Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Abrahams sê eers ná 15 Maart oor Zuma

Adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), sal die aankondiging oor sy besluit of hy oudpres. Jacob Zuma vir korrupsie gaan aankla eers ná 15 Maart bekend maak.

Dit is omdat hy gehoor gegee het aan ’n vroeëre versoek van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) dat hy hulle twee weke kennis sal gee voordat hy sy besluit bekend maak.

Adv. Shaun Abrahams. Foto: Jaco Marais

Indien Casac sy versoek terugtrek, kan Abrahams sy besluit moontlik vroeër bekend maak.

Casac sê hy wil in die lig van Abrahams se appèlsaak Woensdag in die konstitusionele hof in Johannesburg teen ’n uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria, nie oorhaastig besluit nie.

Abrahams appelleer teen ’n uitspraak deur ’n volbank regters van die hooggeregshof in Pretoria dat sy aanstelling as NDOV en dié van Mxolisi Nxasana, sy voorganger, ongeldig is.

Casac meen gegewe die onsekerheid oor Abrahams se posisie behoort hy nie oor Zuma te besluit nie.

Adv. Lawson Naidoo, uitvoerende hoof van Casac, het Maandagmiddag gesê Abrahams het hom Maandag laat weet hy sal eers ná 15 Maart ’n besluit neem.

“Dit suggereer dat ons ons versoek terugtrek. Hy (Abrahams) het egter nie so ’n versoek gerig nie,” sê Naidoo.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het vroeër Maandag gesê Abrahams sal Zuma se prokureurs en ander belanghebbende partye eers ná 15 Maart oor sy besluit in kennis stel.

City Press het Sondag berig die span van vyf senior aanklaers, wat die saak moes oorweeg, het Vrydag ’n eenparige aanbeveling aan Abrahams gestuur om Zuma te vervolg.

Adv. Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die NVG, kon nie sê wat die aanklaers se aanbeveling aan Abrahams was nie.

Pres. Jacob Zuma. Foto: Reuters

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag die presidensie se appèl – in dieselfde saak as Abrahams – teen die uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria in die konstitusionele hof teruggetrek.

In ’n brief wat Vrydagmiddag by die griffier van die konstitusionele hof ingedien is, het die staatsadvokaat

die hof van Ramaphosa se besluit in kennis gestel.

Prof. Pieter Labuschagne, ’n regs- en politieke kenner van Unisa, sê Ramaphosa se besluit het Abrahams se posisie verswak.

Zuma het as president appèl aangeteken, maar Ramaphosa het intussen staatshoof geword nadat Zuma onder groot druk bedank het.

Labuschagne sê Abrahams kan voortgaan met die appèl, maar dit is nou hy, en nie die staat en die regering nie, wat appelleer.

“Die koste is enorm en hy sal self daarvoor verantwoordelik wees.”

Ramaphosa se besluit, wat Vrydagmiddag bekend gemaak is, is die duidelikste aanduiding tot dusver dat Ramaphosa van plan is om Abrahams af te dank en ’n nuwe NDOV aan te stel.

“Abrahams se posisie is uiters wankelrig, want wesenlik beteken dit dat Ramaphosa hom nie steun nie,” sê Labuschagne.

“Hy (Abrahams) is op sy spreekwoordelike laaste bene sonder geloofwaardigheid – ten spyte daarvan dat hy sy lojaliteit van Jacob Zuma na Cyril Ramaphosa probeer swaai het.”

Meer oor:  Shaun Abrahams  |  Jacob Zuma  |  Besluit  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.