Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace-ondersteuners wil na strate opruk

Ace Magashule se ondersteuners in veral sy tuisprovinsie, die Vrystaat, dreig om Maandag die strate in te vaar uit protes teen sy tydelike skorsing uit die ANC.

Dié jongste verwikkeling in die voortslepende Magashule-sage kom nadat Magashule se ondersteuners in die ANC Saterdag ’n saamtrek in sy tuisdorp, Parys, gehou het om onder meer die weg vorentoe te bespreek.

Magashule het Vrydag ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien teen pres. Cyril Ramaphosa, Jessie Duarte, die ANC se waarnemende sekretaris-generaal, en die ANC om sy skorsing om te keer.

Ace Magashule, tydelik geskorste sekretaris-generaal van die ANC. Foto: Daily Sun

Hy wil ook hê dat die ANC se opsystaanbesluit ongrondwetlik verklaar word. Hy en meer as 30 ander ANC-lede landwyd is tydelik weens die opsystaanbesluit uit die party geskors omdat hulle in ’n hof teregstaan weens korrupsie en ander ernstige misdade.

Magashule wil ook hê die hof moet sy “skorsing” van Ramaphosa as ANC-president geldig verklaar totdat dit wettig nietig verklaar word.

Hy wil ook hê dat die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC se opdrag dat hy aan die ANC en Suid-Afrika om verskoning moet vra oor sy “skorsing” van Ramaphosa, as “onwettig en onafdwingbaar” verklaar word.

Magashule sê in sy hofstukke hy sal net om verskoning vra as die hof hom so beveel.

Ramaphosa-hulle sal ná ’n vergadering Maandag aandui of hulle die Magashule-hofsaak sal teenstaan.

Boitumelo Majoe, sekretaris van die Congress of South African Students (Cosas) in die Fezile Dabi-streek in die Vrystaat, wat Parys insluit, het Sondag bevestig dat hulle Maandag saam met ANC-takke in die daardie streek in Parys sal betoog.

“Ons doen dit uit protes teen die opsystaanbesluit van pres. Cyril Ramaphosa en die NUK wat net ANC-takke en die sekretaris-generaal (Magashule) wil vernietig. Die president en sy kabaal misbruik die reël om verdeeldheid in die party te saai. Hulle moet gaan.”

Carl Niehaus, woordvoerder van die Umkhonto weSizwe-militêreveteranevereniging en ’n stoere Magashule-bondgenoot, het Sondag gesê dat die ANC se Jomo Marumo-tak in Parys Saterdag se saamtrek van Magashule-ondersteuners georganiseer het om onder meer sy skorsing te bespreek.

Volgens Niehaus word die openbare betogings oor Magashule van Maandag af deur verskeie takke self in hul gebiede georganiseer.

Die president en sy kabaal misbruik die reël om verdeeldheid in die party te saai. Hulle moet gaan.

Die ANC in die Wes-Kaap en sy provinsiale alliansievennote, die SAKP, Cosatu en Sanco, het ná hul beraad die afgelope naweek Sondagaand gesê dat hulle die ANC se toepassing van die opsystaanbesluit onomwonde steun.

Hulle het in ’n gesamentlike verklaring ook die mening “herbevestig dat geen individu groter as die ANC is nie”.

Intussen het City Press Sondag berig Magashule het aan dié koerant gesê hy is nie bang om permanent uit die ANC geskop te word omdat hy die party hof toe gesleep het nie. Ramaphosa-ondersteuners het reeds geëis dat verdere tugstappe teen hom ingestel word.

Rapport het Sondag berig dat ’n leiersfiguur in Magashule se faksie vir radikale ekonomie transformasie (RET) gesê het dat ’n skeuring in die ANC onafwendbaar is. So ’n skeuring, sowel as die stigting van ’n nuwe party, word druk in die RET-faksie bespreek. Die South African National Congress of SANC is volgens Rapport die voorkeurkeuse vir ’n naam vir ’n nuwe party.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Parys  |  Vrystaat  |  Ondersteuners  |  Opsy Staan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.