Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace se lot dalk naweek verder bespreek

Ace Magashule, geskorste ANC-sekretaris-generaal, se politieke lot sal na verwagting die naweek op ’n spesiale vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) bespreek word.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het Vrydag bevestig dat die NUK van Saterdag tot Maandag aanlyn oor verskeie belangrike partykwessies vergader.

Magashule se lot sal hoog op die agenda wees as die party die inwerkingstelling van sy opsystaan-besluit bespreek.

Dit veral nadat Magashule Woensdagaand hoogdrama in die party veroorsaak het toe hy kort nadat sy tydelike skorsingsbrief openbaar geword het vir pres. Cyril Ramaphosa as ANC-president in twee uitgelekte dokumente “geskors” het.

Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC. Foto: Argief

Die ANC het egter onmiddellik teruggekap en gesê dat Magashule geen magte het om enigiemand te skors nie.

Die party het ook bevestig dat Magashule en alle ander ANC-lede se tydelike skorsings staan. Hulle is tydelik geskors omdat hulle nie hul poste ná die 30 dae wat die party hulle einde Maart gegee het, vrywillig ontruim het nie. Dit is omdat hulle in ’n hof teregstaan op aanklagte van korrupsie en ander ernstige misdaad.

Intussen het ’n ingeligte bron bevestig dat Ramaphosa en die res van die ANC se topsesleierskap, behalwe Magashule, Vrydag in Luthuli-huis sal vergader om onder meer regsadvies in te win oor of Magashule toegelaat moet word om die spesiale NUK-vergadering by te woon en oor watter ander stappe teen hom gedoen mag word.

Volgens die bron eis sommige ANC-leiers dat Magashule ná Woensdagaand se manewales getugtig moet word omdat hy daarmee die voorwaardes van sy skorsing geskend het.

Mabe was Vrydag nie beskikbaar vir kommentaar hieroor nie.

Hy het egter in ’n verklaring oor die komende NUK-vergadering gesê dat ander punte wat daarop bespreek sal word verslae is van die party se integriteitskommissie en die opstel van ’n appèlpaneel vir die kommissie.

Die Covid-19-pandemie en die inentingsprogram, komende munisipale verkiesing, ANC-verkiesingsveldtogte en ’n verslag oor die proses om die Grondwet te wysig om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak, is van die ander kwessies wat bespreek sal word.

Meer oor:  Anc  |  Ace Magashule  |  Vergadering  |  Nuk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.