Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace oor Hanekom: EFF het geheime agente in ANC

Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, glo bewerings dat Derek Hanekom, voormalige minister van toerisme en lid van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK), met die EFF saamgesweer het om oudpres. Jacob Zuma uit die kussings te probeer lig.

Hy het in ’n sterk bewoorde verklaring wat laataand Woensdag namens die ANC uitgereik is, sy ontsteltenis oor Julius Malema, EFF-leier, se bewerings oor Hanekom uitgespreek.

Derek Hanekom
Derek Hanekom

Malema het Dinsdag aan partyondersteuners gesê Hanekom het ’n lys met name van ANC-LP’s wat glo teen Zuma sou stem tydens ’n mosie van wantroue in die parlement aan die EFF oorhandig.

Malema beweer Hanekom was gereed om ’n splinterparty te vorm as Nkosazana Dlamini-Zuma, Zuma se eksvrou, op die Nasrec-konferensie die wedloop om die leierskap van die ANC teen Ramaphosa sou wen.

Hanekom ontken dit en het in reaksie aan News24 gesê hy het met Godrich Gardee, sekretaris-generaal van die EFF, vergader, maar dat daar niks onbehoorliks aan die vergadering was nie.

Ace Magashule Foto: Daily Sun

“Sy inisiatief, nie myne nie. Daar is niks mee verkeerd om ’n mede-LP te ontmoet nie en dit is wat ons destyds was.”

Hanekom het kort ná die nasionale verkiesing as LP bedank.

Magashule aanvaar egter in die verklaring dat Hanekom “gebieg het dat hy verskeie vergaderings met die opposisie EFF gehou het om aan te dui dat hy en ander ANC-LP’s die EFF sou steun in sy mosie van wantroue in Februarie 2018 teen oudpres. Jacob Zuma”.

Magashule meen Hanekom het volle toegang tot die NUK gehad en het sy “bitsige sienings” herhaaldelik uitgespreek.

“Hy het altyd in ’n egalige, geoefende stem gesê dat die slegte publisiteit wat die ANC gekry het gekoppel is aan die bewerings teen oudpres. Zuma,” sê Magashule.

“Die ANC het gesê die stemmery (teen Zuma) moet nie in die geheim plaasvind nie, maar dit is Hanekom en ander wat toe druk op die speaker uitgeoefen het sodat sy ’n geheime stemmery, soos wat die EFF versoek het, toelaat.”

Magashule beweer ook die EFF het geheime agente in die ANC met die doel om die party te verdeel.

“Die ANC werk hard daaraan om sy lede te verenig, maar Derek Hanekom is in ons midde en hy probeer ’n wig tussen ANC-lede dryf,” sê Magashule.

Hy sê “dié kwaksalwer” (Hanekom) dryf sy agenda as voorsitter van die Ahmed Kathrada-stigting omdat hy nie die kapasiteit het om ’n nuwe politieke party te stig nie.

“Ons het aan hom en ander geheime agente van die EFF in die ANC gesê dit maak lede van die NUK, provinsiale uitvoerende komitee en die takke meer vasbeslote om die ANC te verenig en dienste aan Suid-Afrikaners te lewer,” sê Magashule.

Magashule sê die ANC skaar hom agter pres. Cyril Ramaphosa en al die ANC-lede wat in goeder trou opgetree, “om Hanekom se afwykende negatiewe optrede te verwerp”.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Derek Hanekom  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.