Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace skerm vir Zuma: ‘Hy het nie alleen opgetree’
Ace MagashuleFoto: DAILY SUN

Oud-pres. Jacob Zuma moenie alleen vir beweerde staatskaping of korrupsie geblameer word nie, sê Ace Magashule, ANC sekretaris-generaal.

Dit is omdat die kabinet én die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) volgens Magashule alle besluite in Zuma se termyn as ’n kollektief geneem het.

Magashule het dit Sondagoggend in ’n omvattende onderhoud met die televisienuuskanaal NewzRoom Afrika gesê en daarin ook aangevoer dat Zuma se verwydering as ANC-leier en staatshoof deel is van ’n groter agenda om die ANC te verswak en te vernietig.

Volgens Magashule is baie “goeie leiers” in Afrika en die wêreld weens bewerings van korrupsie uit hul poste verwyder.

Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales staan tans in die hooggeregshof in Pietermaritzburg tereg op 16 aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery of rampokkery weens die destydse wapenskandaal.

Hy word ook saam met die omstrede Gupta-broers as die baasbrein agter bewerings van staatskaping en grootskaalse plundery van staatsentiteite beskou terwyl hy president was.

As die ANC neem ons kollektiewe verantwoordelikheid, Zuma was daar saam met ministers. Was hierdie ministers robotte?

Magashule is ’n stoere Zuma-lojalis en word tans beskou as pres. Cyril Ramaphosa se grootste opponent in die ANC.

Hy het verder in die onderhoud gesê daar is tot dusver geen bewyse vir die bewerings teen Zuma nie.

Magashule blameer ook die media vir die “doelbewuste” leuens oor en bewerings teen Zuma en ander ANC-leiers wat versprei word om die ANC “uit mag te spoel”.

“En mense skryf boeke daaroor en herhaal dieselfde gerugte.

“Dit is tyd vir revolusionêre en gewone mense om die groter prentjie te sien en op te staan om die winste van ons revolusie te verdedig.”

Vroeër is berig hoe Magashule self in die boek Gangster State: Unraveling Ace Magashule’s Web of Capture deur Pieter-Louis Myburgh geskilder word as ’n soort sentrale mafiabaas in ’n regeringsnetwerk wat die Vrystaat geplunder het toe hy premier was.

Magashule is in die onderhoud Sondag ook gevra oor Zuma se rol in staatskaping nadat die Zondo-kommissie van ondersoek verlede week ook gehoor het dat korrupsie hoogty gevier het in sy tyd as president.

ANC-leiers en -lede moet net so regverdig soos enige ander landsburger voor die reg behandel word. Daar is geen Animal Farm hier nie. Mense is onskuldig tot dit anders deur ’n hof bewys word.

Volgens Magashule het Zuma as staatshoof en ANC-president besluite as ’n kollektief saam met sy kabinet en die party se nasionale uitvoerende komitee geneem.

“As die ANC neem ons kollektiewe verantwoordelikheid, Zuma was daar saam met ministers. Was hierdie ministers robotte?

“Dinge het deur die kabinet en NUK gegaan. Wil jy sê die ministers was bang vir Zuma?

“Ek ken nie daardie ministers of mede-ANC-leiers as mense wat hulle nie oor iets kan uitspreek nie. Sê jy Zuma is korrup? Nee.”

Volgens Magashule word Zuma alleen geblameer terwyl dit ministers en direkteurs-generaal was wat die onderskeie departemente bestuur het.

Daar moet volgens hom ook na albei kante van die bewerings van korrupsie geluister word.

“ANC-leiers en -lede moet net so regverdig soos enige ander landsburger voor die reg behandel word. Daar is geen Animal Farm hier nie. Mense is onskuldig tot dit anders deur ’n hof bewys word.”

Magashule meen dit is wat alle landsburgers verwag.

“Jy kan nie môre net bewerings teen Magashule maak en dink dat ek daarom van my pos moet afstand doen nie. Ek sal dit nooit doen nie. Ek moet net so regverdig soos alle ander Suid-Afrikaners voor die reg behandel word.”

Meer oor:  Ace Magashule  |  Jacob Zuma  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.