Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace se kantoor bekyk . . . Ace

Die “hoofverdagte” het die opdrag vir die ondersoek na onder andere homself opgestel, sy kantoor ondersteun die ondersoek na hom en die verslag oor die ondersoek moet aan hom oorhandig word.

Sy kantoor sal ook as sekretariaat dien vir die komitee.

Ace Magashule

Dit is die vreemde omstandighede in die ANC se ondersoek na Ace Magashule, sekretaris-generaal van die party, en ander partylede se beweerde betrokkenheid by die stigting van ander politieke partye met die doel om die ANC se meerderheid in die verkiesing te verklein.

Magashule word daarvan verdink dat hy betrokke was by die stigting van die African Transformation Movement (ATM).

Buyisile Ngqulwana, sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Raad van Messiaanse Kerke in Christus (SACMCC), noem Magashule se naam in ’n beëdigde verklaring wat ingedien is as deel van ’n regstryd teen die ATM in die kieshof.

Dié saak is intussen teruggetrek hangende ’n ondersoek deur die Verkiesingskommissie (OVK) om vas te stel of die ATM voor die verkiesing in Mei op die regte manier geregistreer is.

In die verklaring beweer Ngqulwana dat Magashule die party aangeraai het om nie ’n alliansie met die ANC te vorm nie en eerder sy eie organisasie te stig.

Hy beweer ook Magashule het voorgestel dat die woord “beweging” in die party se naam gebruik word eerder as die woord “kongres”, wat die party aanvanklik wou gebruik.

Die ANC sê in ’n verklaring sy nasionale uitvoerende komitee (NUK) het op 31 Mei besluit om die saak te ondersoek.

Volgens Times Live is die ANC-regslui Krish Naidoo en oudadjunkminister Andries Nel gevra om die opdrag vir die party se ondersoekspan op te stel. Sy kantoor sal volgens SABC News ook optree as sekretariaat vir die komitee.

Naidoo het Dinsdagaand gesê die ondersoekopdrag sal voor die einde van die week gereed wees.

Volgens News24 het Magashule die opdrag reeds aan die komitee uitgestuur. Die komitee sal sy bevindings ook aan Magashule se kantoor oorhandig.

Die NUK sal moontlik volgende week in Kaapstad vergader om die opdrag na te sien.

Die werkkomitee het Dinsdag vergader en besluit om ’n ad hoc-komitee te stig wat gelei word deur oudpres. Kgalema Motlanthe en Frene Ginwala.

“Ons hoop dat die komitee sy werk binne die volgende 60 dae sal voltooi,” lui die verklaring.

Volgens Times Live het ’n ANC-komiteelid gesê Motlanthe is aangestel omdat “hy nie nonsens duld nie” en “vir niemand bang is nie”.

Volgens News24 sal die komitee ook kyk of enige partylede moontlik betrokke was by die stigting van die klomp klein partye wat in die aanloop tot die algemene verkiesing soos paddastoele verrys het.

Volgens dié ANC-komiteelid is die kwessie nie of mense by die stigting van die ATM betrokke was nie. “ANC-leiers wás betrokke. Ons wil weet wat die omvang daarvan was,” berig Times Live.

Hy het gesê daar is genoeg inligting dat Motlanthe se paneel ’n volledige ondersoek kan doen.

“Jy kan nie ANC-leiers hê wat die party van binne af ondermyn nie,” het hy gesê. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.