Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace gee nuwe opdragte oor opsystaan-lys

Alle ANC-leiers en -lede wat van korrupsie en ander ernstige misdade aangekla word, sowel as diegene teen wie bewerings van korrupte praktyke gemaak of aangemeld is of wat daarby betrek word, moet deel wees van die lys van partylede wat hul poste moet ontruim.

Dít is Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, se duidelike opdrag aan alle provinsiale ANC-sekretarisse in ’n uitgelekte interne brief van 9 April vanjaar.

Magashule moet self oor twee weke sy pos ontruim omdat hy weens beweerde korrupsie, geldwassery en bedrog in die sogenaamde Vrystaatse asbekdak-skandaal in ’n hof teregstaan.

Hy skryf verder in die brief dat die ANC-provinsies Donderdag teen 17:00 hul lyste met name by sy kantoor moet indien.

Magashule se versoek kan egter lei tot verdere wrywing in die ANC tussen sy ondersteuners en dié van pres. Cyril Ramaphosa omdat dit strydig is met die nasionale uitvoerende komitee (NUK) se “opsystaan-besluit”, wat Ramaphosa op 29 Maart aangekondig het.

Ramaphosa het dit toe duidelik gemaak dat alle ANC-lede wat “van korrupsie en ander ernstige misdade aangekla word”, hul poste binne 30 dae moet ontruim. Indien nie, sal hulle geskors word.

Zamani Saul, ANC-voorsitter in die Noord-Kaap en provinsiale premier, het Dinsdag aan eNCA gesê die NUK het dit duidelik gemaak “dat almal wat op strafregtelike aanklagte teregstaan binne 30 dae opsy moet staan”.

Volgens Saul, ’n NUK-lid en ’n Ramaphosa-ondersteuner, is die verwagting dat almal wat geraak word, hul poste sal ontruim.

Hy het bygevoeg dat die NUK ingevolge die ANC-grondwet die mag het om enigiemand te skors wat weier om sy of haar pos vrywillig te ontruim. “Dit is waarheen ons op pad is as iemand weier.”

Magashule het vroeër gesê dat hy eers oud-ANC-leiers, onder wie oudpres. Jacob Zuma, oor sy lot wil raadpleeg.

Hy het Dinsdagaand getwiet dat hy vroeër die dag met Matthews Phosa, oud-tesourier-generaal van die ANC, daaroor gekonsulteer het en volgende Donderdag met “pres. Zuma” sal vergader.

Intussen het dr. Ntsikelelo Breakfast, ’n politieke ontleder van die Nelson Mandela-Universiteit, Dinsdag gesê dat dit “nie sin maak” dat Magashule opdragte aan provinsiale sekretarisse kan gee as hy self van korrupsie beskuldig word nie.

“Daardie brief is egter deel van ’n politieke magspel oor die opsystaan-besluit in die ANC. Dit is omdat die party nooit duidelikheid oor die administratiewe proses daarvoor verskaf het nie.”

Daardie brief is egter deel van ’n politieke magspel oor die opsystaan-besluit in die ANC. Dit is omdat die party nooit duidelikheid oor die administratiewe proses daarvoor verskaf het nie.

Prof. Bheki Mngomezulu, politieke ontleder van die Universiteit van Wes-Kaapland, meen egter dat Magashule in die brief die party se Nasrec-konferensie van 2017 se resolusies oor sulke aangeleenthede uitstippel.

“Daar is ongemak daaroor, want soos dit daar staan, sal dit mense in albei ANC-faksies, ook Ramaphosa, direk raak.”

* Intussen is nog ’n bandopname Dinsdag uitgelek oor die vergadering wat Ramaphosa en ander ANC-topsesleiers vroeër met Zuma gehad het oor sy voortgesette weiering om voor die Zondo-kommissie te getuig.

In dié opname kan Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, gehoor word waar sy onder meer aanvoer dat ’n ander oplossing gekry moet word as dat Zuma voor adjunkhoofregter Raymond Zondo getuig.

Sy kritiseer Zondo dat hy ’n “persoonlike historiese antagonisme” teenoor Zuma het.

Duarte bevraagteken ook die transformasie van die regbank, terwyl sy ook noem dat hoofregter Mogoeng Mogoeng haar “grootste teleurstelling” is omdat hy “optree asof hy geen begrip van die Grondwet het nie”.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, kon nie Dinsdag vir kommentaar oor dié kwessies bereik word nie.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Korrupsie  |  Opsystaan  |  Opsystaan-Lys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.