Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace-kamp wil glo hoofweë versper

Die Ace Magashule-kamp in die ANC kan uit protes teen sy skorsing en regeringsingryping in die Vrystaat tot gewelddadige optrede oorgaan wat padversperrings by minstens twee Vrystaatse dorpe kan insluit.

Benewens padversperrings by Winburg aan die N1 en Theunissen aan die R30, twee belangrike toegangsroetes in die Vrystaat, word versperrings glo by die Mooirivier-plaza op die N3 op pad na Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal beplan.

Dit is blykbaar deel van die Magashule-kamp se verset teen pres. Cyril Ramaphosa se optrede teen die geskorste sekretaris-generaal, asook sy planne om politieke oplossings vir die skaakmatsituasie in die Vrystaatse ANC te kry.

BLOEMFONTEIN, SOUTH AFRICA - FEBRUARY 19: ANC Secr
Ace Magashule se ondersteuners tydens sy hofverskyning in Bloemfontein op 19 Februarie. Foto: Gallo Images

Volgens prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, word die versperrings op minstens drie paaie in die land blykbaar vanaf 17 Mei deur die Magashule-faksie beoog.

Duvenhage sê planne van Ramaphosa, wat hy Maandag afgekondig het, kom eintlik neer op ’n ingryping in die Vrystaat en ’n oorname van die provinsiale strukture deur nasionale strukture.

Ramaphosa se plan is dat die nasionale werkkomitee (NWK) van die ANC ’n tussentydse provinsiale struktuur in die Vrystaat op die been bring wat die provinsie tot die provinsiale verkiesing moet lei.

Prof. André Duvenhage

“Die Magashule-groep verset hulle daarteen en sal selfs tot geweldspolitiek oorgaan, want hulle is desperaat om hulself te laat geld.”

Duvenhage voorsien dat Ramaphosa selfs strenger Covid-19-regulasies kan gebruik om hierdie protes teen te gaan.

“Dit kan gebeur dat Ramaphosa strenger Covid-19-inperkings gaan instel, want is Bloemfontein nie nou een van die land se grootste brandpunte wat Covid betref nie?”

Ramaphosa kan selfs grense oor Covid-19 sluit. “Die ANC-spel en die Covid-spel loop saam.”

Hy sê sou die Ace-faksie groot skade aanrig soos sabotasie en brandstigting, wat moontlik verwag kan word, kan Ramaphosa selfs die weermag en die polisie se hulp inroep. “Dan is daar ’n soort Marikana-situasie in die land.”

Dr. Roy Jankielsohn

Dr. Roy Jankielsohn, DA-leier van die Vrystaat, betwyfel dit of ’n tussentydse struktuur vir die ANC in die Vrystaat ’n positiewe rol sal speel. “Ek dink nie dit gaan veel help nie. Ons moet onthou dat Magashule se magsbasis in die Vrystaat is en dit is waar hy die meeste steun het.

“Daar was al vorige pogings deur nasionale ANC-strukture om die Vrystaatse ANC te stabiliseer, sonder enige sukses.

“Die faksie-verskille, wat om persoonlikhede wentel, is te diep gewortel om deur bemiddeling opgelos te word. Die binnegevegte in die ANC in die Vrystaat het nie net te doen met politiek nie, maar gaan hoofsaaklik oor verskanste finansiële belange binne provinsiale en munisipale regeringstrukture."

Dr. Ralph Mathekga

Hy sê die geveg gaan eintlik oor toegang tot winsgewende tenders en staatskontrakte wat deur ANC-kaders in regering- en politieke strukture aan bondgenote in die sakewêreld toegeken word, met ’n herverdeling van geld tussen almal wat betrokke is.

Jankielsohn sê die ANC is moreel verrot en die Magashule-faksie in die Vrystaat wil aan bewind bly om hulself te probeer red te midde van die net van geregtigheid wat al hoe nouer om oortreders span.

Dr. Ralph Mathekga, onafhanklike politieke ontleder, sê as die NWK dit regkry om ’n tussentydse struktuur vir die Vrystaat op te rig wat uit lede van albei faksies bestaan, is dit ’n suksesverhaal vir Ramaphosa.

Hy is egter nie so seker of alles seepglad sal verloop nie omdat die Vrystaat die “hart” van Magashule se ondersteuningsbasis is.

* Die Vrystaatse PUK is op 31 Maart ontbind ná ’n appèlhofuitspraak dat die Vrystaatse provinsiale konferensie van 18 en 19 Mei 2018 onwettig en ongrondwetlik was.

Meer oor:  Anc  |  Protes  |  Ace Magashule
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.