Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace se nalatenskap ‘verlam Vrystaat’

Ace Magashule se rol in die ineenstorting van ANC-steun in die Vrystaat hou regstreeks verband met die verskroeide aarde wat die jongste syfers oor dié provinsie skets.

Ace Magashule se nalatenskap ná tien jaar as premier in die Vrystaat is stygende werkloosheid, voortslepende korrupsie en hordes wit olifante soos die Vrede-suiwelprojek en die visteelprojek. Foto: Mlungisi Louw

’n Styging in betogings onder sy premierskap is net een van die kommerwekkende syfers wat die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) vandeesweek onthul het.

Gerbrandt van Heerden, ’n navorsingsontleder by die instituut, sê die Vrystaat, wat naas die Noord-Kaap die kleinste bevolking in die land het, toon die hoogste styging in die voorkoms van onluste sedert 2016.

Die getal betogings het van 137 in die 2016-’17-boekjaar tot 215 in 2017-’18 gestyg. “Dit is ’n toename van 22%.”

Dr. Ina Gouws, senior lektor in die departement politieke studie en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê Magashule se nalatenskap het die Vrystaat verlam.

“Te wyte aan hom en sy netwerk van patronaatskap ontbreek die nodige vaardighede, vermoë en opregte voorneme om die werk te doen wat gedoen moet word.”

Die gevolge is duidelik in die werkloosheidsyfer wat konstant rondom 39% (meer as die nasionale gemiddeld) is en dus ook die armoede waarmee die meeste mense in die provinsie daagliks moet saamleef.

Maar die faktore wat tot dié stand van sake bydra, kan nie in kompartemente bespreek word nie, sê sy.

“Werkloosheid, armoede, haweloosheid – hierdie verskynsels is onlosmaaklik geïntegreer.”

In die maatskaplike kontrak wat die provinsiale regering in die Vrystaat met inwoners aangegaan het, het die provinsie in die meeste van die regeringskategorieë misluk.

Dit is nou onmoontlik om nuwe beleggings, wat ekonomiese groei kan voortbring, te stimuleer.

Ace Magashule se nalatenskap ná tien jaar as premier in die Vrystaat is stygende werkloosheid, voortslepende korrupsie en hordes wit olifante soos die Vrede-suiwelprojek en die visteelprojek. Foto: Mlungisi Louw
Ace Magashule se nalatenskap ná tien jaar as premier in die Vrystaat is stygende werkloosheid, voortslepende korrupsie en hordes wit olifante soos die Vrede-suiwelprojek en die visteelprojek.Foto: Mlungisi Louw

Beleidsprojekte wat veronderstel is om armoede in die provinsie te verlig, misluk ook weens swak regering. Die vertraagde spoed waarteen HOP-huise gebou en aan begunstigdes oorhandig word, is ’n voorbeeld.

Die 2017-’18-verslag van die departement van behuising toon aan die ouditeur-generaal het groot probleme rondom HOP-huise geïdentifiseer.

“Die plan was om 5 737 huise te bou, maar slegs 2 898 is toe gebou. Redes wat voorgehou word, is dat projekte laat begin het weens geotegniese ondersoeke en dat kontrakte met sekere kontrakteurs weens swak dienslewering beëindig moes word.”

Die ouditeur-generaal het in sy verslag gesê dié departement het in 2018 onreëlmatige uitgawes van R651 973 000 aangegaan. Verder moes hulle R26 952 000 bestee om swak geboude huise te herstel.

Die regerende party het myns insiens nie die vermoë om hierdie probleme suksesvol te hanteer of om hom verantwoordelik te hou nie.

“Die Vrystaat maak op mynbou en landbou staat vir werkskepping. ’n Provinsiale regering is nodig wat kreatief en konstruktief kyk hoe die potensiaal ontgin kan word, asook hoe daadwerklik opgetree kan word om munisipaliteite reg te ruk.

“Daarvoor is goeie regering nodig: verantwoordbaarheid, oorsig, deursigtigheid. Magashule het hierdie beginsels basies vernietig.

“Die regerende party het myns insiens nie die vermoë om hierdie probleme suksesvol te hanteer of om hom verantwoordelik te hou nie.”

* Die Vrystaat het volgens die IRR die beste matriekslaagsyfer (86,1%) en die hoogste verhouding van huishoudings wat krag vir beligting (92,7%) en kookdoeleindes (85,5%) gebruik. Die provinsie vaar egter die swakste wat aanduiders soos die lewensverwagting by mans en vroue (onderskeidelik 53,1 en 58,8) en die veediefstalkoers (140 per 100 000) betref.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Vrystaat  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.