Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace in OB se visier

Die openbare beskermer (OB) beoog om eersdaags onderhoude met die politici te voer wat na bewering by die korrupsieskandaal rondom die Vrede-suiwelskema betrek word.

Ace MagashuleFoto: NEWS24

Só het die kantoor van adv. Busisiwe Mkhwebane geantwoord op ’n vraag wanneer die ondersoek na die beweerde betrokkenheid van politici in die Vrystaat by die skema gedoen gaan word.

Daar was groot ontsteltenis in politieke kringe toe Ace Magashule, eertydse Vrystaatse premier, Mosebenzi Zwane, destydse Vrystaatse LUR vir landbou, en Elzabe Rockman, LUR van finansies, nie ook vir beweerde ongerymdhede rondom die skema, waarin R350 miljoen belastinggeld glo gemors is, aangekla is nie.

Werner Horn, die DA se veldtogbestuurder in die Vrystaat, het vandeesweek die Vrede-suiwelskema as “ ’n loodsprojek vir staatskaping” bestempel. Hy glo die stelsel van die kaping van staatsdiensvoorsiening het dadelik nadat Magashule premier geword het in die Vrystaat beslag gekry.

Die DA het verskeie klagte by die OB, die polisie en die Valke ingedien, maar sonder dat die klagte behoorlik ondersoek is. Die party gaan nou ’n verslag met die nuwe klagte teen Magashule oor beweerde korrupsie rondom die verhuring van staatsgeboue by die Zondo-kommissie indien.

“Ons het altyd die vestiging van die Estina-Vrede-suiwelskema as ’n soort loodsprojek vir staatskaping beskou. Dit het saamgeval met die grootskaalse betrokkenheid van die Gupta-familie by die ANC,” het hy by navraag aan Netwerk24 gesê.

Dit is ook algemene kennis dat Magashule en van oudpres. Jacob Zuma se seuns sakevennote was. Magashule het ’n belangrike rol gespeel dat Zuma president geword het. Magashule het onder oudpress. Nelson Mandela en Thabo Mbeki nooit as provinsiale voorsitter van die ANC die premier geword nie.

Toe Zuma president word en Magashule die premier, was daar ’n belangrike verskuiwing.

“Toe Zuma president word en Magashule die premier, was daar ’n belangrike verskuiwing. Dinge is gedoen, nie om die mense van die Vrystaat te bevoordeel nie, maar die mense in sy binnekring en uiteindelik die Zuma-groep in die ANC.”

Oupa Segalwe, OB-woordvoerder, het by navraag oor hoe ver die nuwe ondersoek is nadat die parlement die OB gelas het om ook die politici se aandeel te ondersoek, gesê die nuwe ondersoek na die Vrede-suiwelskema is aan die gang.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer.Foto: ARGIEF

“Die openbare beskermer beoog om onderhoude te skeduleer met die politici wat betrek word en gaan binne die volgende weke ’n openbare gesprek met die projek se begunstigdes hou.”

Hy het egter gesê dat die parlement net ’n versoek aan die OB gerig het om “op die saak in te gaan” en sy is nie beveel om dit te ondersoek nie.

“Die openbare beskermer ondersoek die beweerde rol van die politici wat betrek word. ’n Ondersoek is ’n missie om feite vas te stel. Ons kan dit nie vooruitloop nie. Om te sê dat sy mense gaan aankla, gaan van die veronderstelling uit dat sy reeds bevindings oor misdade gemaak het.”

Segalwe sê die OB sal ’n aankondiging hieroor doen wanneer sy die ondersoek voltooi het. Hoewel dit moeilik is om te sê wanneer die verslag voltooi gaan word, moet alle ondersoeke binne 12 tot 24 maande afgehandel word.

Op ’n vraag hoekom die ondersoek na die beweerde korrupsie rondom die webtuiste vir die Vrystaatse regering, waarmee glo R114 miljoen vermors is, ná sowat vyf jaar nog nie afgehandel is nie, het hy gesê dit is ’n komplekse ondersoek. Dit verg forensiese kapasiteit, iets wat die OB-kantoor nie het nie.

“Die openbare beskermer het eksterne hulp hiervoor aangevra, maar die koste was buitengewoon hoog. Een kwotasie was tot R1 miljoen. ’n Besluit is geneem om die hulp van ’n ander staatsliggaam te verkry, wat oor dié kapasiteit beskik.

“Dié staatsliggaam het verlede September hiertoe ingestem. Ons het eers verlede maand die tussentydse verslag bekom. Ons wag steeds op die finale verslag. Die inhoud van die verslag sal ook kundige ontleding vereis vir die openbare beskermer om sin daarvan te maak voordat die ondersoek voltooi is.”

Meer oor:  Openbare Beskermer (Ob)  |  Ace Magashule  |  Vrede  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.