkramptheid.”

Hy skryf Mandela se besluit om die Springbok-embleem te behou terwyl hy staatspresident was, was trouens ’n poging om die wit minderheid te paai wat ’n groot deel uitmaak van rugbyondersteuners en gekant was teen die idee van ’n demokrasie. “Dit is welbekend dat rugby as die laaste linie vir die behoud van Afrikaner-nasionalisme beskou word.”

Hy sê Mandela se pogings tot versoening het jammerlik misluk.

“Suid-Afrika bly ’n diep verdeelde samelewing en die behoud van simbole van wit heerskappy en apartheid sal nie help om hierdie groot kloof te verklein nie. Sulke simbole is anti-transformerend en dus onwettig.”

Mandela se besluit om die Springbok-embleem te behou was ondemokraties, maar dit kan in die konteks van daardie tyd geregverdig word om regse weerstand en ’n burgeroorlog te vermy, sê hy. “Die ANC het reeds in 2008 geëis dat Saru die gebruik van hierdie simbool van haat staak. Dit is duidelik nie ’n simbool wat die regering of die meerderheid landsburgers wil hê nie. Dit simboliseer die land se onderdrukkende geskiedenis en wek steeds negatiewe gevoelens by baie Suid-Afrikaners.”

Hy sê swart mense verdra net die simbool omdat hulle nie besef dat dit onwettig is nie. “Volgens die gelykheidshof se uitspraak is die vertoon van apartheidsimbole – wat die Springbok insluit – ’n skending van swart mense se gelykheid en waardigheid. Die vertoon van hierdie simbole verteenwoordig steun vir apartheidsmisdade en die onmenslike bestel van rasseskeiding en onderdrukking.

“Die ou landsvlag en die Springbokembleem is op dieselfde wyse onmenslik en pynlik vir mense wat onder apartheid gely het. As sodanig is die vertoon daarvan skadelik vir swart mense en dit bevorder weer haat.”

Andy Colquhoun, Saru-woordvoerder, het by navraag gesê hulle gaan met Mdaka oor sy griewe vergader.

Meer oor:  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.