Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace en Zwane moet voor Zondo kom getuig oor Vrede

Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat, en Mosebenzi Zwane, voormalige LUR van landbou van dié provinsie, sal hul weergawe van wat gebeur het met die Estina-suiwelprojek aan die Zondo-kommissie moet kom verduidelik.

Adv. Leah Gcabashe SC, getuienisleier van die kommissie, het Woensdagmiddag gesê kennisgewings is reeds aan ’n aantal betrokkenes gestuur, onder andere Magashule en Zwane, maar hul verskyning voor die kommissie moet nog uitgesorteer word.

Ephraim Dhlamini
Ephraim Dhlamini (regs), ’n inwoner en boer van Thembalihle naby Vrede, en Meshack Ncongwane, ook ’n boer van die omgewing, het Woensdag voor die Zondo-kommissie na staatskaping getuig. Foto: Felix Dlangamandla

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie wat staatskaping ondersoek, sê die kommissie se regspan moet diegene kontak wat nog oor die suiwelprojek moet getuig. Daar moet aan hulle genoem word dat dit belangrik is dat hul weergawe van gebeure gehoor word.

Zondo het ’n dag van opspraakwekkende getuienis voor die kommissie met dié opdrag aan die regspan afgesluit.

Vroeër in die dag het Ephraim Dhlamini, ’n inwoner en boer van Thembalihle by Vrede, getuig indien ’n mens in Vrede praat oor Zwane “is jou lewe in gevaar”.

Dhlamini het getuig hy vrees vir sy lewe. Hy het gesê dit is hoekom hy nou voor die Zondo-kommissie getuig – hy wil praat voordat hy doodgemaak word.

“Hulle sê ons moet doodgemaak word. Ons weet wanneer die tyd kom, sal ons doodgaan,” het Dhlamini gesê.

Hy het getuig dat Zwane “ ’n spioen” het wat alles probeer uitvind.

Dhlamini het getuig oor talle mense wat op verskillende maniere by die Estina-projek betrokke was wat reeds vermoor is. Hy het getuig daar was mense wat gesê het hy en nog ’n boer, Meshack Ncongwane, moet doodgemaak word omdat hulle die ander begunstigdes van die projek help om meer bewus te word van hul regte.

Volgens Dhlamini het hy ’n video waarin genoem word dat ’n huurmoordenaar gekry moet word om hom dood te maak. Op die video sê iemand hy is bereid om Dhlamini dood te maak.

“Ek sal nie alleen doodgaan nie,” het Dhlamini gesê.

Hy het ’n vuurwapen gekoop en het aan sy kinders gesê as iemand na sy plaas kom, sal hy nie alleen doodgaan nie.

Hy het ook getuig dat hy nie die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, vertrou nie. Sy het haar eerste verslag oor die Estina-projek uitgebring sonder om die begunstigdes te konsulteer.

Dhlamini het gesê hy wonder hoe sy die inligting vir die eerste verslag gekry het.

“Waar het sy haar inligting gekry? Met wie het sy gepraat?”

Zondo het Dhlamini daarvoor bedank dat hy na die kommissie gekom het om te getuig, veral in die lig van die dreigemente teen sy lewe.

Ook die Valke het niks gedoen nadat hy die opname aan hulle aangestuur het waarin die huurmoordenaar sê hy is bereid om hom te vermoor nie.

Dhlamini het ook getuig die begunstigdes het by die Valke verklarings oor die projek afgelê.

Zondo het gevra of die Valke genoem het wat hul planne met die verklarings was en wanneer hulle daaroor sou terugrapporteer. Dhlamini het nee geantwoord.

Zondo het ook gevra of daar sedertdien enige korrespondensie tussen die Valke en die begunstigdes was.

Dhlamini het geantwoord behalwe toe hy gebel het en gesê het dat hy gedreig word, was daar geen ander kontak met of terugvoering van die Valke nie.

Gcabashe het gesê die kommissie se ondersoekers se kontak met die Valke is nie baie suksesvol nie.

Zondo het hierop gesê indien daar enige probleme is met die Valke wat nie wil saamwerk nie, moet hy daarvan ingelig word.

Hy het ook opdrag gegee dat die kommissie moet kyk na watter beskerming aan Dhlamini gegee kan word.

Zondo het Dhlamini daarvoor bedank dat hy na die kommissie gekom het om te getuig, veral in die lig van die dreigemente teen sy lewe.

“Daar is baie mense in die land, sommige in hoë poste in die staat, wat baie moet weet oor die ondersoeke van die Zondo-kommissie. Hulle kom nie na vore en sê wat hulle weet nie. Hulle gee voor dat hulle die kommissie ondersteun, maar steeds weerhou hulle baie noodsaaklike inligting wat die kommissie in sy ondersoek kan help,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.