Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace is nie van plan om te smelt nie

Die posisie van die beleërde Ace Magashule het Saterdag aan ’n draadjie gehang nadat ’n komitee van party-veterane aanbeveel het hy dat sy pos as sekretaris-generaal neerlê.

Ace Magashule

Magashule het teen druktyd Saterdagaand nog vasgeskop, met ’n beduidende minderheid lede van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) wat hom tydens hul spreekbeurt gesteun het.

“Dit was ’n uitgerekte en moeisame debat waarvan minstens die helfte van die sprekers, meer as 50, gevra het dat Magashule nie langer in sy amp aanbly nie. Nog 41 sprekers het Magashule gesteun,” het ’n bron Satermiddag laat tydens ’n kort onderbreking in die verrigtinge aan Rapport gesê.

Die NUK het teen Saterdagmiddag laat ook nog nie oud-pres. Jacob Zuma se weiering bespreek om Maandag voor die Zondo-kommissie te verskyn ingevolge ’n bevel van die konstitusionele hof nie.

Tog het die NUK sy volle vertroue in die kommissie uitgespreek en Jessie Duarte, Maga­shule se adjunk, opdrag gegee om regter Raymond Zondo verskoning te vra vir ’n skerp bewoorde artikel waarin sy teen hom te velde trek. In dié Daily Maverick-artikel spreek Duarte die hoop uit dat die Zondo-kommissie nie “ons demokrasie in meer van ’n neo­liberale brousel gaan verander as wat dit reeds is nie”.

Duarte vra Zondo om verskoning.

Sy kritiseer ook Zondo as ’n regter wat “sy ambag bedryf binne die eng grense van bestaande wette” en min doen om “die samelewing te transformeer”.

In haar brief aan Zondo vra Duarte verskoning vir die feit dat haar artikel “die indruk wek dat ek direk met u in persoon praat”. “Dit was nie my bedoeling om enige oneerbiedigheid teenoor u persoonlik te toon nie.”

Die groot tameletjie was egter Magashule, wat uit is op borgtog van R200 000 en wie se verhoor op aanklagte van bedrog en korrupsie in die Vrystaatse asbesskandaal Vrydag in die Bloemfonteinse landdroshof hervat word.

Die ses nasionale ampsdraers moes op die naweek se vergadering “prosedures” voorstel waarvolgens ’n beskuldigde in ’n strafregtelike verhoor sy amp in die ANC of ’n politieke amp in die regering moet neerlê. Die nasionale ampsdraers kon nie eenstemmigheid bereik daaroor nie.

Hulle het besluit om twee buitestanders, oudpres. Kgalema Motlanthe en Mathews Phosa, voormalige tesourier-generaal van die ANC, as leiers van ’n taakspan aan te stel om die voorstel te formuleer. Motlanthe en Phosa het gister voorgestel die besluit oor wie opsy moet staan, moet wyer strek as ’n strafsaak. Selfs ampsdraers teen wie bewerings van misdaad gemaak word wat tot ’n strafregtelike ondersoek kan lei, moet uit hul amp tree totdat hul naam in ere herstel is, sê hulle.

Dié aanbeveling laat geen twyfel dat Magashule uit sy amp moet tree nie, maar dit het ’n debat ontketen.

“Magashule se ondersteuners was in die minderheid, maar dit is ’n wesenlike minderheid. Van die meerderheidsprekers het by hom gepleit om ter wille van die organisasie vrywillig opsy te staan, maar hy het glad nie daarop gereageer nie. Dit lyk nie of hy dit enigsins oorweeg nie,” het Rapport se bron gesê.

“In dié stadium is daar nog ses sprekers wat aan die beurt moet kom, maar ons het vir ’n ruk verdaag. Die nasionale ampsdraers het die verdaging gevra om ’n voorstel te formuleer wat die twispunt dalk kan beëindig,” het die bron gesê.

Die enigste ander item wat Saterdag bespreek is, was in ’n debat oor die swak toestand van ANC-takke oor die land heen, aldus die bron.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Zondo-Kommissie  |  Raymond Zondo  |  Jessie Duarte  |  Korrupsie  |  Anc  |  Nuk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.