Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace se plan ‘om Zondo se tande te trek’
Ace MagashuleFoto: Argief

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, is glo besig met ’n strategie om die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se tande te trek.

En die pad wat hy volg, is glo ’n veldtog om pres. Cyril Ramaphosa vanaf middel aanstaande jaar herroep te kry sodat hy adj.pres. David Mabuza, wat Ramaphosa se amp en die leierskap van die ANC sal oorneem, se adjunk kan word.

Volgens ontleders en betroubare bronne is Magashule hard aan die werk om Ramaphosa op die nasionale algemene raadsvergadering van die ANC middel volgende jaar tot verantwoording te roep.

Dit gaan glo oor besluite van die ANC oor sake soos grondhervorming en die nasionalisering van die Reserwebank.

“Die nasionale algemene raadsvergadering word dan die basis vir die organisasie en mobilisasie van steun téén Ramaphosa en ten gunste van ’n spesiale konferensie waarop leierskap kan verander,” het ’n ingeligte aan Netwerk24 gesê.

Magashule se aspirasie is om adjunk-president van die ANC te word, hopelik van Ramaphosa ontslae te raak en ook die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek, in sy spore te stuit.

Om ’n spesiale konferensie belê te kry, moet hy ’n derde van die legitieme ANC-takke se steun kry.

Ingeligte bronne sê hy volg nou die roete om met premiers en hul provinsiale uitvoerende komitees (PUK-lede) in provinsies te vergader, soos wat hy onlangs in Parys in die Vrystaat gedoen het.

Op dié vergaderings kommunikeer hy besluite van die party se nasionale uitvoerende komitee om kernaspekte in plek te kry, maar ook om netwerke te vestig en “stukkie vir stukkie” te bou aan sy doelwit en strategie.

Dit alles word glo gedoen sodat daar aanstaande jaar ’n kruisie agter sy naam kan kom vir die amp van adjunkpresident.

Magashule meen volgens bronne hy kan staatmaak op die steun van die meerderheid in die ANC in Gauteng, KwaZulu-Natal en Limpopo en dat hy die Vrystaat “as ’n gegewe bestempel”, mits die provinsie nie weer soos in 2012 en 2017 buite stemming moet bly nie.

Hy gebruik invloedryke ANC-lede soos Malusi Gigaba, ’n voormalige minister en sterk leiersfiguur in die Zuma-tydperk, en Nomvula Mokonyane, voormalige minister van waterwese en sanitasie, wat albei nou saam met hom in Luthuli-huis werk. Dié mense het almal netwerke wat kan help om sy doelwitte te bereik.

Toe Netwerk24 hom Dinsdag om kommentaar gebel het, het hy twee keer sy telefoon doodgedruk.

Vir prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, lyk dit na Magashule se antwoord op die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping – iets wat sy loopbaan en toekoms bedreig. Hy organiseer en mobiliseer mag met die ANC as politieke voertuig.

“Hy gebruik invloedryke ANC-lede soos Malusi Gigaba, ’n voormalige minister en sterk leiersfiguur in die Zuma-tydperk, en Nomvula Mokonyane, voormalige minister van waterwese en sanitasie, wat albei nou saam met hom in Luthuli-huis werk. Dié mense het almal netwerke wat kan help om sy doelwitte te bereik.”

Hy sê dit is nou belangrik vir Magashule om politieke netwerke en strukture in veral die provinsiale uitvoerende komitees van die ANC asook die groter alliansie na aan hom te kry met die oog op die nasionale algemene raadsvergadering.

Duvenhage sê hy reken hulle wil Ramaphosa terugroep sodat Magashule die adjunkpresident onder Mabuza se presidentskap kan word.

Duvenhage sê dié strategie toon groot ooreenkomste met die strategie wat oudpres. Jacob Zuma destyds baie suksesvol teen sy voorganger Thabo Mbeki gebruik het.

“Dit is baie duidelik dat die groot magstryd in die ANC nog voor die deur lê; dit is nog nie gewen of verloor nie. Magashule staan sentraal in die stryd teen Ramaphosa, eenheid in die ANC is op die spel en dit is ’n toets nie net vir die presidentskap van Ramaphosa nie, maar ook ’n enorme uitdaging vir die oppergesag van die reg en selfs vir die groter demokratiese grondwetlike bedeling in Suid-Afrika.”

Dit is baie duidelik dat die groot magstryd in die ANC nog voor die deur lê; dit is nog nie gewen of verloor nie.

Dit is ’n stryd om mag (die ANC en staatskapers) teenoor die reg (die grondwetlike bedeling).

“Dit gaan myns insiens die Zondo-kommissie se ondersoek onder politieke druk plaas.”

Daar is reeds tans uit verskillende sektore groot druk op die Ramaphosa-bewind, waaronder die ekonomie en dienslewerings-uitdagings op talle vlakke, met inbegrip van Eskom. Dit laat Ramaphosa kwesbaar en forseer hom om sterk besluite te neem.

“Die volgende ses maande gaan baie interessant en ook uitdagend wees,” meen Duvenhage.

Prof. Hussein Solomon, senior professor in die departement van politieke studies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê Magashule was nog altyd ambisieus en dit lyk nie asof Ramaphosa beslissend teen hom optree nie.

“Ramaphosa gee Magashule te veel ruimte om homself te bemagtig én om sy eie faksie se mense in organisasies en strukture aan te stel. Verder is daar ook Ramaphosa-ondersteuners wat vertroue in hom begin verloor oor die sukkelende ekonomie van die land.”

Magashule kan dié omstandighede misbruik om sy mag verder te versterk en uit te bou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.