Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace, gaan getuig voor Zondo – ANC-kollega

Hy sal Ace Magashule, sy eertydse premier en medelid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), aanmoedig om sy woord gestand te doen en na die Zondo-kommissie vir staatskaping te gaan “om homself te verduidelik”.

Só sê Playfair Morule, Suid-Afrika se gewese hoë kommissaris in Indië (2012-’17), oor die ernstige bewerings van staatskaping en korrupsie wat teen Magashule, die ANC se sekretaris-generaal en die eertydse Vrystaatse premier, gemaak word in die boek Gangster State: Unravelling Ace Magshule’s Web of Capture.

Ace Magashule Foto: Deaan Vivier

Morule, oudburgemeester van Mangaung, sê hy is self bereid om voor die Zondo-kommissie te getuig oor die bewerings wat Pieter-Louis Myburgh in sy boek oor hom maak.

Volgens hom het sy vrou hul konstruksiemaatskappy, People First, oorgeneem nadat hy burgemeester geword het. Altesaam 400 HOP-huise is aan hulle toegeken, maar toe Magashule premier geword het, is dit tot 200 huise verminder. Hulle het egter nooit die geld vir die eerste 15 fondamente gekry nie, en die maatskappy moes sy deure sluit toe hy na Indië vertrek het.

“Alles het verander toe Ace premier geword het,” het hy gesê met verwysing na tenders, toegang tot Magashule en hoe hy verander het toe hy die mag gehad het.

Morule het in ’n onderhoud gesê hy was ná sy terugkeer uit Indië werklik geskok om te verneem van die bewerings van staatskaping in die Vrystaat en die land. Hy het gerugte gehoor, maar hier het hy dit gesien en ook in die boek daarvan gelees.

Ace is op rekord dat hy bereid is om voor die Zondo-kommissie te gaan getuig. Oor die baie dinge waarvan ek in die boek lees, is ek geskok.

“Ace is op rekord dat hy bereid is om voor die Zondo-kommissie te gaan getuig. Oor die baie dinge waarvan ek in die boek lees, is ek geskok. Ek is werklik geskok. Dit is ’n groot bron van kommer.

“Wat my die meeste geskok het, is die wydverspreide plundertog in die regering. As jy ook deur die ouditeur-generaal se verslae oor die stand van finansies in die Vrystaat lees, is dit aaklig, skokkend. Omtrent 100% van die munisipaliteite in die Vrystaat is wanfunksioneel.”

Morule sê hy moedig almal aan wat van dié plundery en korrupsie kennis dra, om voor die kommissie te gaan getuig.

“Diegene wat bewus is van die kaskenades in die regering in die vorm van grootskaalse diefstal van openbare geld, nepotisme, bevoorregting, werk vir familielede en vriende, die intimidasie van eerlike en professionele amptenare en die viktimisering van diegene wat nie gehoor gee daaraan nie, soos voor die Zondo-kommissie getuig is, totdat hulle ontslaan is en hulle en hul gesinslede se lewe verwoes is, moet gaan getuig.”

Playfair Morule

Morule was geskok om te hoor van Moses Tshake, die senior rekenmeester van die Vrystaatse departement van landbou, wat vermoor is omdat hy durf vrae vra het oor die skema.

“Dit is die elemente van ’n mafiastaat. Vir die doeleindes van die toekoms van ons land en die Vrystaat moet die wetstoepassingsowerhede tot by die bodem van hierdie bewerings krap en diegene wat aan die verkeerde kant van die wet betrap word, moet gevonnis word tot ’n baie lang tronkstraf om te wys dat misdaad nie betaal nie.

“Die bewyse wat aan die Zondo-kommissie voorgehou is en in die boek Gangster State gestel word, en wat ons van die Mpati-kommissie (ná onbehoorlike optrede by die Openbare Beleggingskorporasie) en die Nugent-kommissie hoor, bedreig beleggersvertroue.”

As iemand wat vir ’n lang ruk in Magashule se binnekring was, sal hy hom aanmoedig om sy woord gestand te doen en na die Zondo-kommissie gaan om “homself te verduidelik”, het Morule gesê.

Hy sal egter ook Magashule se standpunt verdedig wat hy ingeneem het dat hy Myburgh voor die hof sal bring, want dit is waar die bewerings wat in die boek gemaak word, getoets word.

Op ’n vraag of die land ná ’n dekade van staatskaping nog gered kan word, is sy antwoord: “Ja, dit kan en sal deur pres. Cyril Ramaphosa gered word.”

Morule sê daar is geen kans dat Magashule se sogenaamde staatskapingslys die ANC se parlementêre koukus kan kaap en ’n mosie van wantroue in Ramaphosa deurgevoer kan word nie.

“Dit is net ’n storie. Die mense wat dit probeer, sal doodgedruk word en die daad sal in die asblik van die geskiedenis beland.”

Volgens hom sal die vertroue in die regering herbou word met die stappe wat Ramaphosa doen, soos die aanstelling van die nuwe hoof van die nasionale vervolgingsgesag, adv. Shamila Batohi.

“Diegene wat die wet ontduik het, sal aangekla en voor die hof gebring word,” sê hy.

Selfs Ace Magashule?

“Ek sê enigiemand. Enigiemand. Ek is nie spesifiek nie. Enigiemand. Sy het beklemtoon daar sal ’n fokus op hoëprofielmense wees.”

Meer oor:  Anc  |  Ace Magashule  |  Getuig  |  Zondo-Kommissie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.