Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace-faksie wil land ‘sluit’ totdat Cyril knak

Terwyl dit lyk asof Ace Magashule, voorlopig geskorste sekretaris-generaal (SG) van die ANC, al hoe meer geïsoleerd in die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) is, is daar massiewe mobilisasie vir steun vir hom in die Vrystaat, eThekwini (Durban) en Noordwes aan die gang.

Ingeligtes in die ANC-faksie vir radikale ekonomiese transformasie (RET), wat Magashule ondersteun, sê ’n grootskaalse “sluiting” van die land word van 17 Mei af beplan totdat die president en sy “kabaal” hul poste ontruim het.

Die groep het reeds die naweek vergader in die Vrystaat, waar vier van die vyf streke hulle by Magashule skaar, en slegs Mangaung die president ondersteun.

Ace Magashule met sy hofverskyning in die hooggeregshof in Bloemfontein op 13 November 2020. Foto: Reuters

’n Vergadering is ook Sondag in eThekwini gehou, waar gepraat is oor die opsystaanreël, oudpres. Jacob Zuma wat deur tronkstraf in die gesig gestaar word, en die skorsing van Magashule. eThekwini staan glo bankvas agter Magashule en Zuma.

Dit is te midde van die groot besluite wat Maandag op die NUK se vergadering geneem moet word oor appèlprosesse vir diegene wat opsy moet staan, die finansies van die ANC, dat 50% van die personeel in Luthuli-huis moontlik afgelê sal moet word, en geldinsamelingsveldtogte vir die verkiesing op 27 Oktober vanjaar.

Prof. Hussein Solomon, hoof van die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê Ramaphosa het baie strategies te werk gegaan op die NUK-vergadering die naweek omdat dit nie net Magashule is wat nié tot die vergadering toegelaat is nie, maar ook Bongani Bongo, oudminister van staatsveiligheid.

“Hoewel Ace steun gekry het van Dakota Legoete, ’n ANC-woordvoerder van die Vrystaat by die NUK, was daar bitter min ander steun vir hom, behalwe ook dié van Carl Niehaus, sy bondgenoot van Luthuli-huis, en Tony Yengeni, wat een ding in gemeen het, en dit is dat hulle albei in die tronk was.”

Hy sê selfs Bathabile Dlamini, leier van die ANC-vroueliga, het haar meer by Ramaphosa geskaar “omdat sy weet aan watter kant haar brood gebotter is”, en ’n beroep op Magashule gedoen om nie verder verleentheid vir die ANC te veroorsaak nie.

“Verder het adj.pres. David Mabuza, Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal, die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party en Cosatu, asook die ANC-jeugliga, wat ook besig is om met Ramaphosa-ondersteuners te herposisioneer, hulle almal by die president geskaar.

“Ek dink ook dat Magashule twee keer sal dink voordat hy ’n eie party probeer vorm omdat hy dan nie meer toegang tot die patriargale netwerke en staatshulpbronne van die ANC sal hê nie. Hy sal soos Cope in ’n doodloopstraat beland.”

Prof. Hussein Solomon

Solomon sê oudpres. Thabo Mbeki het ook sy kommer op die NUK-vergadering uitgespreek dat Magashule kan wegbreek en ’n ander party kan probeer stig, maar hy dink persoonlik nie dat hy dit sal doen nie.

Hy sê Magashule loop ook die gevaar om finaal deur die ANC se integriteit- en tugkomitee geskors te word oor die minagting wat hy getoon het deur die president te “skors”.

Solomon meen Magashule is nou “desperaat” omdat sy ondersteuners, soos Lindiwe Sisulu (minister van menslike nedersettings, water en sanitasie), wat aspirasies het om president te word, ook die naweek “stil” was.

Solomon sê dan is daar ook nog adv. Shamila Batohi van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) wat gesê het dat daar binnekort nog groot inhegtenisnemings in die Vrystaat in die Magashule-faksie kan kom.

Prof. André Duvenhage

• Intussen sê prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, dat hy ook bewus is van mobilisasie wat aan die gang is. Ook in Noordwes, waar Supra Mahumapelo, voormalige premier, vir vyf jaar uit die party geskop is.

Daar is nou twee scenario’s: Óf die Magashule-faksie bly in die ANC en probeer alles ontwrig en die president ondermyn, “daar gaan dan nie ’n kliniese, chirurgiese snit kom wat die kanker uit die ANC sny sodat daar ’n gesonde organisasie navore kom nie”, óf hulle gaan wegbreek en ’n nuwe party saam met die ATM (African Transformation Movement), Black First Land First (BLF), EFF en ander groeperings stig.

Meer oor:  Bedrog  |  Politiek  |  Opsystaan  |  Anc  |  Anc-Faksies  |  Ace Maga­Shule
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.