Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Ace moet self sê of hy op vergadering was’

Niemand sal dit regkry om die uitslag te verander van die Nasrec-konferensie waarin pres. Cyril Ramaphosa tot leier van die ANC verkies is nie – nie in die ANC nie en ook nie buite die party nie.

Dít het Zizi Kodwa, hoof van die presidensie in Luthuli-huis, Maandag gesê toe joernaliste hom uitvra oor die beweerde sameswering teen Ramaphosa.

Sunday Times het die naweek berig oor die komplot in die ANC teen Ramaphosa wat glo gelei word deur die sogenaamde premiersliga, stoere ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. Foto: Felix Dlangamandla

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het Sondag die beweringe amptelik verwerp as “sensasionele twak” en “kwaadwillige skinderpraatjies”.

Kodwa, wat joernaliste ná Maandag se sitting van die kommissie van ondersoek na staatskaping in Johannesburg te word gestaan het, is uitgevra oor of die ANC gaan ondersoek instel na dié ernstige bewerings.

“Ek sal jou verseker niemand – hetsy binne of buite die ANC – sal dit regkry om die uitslag van Nasrec te verander nie. Die uitslag van Nasrec was demokraties. Die meeste afgevaardigdes het besluit die party moet gelei word deur pres. Cyril Ramaphosa. Dit kan nie verander nie. So, of een of twee individue buite die strukture nou ongelukkig is of nie, daardie uitslag sal nie verander nie,” het hy gesê.

Zuma, Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, Supra Mahumapelo, uitgeskopte premier van Noordwes, Meokgo Mathuba, sekretaris-generaal van die ANC-vroueliga, en Thanduxolo Sabelo, sekretaris van die ANC-jeugliga in KwaZulu-Natal, het luidens Sunday Times glo Donderdag in ’n Durbanse hotel vergader.

’n Terugvegpoging van die Zuma-faksie is glo op die vergadering bespreek. Dit sluit in moontlike hofsake waarin die Nasrec-uitslag bevraagteken word.

Die groep beweer glo daar was grootskaalse ongerymdhede op takvlak waar besluit is watter afgevaardigdes die konferensie moet bywoon.

Kodwa het dit aan Magashule oorgelaat om te sê of hy die geheime vergadering bygewoon het of nie.

“As mense iewers vergaderings hou, kan hulle dit self verduidelik, nie die ANC nie. As dit ’n ANC-vergadering was, sal ons daaroor praat.

Vukile Mathabela, Zuma se woordvoerder, Magashule, Mahumapelo, Mathuba en Sabelo was nie Maandag vir kommentaar beskikbaar nie en het nie op teksboodskappe gereageer nie.

“Die mense wat op daardie vergaderings was is in ’n beter posisie om te bevestig of te ontken of daar ’n vergadering was,” het hy gesê.

Intussen het Bheki Ntshalintshali, hoofsekretaris van Cosatu, Maandag op ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê daar ís ’n terugvegpoging, berig EWN. “Ons kan dit ontken soveel as wat ons wil. Dit is dalk nie iets wat openlik plaasvind nie, maar jy kan sien wat aan die gang is.”

Luidens die berig het Ntshalintshali gesê Zuma blyk “kwaad” te wees. “Dit lyk asof hy ’n diep haat dra in terme van hoe hy in die ANC behandel is.”

Cosatu sal Ramaphosa aanraai om die parlement te ontbind en van voor te begin as die sogenaamde geheime komplot teen hom momentum kry.

Bathabile Dlamini, minister belas met vroue in die presidensie en voorsitter van die ANC-vroueliga, het by navraag die organisasie agter Mathuba geskaar en ontken die liga is deel van die kern van die beweerde komplot. “Die ANC het probleme, maar ons kan nie die hele tyd aan die klieks herinner word nie, aan klieks wat net in mense se verbeelding bestaan nie. Die grondslag van die ANC is eenheid,” het sy aan Netwerk24 gesê.

Sy het bygevoeg: “Dink die media ons is dom genoeg om te glo wat dit van ons sê? Die media wil ’n wig in die ANC indryf. Ons sal nie die media glo wat die vermetelheid het om die hele nasie te mislei nie.”

Vukile Mathabela, Zuma se woordvoerder, Magashule, Mahumapelo, Mathuba en Sabelo was nie Maandag vir kommentaar beskikbaar nie en het nie op teksboodskappe gereageer nie.

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Geheime Vergadering  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.