Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace hof toe oor OB se ‘irrasionele’ bevindinge oor suiwelprojek

Ace Magashule, beleërde sekretaris-generaal van die ANC, gaan die openbare beskermer (OB) se verdoemende bevindinge teen hom oor die Estina/Vrede-suiwelprojek deur ’n hof laat hersien.

Ace Magashule Foto: Jabu Kumalo

Oupa Segalwe, woordvoerder vir adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, het Woensdagmiddag bevestig dat die OB se kantoor “korrespondensie in dié verband van mnr. Magashule se prokureurs ontvang het”.

Magashule se prokureurs kon nie onmiddellik vir kommentaar opgespoor word nie.

News24 het wel Woensdag berig Victor Nkhwashu, Magashule se prokureur, het die OB in ’n prokureursbrief ingelig dat hy haar “irrasionele” bevindinge teen hom in die hof sal betwis.

Mkhwebane het in haar verslag, wat Maandag uitgereik is, onder meer gesê Magashule, in sy hoedanigheid as die destydse Vrystaatse premier, en ander in die provinsiale regering het polities by die Vrede-suiwelprojek ingemeng. Sy het ook bevind mense wat na aan die Guptas was, het ’n onbehoorlike invloed van buite op hom en die ander betrokke politici gehad.

Sy het ook bevind Magashule en Mosebenzi Zwane, oudminister en destydse LUR vir landbou in die Vrystaat, het veral misluk om hul toesighoudende verantwoordelikhede ingevolge die Grondwet oor die projek uit te voer en dat hul gedrag daarom op wanadministrasie en onbehoorlike optrede neerkom.

Ander Vrystaatse politici wat deur Mkhwebane in die verslag genoem word, is Mamiki Qabathe, Zwane se destydse opvolger en tans ’n LUR, en Elzabé Rockman, wat die direkteur-generaal in Magashule se premierskantoor was en later die LUR vir finansies.

Ander Vrystaatse politici wat deur Mkhwebane in die verslag genoem word, is Mamiki Qabathe, Zwane se destydse opvolger en tans ’n LUR, en Elzabé Rockman.

Die DA, wat die aanvanklike klag by die OB se kantoor ingedien het, het saam met Mkhwebane gestem dat Magashule en die ander destyds die meestal arm, swart opkomende boere – wat as begunstigdes voordeel uit die projek moes trek – net misbruik het om oor jare R380 miljoen van belastingbetalers se geld in dié projek te pomp.

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het vroeër vandeesmaand ook gehoor die Estina-projek was bloot ’n werktuig vir grootskaalse internasionale geldwassery vir die Guptas.

Magashule ontken steeds enige betrokkenheid by die projek of dat hy geweet het die omstrede Gupta-familie is daarby betrokke.

Mkhwebane het haar verslag na die Valke verwys, wat strafregtelike klagte teen Magashule en die ander uit haar bevindinge moet ondersoek.

Magashule veg tans ook om sy politieke oorlewing in die ANC nadat hy verlede maand in hegtenis geneem is op aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery weens die sogenaamde asbesdak-skandaal, wat ook in sy tyd as Vrystaatse premier plaasgevind het.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Mosebenzi Zwane  |  Hof  |  Ob
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.