Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace se naam duik op in Zondo-ondersoek na SAL

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, se naam is pertinent aan ’n oudhoof van finansies by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) genoem as ’n dryfveer waarom die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie (VOK) by ’n R15 miljard-lening aan die SAL betrek moes word.

Phumeza Nhantsi, voormalige hoof van finansies by die SAL. Foto: Felix Dlangamandla

Phumeza Nhantsi, voormalige hoof van finansies by die SAL, het Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig dit is pertinent aan haar genoem dat die een direkteur van die VOK Magashule se broer is.

Die VOK het teenstrydig met alle regulasies van die nasionale tesourie probeer om as agent op te tree en ’n lening van R15 miljard vir die SAL te kry.

Nhantsi het aan die Zondo-kommissie erken sy het ’n paar foute gemaak toe sy by die SAL gewerk het.

Sy het onder meer erken dat sy nie die SAL-raad teen só ’n lening gewaarsku het en dat dit onwettig sou wees nie.

Sy was slegs vier dae in haar nuwe werk toe die SAL-raad vergader het. Sy het boonop verkeerdelik aanvaar mense tree te goeder trou op en sy het nie besef “daar was mense wat diep sakke wou vul nie”.

Nhantsi het getuig Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-raad, het kwaai druk op haar geplaas, asook Masotsha Mngadi, wat in vele hoedanighede by die SAL betrokke was, naamlik as raadgewer vir Myeni, as ’n direkteur van BnP Capital wat raadgewersfooie van die SAL geëis het, en ook as werknemer van Nedbank.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Skermgreep

Mngadi het aan Nhantsi gevra: “Hoekom werk jy nie met ons saam nie?”

Die druk was nie net van Mngadi af nie, maar ook van Myeni, het Nhantsi getuig.

Nhantsi het getuig dat sy en Myeni voorheen goed oor die weg gekom het. Myeni het selfs kort nadat sy by die SAL begin werk het aan haar gesê die rede waarom niemand ooit iets teen haar (Myeni) sal kry nie, is omdat sy niks op skrif sit nie.

Adv. Kate Hofmeyr, ondervraer van die kommissie, het Nhantsi gevra of sy dit bloot aanvaar het dat dit onreëlmatig was dat Mngadi by BnP ’n direkteur was, asook ’n werknemer van Nedbank.

Binne ses dae is deur WhatsApp-boodskappe en oproepe, onder meer van Myeni af, baie druk op haar geplaas om die fooi aan te beveel.

Nhantsi sê sy het vir Mngadi daaroor gevra, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie.

Sy het nie die saak verder gevoer nie.

Nhantsi het getuig indien sy die tyd gehad het, sou dit beter gewees het om uit te vind waarom Mngadi by albei betrokke was.

Zondo het gevra hoekom sy nie reguit vir Mngadi gevra het nie. Sy het dit ook met niemand opgeneem nie. Wat dink sy was haar verantwoordelikheid hieroor, het Zondo gevra.

Adv. Kate Hofmeyr, ondervraer van die kommissie. Foto: Skermgreep

Nhantsi sê om eerlik te wees, het sy gevra, maar sy het dit nie so ernstig beskou om dit verder te voer nie. Sy het nie regtig ’n rede waarom sy dit nie gedoen het nie.

Hofmeyr het Nhantsi gevra om ook te getuig oor ’n kansellasiefooi wat BnP van die SAL geëis het vir ’n kontrak wat gekanselleer is. BnP het aanvanklik R129 miljoen geëis, maar dit tot R49,9 miljoen verminder.

Nhantsi het getuig dit het as ’n skok gekom dat BnP ’n kansellasiefooi van R129 miljoen geëis het.

Binne ses dae is deur WhatsApp-boodskappe en oproepe, onder meer van Myeni af, baie druk op haar geplaas om die fooi aan te beveel.

Terwyl Mngadi nie vir die SAL gewerk het nie, het hy vir Nhantsi in ’n WhatsApp-boodskap gewaarsku: “Ons het jou aangestel. Jy moet besluite neem.”

Sy was baie bang oor die besluite wat sy moes neem en het aan haar man gesê sy is nie meer seker of sy by SAL moes gaan werk het nie.

Hofmeyr het Nhantsi gevra hoekom het sy nie die fluitjie geblaas toe sy gedink het Myeni vind baat by die BnP-kontrak nie.

Nhantsi sê sy wou, maar dit is die eerste keer dat sy in die openbare sektor werk, sy het vrae gehad oor wat dan gaan gebeur.

Die sitting duur Woensdag voort.

Meer oor:  Sal  |  Zondo-Kommissie  |  Ace Magashule  |  Lening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.