Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace nou op dun ys: ‘Kop kan naweek finaal rol’

Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, loop op dun ys en hy kan dalk dié naweek finaal uit die party geskop word.

Só het die politieke ontleder en ANC-kenner dr. Oscar van Heerden van die Mapungubwe-instituut Donderdag gesê.

Van Heerden sê Magashule het met sy desperate poging om pres. Cyril Ramaphosa Woensdagaand as partyleier te skors, ’n ongekende woede onder lede van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) ontketen. Die NUK vergader dié naweek.

Ramaphosa het volgens ’n ingeligte bron Donderdag aan die ANC se parlementêre koukus gesê hy was “geskok” om te hoor dat Magashule, wat toe al geskors was, hóm ook uit die party “geskors” het.

Die bron sê dat die vergadering van die ANC-koukus – wat self tussen ondersteuners van Ramaphosa en Magashule verdeel is – “baie gespanne” was.

“Jy kon die bui aanvoel. Die president het net ’n kort toespraak gelewer. Geen vrae of kommentaar is toegelaat nie.”

Magashule en ander ANC-ampsdraers wat strafregtelik aangekla word en weier om opsy te staan, is Woensdagmiddag in kennis gestel dat hulle tydelik geskors is.

Jy kon die bui aanvoel. Die president het net ’n kort toespraak gelewer. Geen vrae of kommentaar is toegelaat nie.

Toe Ramaphosa Donderdagmiddag vrae in die nasionale vergadering beantwoord het, het die opposisiepartye uit hul pad gegaan om die struwelinge in die ANC uit te buit.

Die EFF wou reg aan die begin weet watter party Ramaphosa as president in die ANC verteenwoordig omdat hy “uit die ANC geskors is”.

John Steenhuisen, DA-leier, het onder meer gesê Ramaphosa is vasgevang in die interne ANC-gevegte en faksie-oorlog terwyl ’n derde vlaag van koronavirusinfeksies dreig.

Ramaphosa het teruggekap en gesê die ANC se faksie-gevegte het niks met Steenhuisen of die DA te doen nie. “Wat in die ANC gebeur, het niks met jou te doen nie. Dit is ANC-sake.”

Toe Vuyo Zungula, ATM-president, Ramaphosa as “meneer die geskorste president” aangespreek het, het Hope Papo, ANC-LP en parlementêre raadgewer van adj.pres. David Mabuza, gesê dit is ’n mite dat Ramaphosa as ANC-president geskors is.

Van gerugte dat Magashule self Donderdag ’n nuuskonferensie oor sy politieke lot sou hou, het daar ten tyde van publikasie ook niks gekom nie.

Intussen het ’n steeds uittartende Magashule teenoor EWN volgehou dat hy “steeds die sekretaris-generaal is”.

“Ek het Cyril namens die nasionale uitvoerende komitee (NUK) geskors. Ek het teen my skorsing geappelleer en bly daarom nog die ANC se sekretaris-generaal.

“Ek is deur die (ANC se nasionale) konferensie verkies. Ek gaan nêrens. Ek sal ’n nuuskonferensie hou,” het hy volgehou.

Tony Yengeni, senior lid van die NUK en die nasionale werkkomitee (NWK) van die ANC, het Donderdag aan die TV-kanaal NewzRoom Afrika gesê hy stem met Magashule saam dat dié se tydelike skorsing onwettig is.

Ek is deur die (ANC se nasionale) konferensie verkies. Ek gaan nêrens. Ek sal ’n nuuskonferensie hou.

Yengeni is saam met Magashule van die leiersfigure van die faksie vir radikale ekonomiese transformasie (RET) in die ANC.

Yengeni het gesê ’n mens “hoef nie ’n politikus te wees nie om te sien staatsorgane, soos die nasionale vervolgingsgesag, word nou in politieke gevegte misbruik”.

“Die dieet wat ons gevoer word, is dat die nege jaar onder oudpres. Jacob Zuma ‘nege gemorste jare’ was.

“Waar is ons vandag vergeleke met tóé (die Zuma-jare) as ’n mens kyk na ekonomiese ontwikkeling, werkskepping, dienslewering en die amper daaglikse beurtkrag?” wou hy weet.

Emeritus-professor Pieter Labuschagne, ’n regskenner en politieke wetenskaplike van Unisa, sê die dramatiese gebeure die laaste dag of wat is “ ’n kernbelangrike waterskeidingsoomblik vir die ANC”.

“Myns insiens het die ANC vir die eerste keer ruggraat gewys en getoon dat hy landsbelang bo eie politieke belang op kort termyn stel.”

Waar is ons vandag vergeleke met tóé (die Zuma-jare) as ’n mens kyk na ekonomiese ontwikkeling, werkskepping, dienslewering en die amper daaglikse beurtkrag?

Prof. Hussein Solomon, hoof van die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat, sê Magashule se poging om Ramaphosa te “skors” is ’n teken van sy stryd om politieke en ekonomiese oorlewing.

Dit kan uiteindelik daartoe lei dat die hele ANC in duie stort. Dit kan gevolge vir die hele land inhou.

Dit het Donderdag bekend geword Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, word deur die ANC in Limpopo gevra om opsy te staan.

Dít is nadat die hooggeregshof in Polokwane vroeër beslis het sy moet strafregtelik aangekla word vir haar betrokkenheid by ’n saak toe sy nog die munisipale bestuurder van die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit in Phalaborwa was.

Ramaphosa het Ntshavheni as waarnemende minister in die presidensie aangestel nadat Jackson Mthembu in Januarie vanjaar aan Covid-19 dood is. – Sarel van der Walt, Llewellyn Prince en Marietjie Gericke

Meer oor:  Ace Magashule  |  Opsystaan  |  Skorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.