Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace eis: ANC moet nuwe leiers kies

Terwyl bitter trawante van Ace Magashule sê hy is nie naastenby die mees korrupte kader nie en planne beraam vir ’n vervroegde kieskonferensie en selfs ’n wegbreekparty, is Magashule verneder toe die ANC se hoogste liggaam, die nasionale uitvoerende komitee (NUK), hom gister uit ’n vergadering geskop het wat hy verbied is om by te woon.

Ace Magashule vroeër vanjaar buite die hof. Foto: Alet Pretorius

Dié ongekende repudiëring het gevolg nadat Magashule Donderdag opgedaag het by Luthuli-huis, die Johannesburgse ANC-hoofkwartier waar hy tot ’n week gelede nog die magtigste man was, net om te besef sy toegangskaart is geblokkeer.

Ná sy skorsing Maandag uit sy pos het steun vir Magashule ineengestort en selfs die ANC-vroueliga het hom die naweek versaak, ondanks sterk steun vir hom van die voorsitter, Bathabile Dlamini. Vandag dreig boonop ’n mosie om Magashule permanent uit die ANC te skop en sy ondersteuners is woedend.

Dakota Legoete, ’n voormalige woordvoerder van die ANC, het in Saterdag se gespanne NUK-vergadering gesê Magashule is die teiken van ’n heksejag. “Baie van ons is, in terme van korrupsie, baie erger as hy,” het Legoete gesê.

Benewens sy skorsing Maandag is Magashule die afgelope week eenkant geskuif wat die reël van party-aktiwiteite betref. Nadat hy Donderdag toegang tot Luthuli-huis en die parkeerkelder onder die gebou belet is, het die ANC se topses-amptenare Vrydagoggend ’n aanlyn vergadering gehou om die sakelys op te stel vir die naweek se NUK-vergadering, wat gister begin het en tot môre aanhou.

Magashule het nie ’n elektroniese uitnodiging na dié vergadering of ’n PIN ontvang wat hom in staat sou stel om deel te neem nie. Hy het ook geen uitnodiging gekry na gister se aanlyn NUK-vergadering nie.

“Ons het gereël dat een van ons vir hom ’n PIN sal gee,” het ’n bron in die party se “radikale ekonomiese transformasie” (RET)-faksie Saterdag aan Rapport gesê.

Sy rebelse houding het gesindhede teen hom verhard.

Verskeie NUK-lede het kapsie gemaak toe Magashule kort ná 11:00 in die vergadering opgemerk is en geëis dat hy padgee totdat sy appèl teen sy skorsing afgehandel is.

Magashule is Maandag deur Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal, tydelik van al sy pligte in die ANC onthef. Hy is op 29 Maart 30 dae gegee om sy pos te ontruim weens 70 aanklagte van onder meer bedrog, korrupsie en geldwassery teen hom, maar het geweier.

Luidens Duarte se brief mag Magashule tans geen pligte of verantwoordelikhede van sy amp uitvoer nie.

Hy mag ook nie die ANC in die openbaar of op enige platform verteenwoordig, hom oor enige ANC-aangeleenthede uitlaat in die openbaar of enige ANC-strukture, ander organisasies of individue mobiliseer oor die feit dat hy opsy moet staan nie.

NUK-lede wat kapsie teen Magashule se teenwoordigheid gemaak het, het beweer hy skend dié voorwaardes. Hy is toe uitgegooi.

Tydens die vuurwarm debat wat gevolg het, is ook adv. Bongani Bongo, die voormalige minister van staatsveiligheid wat op korrupsieklagte in Mpumalanga teregstaan, Saterdagmiddag laat uit die vergadering geskop.

Legoete wou onder meer tydens die bekgeveg weet of Ramaphosa hoegenaamd die reg het om die vergadering toe te spreek. “Ek het ’n skorsingsbrief gesien (en is) nie seker of hy steeds ons president is en of hy geskors is nie,” het Legoete gesê.

Magashule het Woensdagaand ’n ope brief gesirkuleer waarin hy Ramaphosa skors omdat dié en sy ondersteuners met sy CR17-presidentsveldtog “geld ingesamel het in ’n poging om die (ANC-) takke te kry om jou uiteindelik as ANC-president te verkies”.

Slegs die NUK kan besluit of ’n lid geskors word, het Duarte gesê.

Die laaste ANC-vergadering wat Magashule die reg gehad het om by te woon was Maandag s’n van die nasionale werkkomitee (NWK). Daar het Magashule sy kollegas formeel ingelig hy sal nie opsy staan nie en dat net ’n spesiale konferensie hom kan skors.

Magashule en sy bondgenote het die afgelope week probeer steun wen vir ’n vervroegde konferensie by onder meer die vroueliga, wat vir so iets sou kon vra. Op ’n spesiale konferensie kan leiers weer verkies en uitsluitsel verskaf word oor die opsystaan-resolusie oor lede wat van misdade aangekla word.

Indien ’n spesiale konferensie nie kan plaasvind nie, eis Magashule-ondersteuners ’n vervroegde hoofraadsvergadering (HRV).

Dié voorstelle kan vandag en môre in die NUK gemaak word, maar volgens Rapport se susterkoerant, City Press, kan Magashule slegs op die steun van 29 van die 86 NUK-lede reken. As dit platval, is daar “min twyfel dat Magashule aanstaande week reeds met ’n dringende hofinterdik sal begin” om sy pos terug te kry, het ’n RET-bron gesê.

Legoete het op Saterdag se vergadering bewerings herhaal wat Magashule Vrydagaand in ’n TV-onderhoud met die SAUK gemaak het oor korrupsie in die toekenning van ’n kontrak aan die Shanduka-trust vir die bou van skole in die Vrystaat. Ramaphosa het voorheen in die Shanduka-trust se direksie gedien.

Magashule se rebelse houding het gesindhede teen hom laat verhard.

Rapport verstaan dat Mondli Gungubele, voormalige adjunkminister van finansies, Sondag ’n versoek sal rig dat Magashule ingevolge art. 25.17 van die ANC-grondwet permanent geskors word uit die party. Die voorstel word sedert Woensdagaand druk bespreek en wyd gesteun.

Die artikel bepaal dat ANC-lede wat hulself skuldig maak aan faksie-aktiwiteite, soos om mediaverklarings sonder toestemming uit te reik, uit die party geskors kan word.

’n Tweede bron sê Magashule se TV-onderhoud Vrydag het “verder petrol op die vuur gooi”.

“Daar’s in sy skorsingsbrief ’n duidelike instruksie dat hy nie met die media moet praat nie,” sê die bron.

“Dis ’n diep verdelende brief en ’n groot verleentheid. As ons nie op die sterkste moontlike manier daarteen optree nie, kan dit die einde van die ANC beteken,” het ’n voorste lid van die NUK aan Rapport gesê.

Gesprekke oor Magashule se lot sal na verwagting Sondag en Maandag plaasvind.

Terwyl hy tot onlangs nog kon reken op ’n mate van steun in die ANC-vroueliga, het ’n ligavergadering Vrydagaand in chaos ontaard toe Bathabile Dlamini, die voorsitter, gevra het die vroueliga moet ingryp by die resolusie oor lede wat opsy moet staan.

Volgens bronne het Dlamini, ’n bondgenoot van Magashule, die liga gevra om die NUK te vra om die opsystaan-besluit uit te stel om die ANC te “verenig”.

Vroueliga-lede was egter briesend oor hierdie versoek, veral omdat hulle voel Magashule ondersteun nie vroueliga-lede wat gevra is om opsy te staan nie.

Gisteroggend het die vroueliga in ’n verklaring deur sy sekretaris-generaal, Meokgo Matuba, gesê hulle sal nie “enige individuele leier van die ANC” ondersteun nie.

Die vroueliga vra Magashule moet dit oorweeg “om nederig te bly terwyl organisatoriese prosesse ontvou”.

City Press berig dat Magashule wel die steun van sowat 100 ANC-takke in die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes gekry het wat gaan aandring dat sy skorsing opgehef word.

Misluk dit, sal hierdie takke vra vir ’n vervroegde HRV of spesiale konferensie.

Magashule self het Saterdag aan Eyewitness News gesê hy is steeds sekretaris-generaal en dat sy skorsing nie geld nie omdat hy teen die besluit appelleer.

Die ANC het nog nie appèlriglyne vir sy opsystaan-besluit aangekondig nie. Dit word vandag bespreek.

Rapport verneem dat ANC-veterane soos Johnny de Lange, Brigitte Mabandla, Vusi Khanyile, Barbara Masekela en Josiah Jele sal deel vorm van ’n appèlkomitee wat elke lid se saak moet oorweeg.

’n Lys van meer as 60 ANC-lede, waaronder verskeie stadsraadslede, wat opsy moet staan is Saterdag by die NUK ingedien. Gauteng en die Vrystaat het nie lyste ingedien nie.

Van die lede, soos Mike Mabuya­khulu, ondervoorsitter van die ANC in KwaZulu-Natal, en Kgotso Khumalo, burgemeester van die JB Marks-munisipaliteit in Noordwes, het reeds die besluit gehoorsaam. Ander, soos Bongo, het aangedui hulle sal appelleer. Diegene wat opsy staan se status kan elke ses maande hersien word. Hulle kry steeds ’n salaris.

In KwaZulu-Natal het die RET-groep afgespreek om vandag in Pietermaritzburg saam te trek en die NUK-vergadering daar te volg. NUK-lede in die provinsie sal die saamtrek bywoon en omstanders sal die vergadering op hul rekenaarskerms kan volg.

“Daar word taamlik openlik gepraat oor die stigting van ’n nuwe party wat die oorspronklike oogmerk van ekonomiese transformasie najaag. ’n Naam wat oral byval vind, is die SANC – South African National Congress. Dis dieselfde afkorting as die SA Native Congress, die oorspronklike naam van die ANC,” het Rapport se bron gesê.

Meer oor:  Bathabile Dlamini  |  Ace Magashule  |  Dakota Legoete  |  Jessie Duarte  |  Nuk  |  Ret-Faksie  |  Vroueliga  |  Korrupsie  |  Anc  |  Skorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.