Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ACDP, Cope wil Bobani uit die kussings lig
Mongameli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro.

Lance Grootboom van die ACDP en die Cope-raadslid Siyasanga Sijadu het ’n mosie ter tafel gelê dat Mongameli Bobani van die UDM uit sy amp as burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro onthef word.

Die mosie word op 6 Desember aangehoor.

In ’n brief aan Buyelwa Mafaya, die speaker, skryf Grootboom dat die bewerings van korrupsie en bedrog teen Bobani ernstig en in die openbare belang is.

The Herald het vroeër berig dat Bobani glo geïmpliseer word in ’n ondersoek deur die Valke na bedrog in die metro se geïntegreerde openbare vervoer-stelsel.

Luidens die berig het The Herald ’n beëdigde verklaring van die Valke bekom wat beskryf hoe Bobani R664 000 van ’n maatskappy, wat van geldwassery beskuldig word, gekry het. Dié geld was vir die metro se busdiens geoormerk.

Netwerk24 het voor dit berig dat die burgemeester se kantoor in Oktober deur lede van die direktoraat vir prioriteitsmisdade deurgesoek is. Volgens die Valke se woordvoerder, Hangwani Mulaudzi, het hulle toe op dokumente en elektroniese toerusting beslag gelê.

“Die beslaglegging hou verband met bewerings van korrupsie, bedrog en geldwassery in die metro. Niemand is in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek sal bespoedig word sodat die verdagtes in die hof kan verskyn,” het hy gesê.

Grootboom skryf die bewerings van korrupsie teen Bobani skaad beleggersvertroue. “Dit sal nie tot voordeel van die metro wees nie, veral nie as raadslid Bobani die uitvoerende burgemeester bly nie. As hy weens bedrog aangekeer word terwyl hy die pos beklee, sal dit die metro in die verleentheid bring,” meen Grootboom.

Volgens Mafaya is die mosie egter nog nie ingedien nie. “Dalk is dit in my kantoor, maar ek het dit nog nie onder oë gehad nie,” het sy gesê.

Grootboom het ook ’n ope brief aan die UDM se koalisievennote, die ANC, EFF, AIC en UF, geskryf waarin hy vra dat hulle inwoners van die metro se belange eerste stel.

Volgens hom mag die partye nie toelaat dat die metro deur die dreigende inhegtenisneming van Bobani in die verleentheid gestel word nie.

“As die ANC, EFF en die AIC aanhou om raadslid Bobani teen die bewerings te beskerm, sal hulle ook deur die beweerde korrupsie besmet word.

“Al die partye wat in die raad verteenwoordig word, moet in die belang van die inwoners van die metro optree en nie hul party eerste stel nie. Die inwoners van ons stad is belangriker as enige party,” het hy bygevoeg.

Meer oor:  Mongameli Bobani  |  Cope  |  Politiek  |  Acdp  |  Udm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.