Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Ace-kwessie tameletjie vir ANC’
Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC.

’n Oplossing oor die kwessie of ANC-lede in leierskapsposisies – soos Ace Magashule, die sekretaris-generaal – opsy moet staan wanneer hulle van ’n ernstige misdaad aangekla word, sal dalk nie op die volgende vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gevind word nie.

So meen dr. Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder.

Die NUK vergader weer einde vandeesmaand.

Dit is ondanks daarvan dat die ANC op sy vorige nasionale vergadering in 2017 by Nasrec in Johannesburg reeds besluit het dat ANC-lede in leierskapsposisies wat van ’n ernstige misdaad aangekla word, opsy moet staan.

Dit is onlangs deur die NUK herbevestig.

Leierskapsverkiesing sal bepalend wees

“Omdat daar dalk nie ’n oplossing gevind sal word vir dié kwessie nie, dink ek die saak sal na ’n hoër vlak geneem word – byvoorbeeld na die volgende beleidskonferensie. Dit sal uiteindelik ook trefkrag op die volgende leierskapsverkiesing (in 2022) hê,” sê Mathekga.

“Die narratief (vir sommige ANC-lede) is om Cyril Ramaphosa as president te verwyder. Daarom sal die kwessie uiteindelik ook ’n invloed op die leierskapsverkiesing hê.”

“Daar is lede van die ANC wat hul eie interne prosesse links en regs betwis.

“Wat gebeur, is dat hulle politieke intriges gebruik om hul eie prosesse te ondermyn,” sê Mathekga.

Verdeeldheid onder die ANC

“Hierdie hele kwessie sal die ANC nog verder verdeel – selfs oor beleid,” meen hy.

Waarnemers meen vandeesmaand se NUK-vergadering kan daarom ’n keerpunt in die party wees omdat die toekoms van Magashule op dié vergadering bespreek word.

Hy het verlede Vrydag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn op 21 aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery, waarby sowat R255 miljoen betrokke is.

Hierdie hele kwessie sal die ANC nog verder verdeel – selfs oor beleid.

Magashule weier egter om terug te staan. Hy sê die takke het hom verkies en net hulle kan hom uit sy pos verwyder.

Die klagte teen hom spruit uit beweerde ongerymdhede met ’n oudit van asbesdakke in die Vrystaat toe hy die premier was.

Magashule en sy faksie

Magashule en mense wat sy faksie steun, beskuldig wetstoepassingsagentskappe daarvan dat hulle misbruik word om “politieke gevegte” te veg.

Voor die Augustus-vergadering van die NUK het Ramaphosa ’n interne brief aan ANC-lede gestuur waarin hy gesê het die party staan as “beskuldigde nommer een” in die beskuldigdebank wat korrupsie betref.

Die NUK het hom hierin gesteun en besluit dat ANC-kaders wat amptelik van ernstige misdade aangekla is, dadelik van hul leierskapposisies afstand moet doen.

Dit word ook so verduidelik in ’n ANC-verklaring wat ná die vergadering onder Magashule se naam verskyn het.

Die ANC se topses het Maandag vergader, maar dit is nog nie bekend wat op dié vergadering besluit is nie.

Ace 'sal bespreek word op NUK-vergadering'

Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom, sê verskeie mense in die ANC het aan hom gesê Magashule se posisie sal beslis op die NUK-vergadering bespreek word.

“Dit is ’n tameletjie vir die party dat daar nou ’n besluit oor die sekretaris-generaal geneem moet word.”

Die nasionale algemene vergadering – waar teenstanders van Ramaphosa hom teoreties sou kon herroep – sou vanjaar gehou word, maar dit sal eers in Mei of Junie volgende jaar plaasvind. Dit moes weens die Covid-19-pandemie uitgestel word.

“Dit kan die ANC-faksie wat deur Magashule gelei word benadeel omdat verskeie lede van dié faksie moontlik ook in die volgende paar maande in die beskuldigdebank moet staan,” sê Venter.

Die volgende ANC-leierskapskonferensies is in Desember 2022 en die beleidskonferensie ’n paar maande vroeër.

Dit is ’n tameletjie vir die party dat daar nou ’n besluit oor die sekretaris-generaal geneem moet word.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Presidentskap  |  Anc  |  Leierskap  |  Nuk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.