Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace ‘koop’ glo steun om takke in Vrystaat te beheer

Gerugte dat derduisende rande deur Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, se ondersteuners aan werklose werwers betaal word om stemme te koop, doen op WhatsApp-groepe die ronde.

Dit is glo om te verseker dat Magashule-ondersteuners al die leierskapposte op takvlak in die Vrystaat sal vul in die ANC-takbestuursverkiesings in Desember. Bedrae van R2 000, R5 000 en selfs R10 000, is teenoor Netwerk24 genoem.

Op dié manier sal Magashule beheer oor die Vrystaat behou.

Die T-hemde met pres. Cyril Ramaphosa se gesig daarop word by in Bloemfontein verbrand op die dag dat Ace Magashule in die landdroshof verskyn het. Foto: News24

Die tweede agenda is glo om van pres. Cyril Ramaphosa as ANC-leier ontslae te raak, is aan Netwerk24 gesê.

Sam Mashinini, voorsitter van die ANC in die Vrystaat en ’n Magashule-bondgenoot, sê egter by navraag hy is nie bewus hiervan nie.

Magashule het nie sy selfoon beantwoord toe hy om kommentaar genader is nie.

Netwerk24 verneem betroubaar die plan is glo om Ramaphosa te onttroon en as dit nie nou kan gebeur nie, om seker te maak dat hy nie op die volgende nasionale konferensie van die ANC in 2022 vir ’n tweede termyn tot ANC-president verkies word nie. Die plan is glo dat Paul Mashatile, huidige tesourier-generaal van die ANC, die leier sal wees in noue samewerking met David Mabuza, die adjunkpresident.

Sam Mashinini, voorsitter van die ANC in die Vrystaat en ’n bondgenoot van Ace Magashule. Foto: Argief

Veldtogte word glo ook na ander provinsies uitgebrei, sê bronne.

Dit volg op ’n groot ANC-vergadering in Bloemfontein op dieselfde aand dat Magashule in die landdroshof in Bloemfontein verskyn het oor die asbesdaksaak van R255 miljoen.

Die middag is T-hemde waarop die gesig van Ramaphosa verskyn, buite die hofgebou verbrand.

’n Bron wat die Vrydagaandvergadering en voorafgegaande etes bygewoon het, beweer Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, Tony Yengeni, ANC-aktivis en lid van Umkhonto we Sizwe, Joe Maswanganyi, ’n voormalige minister van vervoer, Bongani Bongo, ’n voormalige minister van staatsveiligheid, en Lindi Ntshalintshali, Mpumalanga se sekretaris van die ANC, was van die bekende gesigte teenwoordig.

Hulle beoog om deur die takke te werk om vir ’n spesiale konferensie te vra. Magashule self het dit van die verhoog af gesê ná die hofverrigtinge.

“Dit sal die takke wees wat moet sê of hulle my steeds as sekretaris-generaal van die ANC wil hê, want dit is die takke wat my hiertoe verkies het.”

Paseka Nompondo, sekretaris van die ANC in die Vrystaat. Foto: Argief

As die plan van ’n spesiale konferensie nie werk nie, sal die ondersteuners glo ’n beroep op die Nasionale Algemene Raad (NAR) en die Vrystaatse Provinsiale Uitvoerende Komitee (PUK) doen om ander provinsies te mobiliseer, soos Noordwes, KwaZulu-Natal, Gauteng en Mpumalanga, om Ramaphosa en die Zondo-kommissie te verwyder.

In die Vrystaat is een van diegene wat Magashule glo hierin steun, Paseka Nompondo, sekretaris van die Vrystaatse ANC. Hy ontken dit egter.

“Daar is geen plan of program in die ANC om die president nou te verwyder nie en ook nie ’n plan om Ace Magashule te verwyder nie. Hy bly ons sekretaris-generaal totdat hy in ’n bekwame hof skuldig bewys word.”

Nompondo sê hy is ’n lid van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) en wag op ’n vergadering wat in November of Desember gehou sal word.

“Daarop sal die posisie van die sekretaris-generaal weer bespreek word.”

Nompondo sê nadat Magashule by die landdroshof in Bloemfontein gepraat het, het ANC-lede by Quetello en Ashwood in Bloemfontein gaan uiteet.

“Ek is nie bewus van geld wat vloei om Magashule te ondersteun om die president te onttroon nie of seker te maak dat hy al die Vrystaatse ANC-takke se leiersposte in die toekoms beheer nie.”

Mahlomola Ralebesi, ANC-lid van wyk 18 in Bloemfontein, en voormalige streeksvoorsitter van die ANC se Motheo-streek, sê hy is ook nie bewus van ’n veldtog binne die ANC om die president te onttroon nie. As daar wel so ’n veldtog aan die gang is, sal dit indruis teen die beleid wat die NUK in 2012 en in 2017 op sy nasionale konferensie aanvaar het.

“Ek en ’n groot klomp van die ANC-lede staan agter die president en gaan baie teleurgesteld wees as die NUK nie volgende naweek besluit om Magashule opsy te laat staan nie.”

Meer oor:  Anc  |  Ace Magashule  |  Vrystaat  |  Koop  |  Stemme  |  Betaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.