Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace gly-gly glo in die Vrystaat
Ace MagashuleFoto: News24

Ver van jou goed en na aan jou skade, is ’n uitdrukking wat waarskynlik nuwe betekenis kry vir Ace Magashule, sterkman van Vrystaat-politiek, voormalige premier en tans sekretaris-generaal van die ANC (SG), wat glo besig is om mag in die Vrystaat te verloor.

Prof. André DuvenhageFoto: Argief

So sê prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.

Met die Zondo-kommissie wat soos aasvoëls om Magashule draai, verskuiwende magsbasisse in die ANC op nasionale vlak en eskalerende konflikte en faksiegevegte in die Vrystaatse ANC, moet Magashule ’n bekommerde man wees.

“Sam Mashinini, Vrystaatse voorsitter van die ANC, kom blykbaar nie die mas op nie, Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, kan min wys wat sy die afgelope 100 dae in die premierskantoor uitgerig het én Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester van Mangaung, is byna deur ’n ontevrede faksie uit die kussings gelig.” Dit kan dus nie anders nie as dat Magashule baie besorgd moet wees in dié stadium, sê Duvenhage.

Mxolisi DukwanaFoto: News24

“Daar wag nog bloedige gevegte in die ANC en die afloop daarvan is onder meer in die Vrystaat, hartland van die Magashule-empire.

“Daar is geen twyfel dat Magashule steeds magtig en gevaarlik is nie, maar daar is tekens dat die gety draai.

“Die verwagting is ook dat die ANC in krisis sy skuld gaan probeer verplaas na die DA, waar Musi Maimane, DA-leier, nou ’n gerieflike teiken vir korrupsie geword het. Dit kan gebruik word om ’n verdeelde ANC te help verenig.

Dr. Roy JankielsohnFoto: Netwerk24

“Tog reken ek dat daar groot verandering kom in die politieke toneel in Suid-Afrika en die grootste partye, die ANC, EFF en DA, gaan nie onveranderd gelaat word nie.”

Duvenhage sê die 2021 munisipale verkiesing gaan iets heeltemal anders wees – veral met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party wat nou op sy eie wil gaan.

Die groot vraag in die Vrystaat is wat die politieke gety van verandering met Magashule gaan doen?

“Ek sien die gevaarligte flikker . . .”, sê hy.

Magashule het nie sy telefoon geantwoord toe hy om kommentaar gebel is nie. En Mlamleli sit vir eers knus in haar stoel by die metro nádat Magashule haar kom red het toe ’n ontevrede faksie haar kop geëis het.

Mxolisi Siyonzana, voorsitter van die ANC in Mangaung, sê Mlamleli is die burgemeester en hy weet van geen planne om ’n nuwe burgemeesterskomitee saam te stel nie.

Intussen is daar ANC-bronne wat praat oor ’n “muitery” onder Vrystaatse provinsiale departementshoofde wat glo nie meer opdragte van Magashule wil uitvoer nie.

Dit het daartoe gelei dat hy (Magashule) hulle glo wil uitruil, skommel of vervang.

Duvenhage sê dit lyk beslis asof Magashule besig is om op die agtervoet in die Vrystaat te veg; dat sy faksie momentum in die provinsie verloor.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê die Magashule-faksie beheer nog die Vrystaatse wetgewer en provinsie sterk en hy dink “die status quo word gehandhaaf, terwyl inwoners al hoe meer in opstand kom oor die swak dienslewering.

“Wat kommer wek, is dat ons nou die totale ineenstorting van munisipale administrasies en die geleidelike wegkalwing van ons provinsiale administrasie sien.”

Hy sê dit het ’n geweldige invloed op basiese dienslewering in die Vrystaat.

Die gevaar vir die provinsie is dat die ineenstorting van dienslewering gaan bydra tot groter politieke onstabiliteit in die vorm van diensleweringsoptogte en geweld teen individue en groepe wat deur politici as weerligafleiers vir die werklike probleme misbruik word.

Thabo ManyoniFoto: Argief

Thabo Manyoni, tans voorsitter van die Afbakeningsraad van Suid-Afrika en oudburgemeester van die metro, sê hy het Bloemfontein ook die afgelope week besoek om met tradisionele leiers te vergader oor afbakeningskwessies van munisipaliteite in aanloop tot die munisipale verkiesing wat waarskynlik teen einde Maart 2021 gaan plaasvind.

Hy ontken dat hy by enige faksiegeskille betrokke is.

Mxolisi Dukwana, voormalige Vrystaatse LUR, wat onlangs teen Magashule oor Vrystaatse staatskaping by die Zondo-kommissie getuig het, en wat Saterdag in Botshabelo praat, sê sy fokus in dié stadium is om korrupsie met wortel en tak in die Vrystaat uitgeroei te kry.

“Ons moet die Vrystaat van toksiese leierskap bevry en dit is my prioriteit.”

Olly MlamleliFoto: Netwerk24

Dukwana sê die mense van die Vrystaat soek vars, verantwoordbare en visionêre leierskap en nié gulsige korruptes nie.

Hy sê hy is ’n ondersteuner van Ramaphosa.

Jankielsohn sê politieke onstabiliteit wat in die Vrystaat wag, gaan voor die deur gelê word van demokratiese instellings soos die onderhandelde Grondwet.

“Ons hoor reeds uit ANC-kringe dat die Grondwet en ons land se apartheidsgeskiedenis die redes vir die ANC se onvermoë is om basiese dienste te kan lewer.”

Dié binnegevegte en die gevolglike politieke onstabiliteit gaan dus ons hele demokratiese bestel in gedrang bring, sê hy.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Vrystaat  |  Politiek  |  Politieke Leier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.