Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace se ‘staatskaaplys’

Een het vir die hof gelieg. Een het byna die stelsel vir maatskaplike pensioene in duie laat stort en ’n ander het na bewering omkoopgeld- en geskenke ontvang. Al drie word boonop by beweerde staatskaping betrek.

Al drie is egter nou deur die ANC geweeg en geskik bevind om kandidate in die komende algemene verkiesing te wees. Een is selfs onder die top 10 name op die parlementêre kandidatelys.

Dakota Legoete, waarnemende woordvoerder van die ANC, het Woensdagoggend bevestig dat Malusi Gigaba, Bathabile Dlamini en Nomvula Mokonyane se name op die ANC se parlementêre kandidatelys vir die algemene verkiesing op 8 Mei verskyn.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC het Woensdagmiddag die verkiesingskommissie (OVK) se hoofkantoor in Centurion binnegestap om die ANC se kandidatelyste in te dien. Die spertyd was 17:00.

Magashule het eers met joernaliste gepraat.

Hy wou nie die name op die lys bekend maak nie omdat dit volgens hom die prerogatief van die OVK is. Hy het wel later die middag die top 10 name op die parlementêre lys onthul.

Ace Magashule (middel) sekretaris-generaal van die ANC daag gister by die Verkiesingskommissie (OVK) se kantore in Centurion op om sy party se kandidatelyste vir die algemene verkiesing op 8 Mei in te handig. Foto:
Malusi GigabaFoto: SIYASANGA MBAMBANI
Nomvula MokonyaneFoto: MORAPEDI MASHAHSE/DAILY SUN

Magashule is met vrae gepeper oor die insluiting van Gigaba (oudminister van binnelandse sake), Dlamini (voorheen minister van maatskaplike ontwikkeling en deesdae minister van vroue in die presidensie), Mokonyane (minister van omgewingsake) en ook Mosebenzi Zwane (oudminister van minerale bronne) wat sentraal staan in die beweringe oor staatskaping en wie se naam óók op die lys is.

Gigaba, wat verlede jaar ná groot druk as minister van binnelandse sake bedank het, is al daarvan beskuldig dat hy in dié hoedanigheid en as minister van finansies die Gupta-familie gehelp het.

Die konstitusionele hof het in September verlede jaar bevind Dlamini is in haar persoonlike hoedanigheid verantwoordelik vir 20% van die regskoste vir die Sassa-debakel waarin sy ’n sleutelrol gespeel het.

Dié hof ook gelas dat die Nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet bepaal of Dlamini vir meineed vervolg moet word.

Mokonyane het volgens getuienis deur Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van die eertydse Bosasa, voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping omkoopgeskenke en maandelikse betalings as omkoopgeld van die Bosasa ontvang.

Die ANC se top 10:

Cyril Ramaphosa

David Mabuza

Gwede Mantashe

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma

Ronald Lamola

Fikile Mbalula

Lindiwe Sisulu

Zweli Mkhize

Bheki Cele

Nomvula Mokonyane

Daar is al sedert verlede jaar, selfs uit ANC-geledere, groot druk op pres. Cyril Ramaphosa om Dlamini en Mokonyane te pos.

Magashule het gesê nie een van dié mense is nog deur enige hof skuldig bevind nie. Hulle is nie eens aangekla nie.

Daarom is daar geen rede om hul name van die lys te verwyder nie. Mense met misdaadrekords was onder die 20 wie se name wel verwyder is.

“Ons is Suid-Afrikaners, ons is die ANC, ons respekteer die Grondwet. Wat anders kon ons doen?

“Hierdie was ’n baie demokratiese proses. Ons het die riglyne van die (ANC se) nasionale uitvoerende komitee streng gevolg. Ons het altesame 26 vergaderings oor dié kwessie gehou,” het Magashule gesê.

Solly Malatsi, nasionale woordvoerder van die DA het die ANC beskryf as “moreel bankrot” weens die insluiting van “Zuma- en Gupta-lojaliste” op sy lys.

Hy het gesê die ANC het duidelik geen planne om ’n nuwe blaadjie om te slaan nie. “Trouens, dit lyk of die ANC meer vasbeslote as ooit tevore is om as ’n rampokker-onderneming, wat skaamteloos en onverstoord van die armes steel.”

Die ANC het vroeër bevestig oudpres. Jacob Zuma is ook as kandidaat benoem (nr. 74 op die lys), maar Magashule het gister bevestig dat Zuma die benoeming van die hand gewys het.

Geklee soos ’n boer – kompleet met ’n kakiebroek en –hemp - het Andile Mngxitama, leier van Black First Land First (BLF), Woensdagmiddag by die OVK-kantore opgedaag om sy party se kandidatelyste in te dien.

Verteenwoordigers van partye het veral in die middag in groot getalle opgedaag. Dit sluit in die DA, Cope, die IVP en die PAC.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.