Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Ace se Pierneef’ terug in Vrystaat

Die Pierneef-skildery wat Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier en nou sekretaris-generaal van die ANC, glo aan sy lyfwag gegee het, is terug in die provinsie.

Die Valke het die skildery van tussen R6 miljoen en R8 miljoen Woensdag aan die Vrystaatse provinsiale regering teruggegee.

Tiisetso Makhele, woordvoerder van die Vrystaatse premier, sê die Valke het die skildery amptelik oorhandig.

Die kosbare Pierneef van tussen R6 miljoen en R8 miljoen is Woensdag amptelik deur die Valke aan die Vrystaatse provinsiale regering terugbesorg. Bertus Venter, adjunk-direkteur-generaal van korporatiewe administrasie en koördinasie (links), en Kapung Ralikontsane, direkteur-generaal van die Vrystaatse provinsiale regering, staan hier by die skildery. Foto: Verskaf

Dit volg nadat die skildery by die afslaers Strauss & Co. in Johannesburg vir waardering ingehandig is. Dié onderneming het onraad vermoed en die Valke betrek.

Die lyfwag, Ricardo Mettler (41) van Bloemfontein, het vroeër aan Netwerk24 gesê wat gebeur het “was net ’n menslike fout”.

Volgens hom het die skildery in die private besittings van Magashule beland toe hy sy kantoor ontruim het. Magashule het dit agterna aan hom gegee.

Makhele sê die Vrystaatse regering is baie bly om die skildery terug te kon kry.

Die Valke het die skildery formeel aan die direkteur-generaal van die provinsiale regering, Kopung Ralikontsane, en die adjunk direkteur-generaal van korporatiewe administrasie en koördinasie, Bertus Venter, oorhandig.

Makhele het bevestig dat die skildery wat vermis geraak het, inderdaad die provinsiale regering se eiendom is. Dit is voor 1994 aangekoop om te verseker dat dit moontlik vir die mense van die Vrystaat sou wees om die skoonheid van dié wonderlike kunswerk te geniet.

Makhele sê in ’n mediaverklaring die provinsiale regering is inderdaad baie bly dat die skildery terug is.

“Soos wat ons in ’n vorige verklaring gesê het, sal ons voortgaan om met die wetstoepassingsagentskappe saam te werk om die saak tot sy logiese einde te bring.”

“Dit is ons siening dat die reg sy gang moet gaan en dat diegene wat hulle aan die verkeerde kant van die wet bevind, daarvoor gestraf moet word,” het Ralikontsane gesê.

Kapt. Ramovha Lloyd van die Valke het Woensdagaand gesê daar is nog geen nuwe ontwikkelings in die ondersoek nie.

Meer oor:  Valke  |  Ace Maga­Shule
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.