Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace: Ek sal in die ANC bly en sterf
Ace Magashule Foto: Jabu Kumalo

“Ek sal in die ANC bly en sterf.”

Dít was Donderdagmiddag Ace Magashule, beleërde ANC-sekretaris-generaal, se reaksie buite oudpres. Jacob Zuma se Nkandla-woonkompleks in KwaZulu-Natal op vrae van joernaliste oor of die huidige interne verdeeldheid oor die “opsystaan”-kwessie nie die ANC kan laat skeur nie.

Magashule veg tans om politieke oorlewing nadat pres. Cyril Ramaphosa en die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) einde Maart vanjaar besluit het dat alle ANC-lede wat weens korrupsie en ander ernstige misdaad teregstaan, einde April hul poste moet ontruim.

Magashule het Zuma Donderdag aan huis besoek as deel van sy planne om dié 30-dae-tydperk te gebruik om oud-ANC-leiers oor sy politieke lot te “konsulteer”.

Zuma is in sy eie omstrede persoonlike stryde gewikkel met die regbank en die Zondo-kommissie oor sy beweerde aandeel in staatskaping.

Magashule is die ANC-leier met die hoogste profiel wat regstreeks deur die opsystaan-besluit geraak word. Hy staan tans tereg op aanklagte van korrupsie, geldwassery en bedrog weens die sogenaamde asbekdak-tenderskandaal in sy termyn as Vrystaatse premier.

Hy het nie Donderdag uitgewei oor of hy wel op 1 Mei uit sy pos sal wees nie.

Donderdagmiddag was ook die spertyd vir alle provinsiale ANC-sekretarisse om hul lyste met name van diegene wat hul poste moet ontruim aan die ANC-hoofkwartiere, Luthuli-huis, te verskaf.

Talle ANC-lede uit veral die Vrystaat, Magashule se tuisprovinsie, het Donderdag ook met plakkate voor Luthuli-huis betoog en daar onder meer geëis dat Ramaphosa en ander ANC-leiers ook hul poste ontruim.

Dié kwessie is een van verskeie wat die interne tweespalt en verdeeldheid tussen ondersteuners van Ramaphosa en Magashule in die ANC die hoogte in laat skiet het.

Magashule het Donderdag verder in Nkandla gesê dat dit nie die eerste keer is dat die ANC so verdeeld oor ’n kwessie is nie en “wat ook al die omstandighede, wat ook al gebeur, ek sal doodgaan in die ANC. Ek sal nooit ’n ander politieke party vorm nie. Dit is hoe gedissiplineerd ek is.”

Volgens hom het hy en Zuma ’n “wonderlike vergadering” gehad en oor verskeie kwessies gepraat van onder meer die “politiek van revolusies” en ANC-ideologie tot oor “daardie oomblikke (in die destydse bevrydingstryd) waar die lewe en die dood ons in die gesig gestaar het. Dit was wonderlik. Julle kan sien hoe lewenslustig ek is. Ek spring op en af soos ’n tennisbal.”

Hy ontken egter dat hy NUK-besluite aangepas het nadat hy op 9 April vanjaar in ’n uitgelekte interne brief aan ANC-provinsies versoek het dat hulle teen Donderdag die name aan sy kantoor moes verskaf van alle ANC-lede wat van korrupsie en ander ernstige misdaad aangekla word, sowel as diegene wat by korrupsie geïmpliseer word.

Magashule meen dít is wat die ANC se konferensie- en NUK-besluite sê “as dit saamgevoeg word”.

Ramaphosa en die ANC se nasionale werkkomitee het egter Woensdag daaroor teruggekap en dit duidelik gemaak dat net ANC-lede wat van korrupsie en ander ernstige misdaad aangekla word, hul poste moet ontruim.

Intussen het Pule Mabe, ANC-woordvoerder, Donderdag aan Newzroom Afrika gesê dit sal eers by die volgende NUK-vergadering bekend word of alle ANC-provinsies hul lyste teen die spertyd ingedien het. Dit is omdat ’n verslag daaroor dan eers aan die NUK voorgelê sal word.

Dennis Cruywagen, Wes-Kaapse ANC-woordvoerder, het Donderdag bevestig dat dié provinsie sy lys met name teen die spertyd sou indien. “Watter prosesse daarna moet volg, sal deur die ANC bepaal word.”

Mandla Ndlovu, waarnemende ANC-voorsitter in Mpumalanga, het egter aan Newzroom Afrika gesê dat dié provinsie om uitstel sal vra om meer “duidelikheid” oor die kwessie te kry.


Meer oor:  Ace Magashule  |  Opsystaan  |  Anc  |  Anc-Faksies  |  Jacob Zuma  |  Nkandla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.