Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace 'skors' Cyril — nagtelike drama

Geen individu, insluitende Ace Magashule, geskorste ANC-sekretaris-generaal, is by magte om enige ANC-lid te skors nie.

Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het Woensdagaand laat só gereageer in ’n nag van hoogdrama in die regerende party waarin Magashule in twee uitgelekte dokumente klaarblyklik ook vir pres. Cyril Ramaphosa uit die party “geskors” het.

Magashule kondig daarin ook sy onmiddellike appèl teen sy eie tydelike skorsing aan wat dit glo “ophef”, terwyl hy alle ander ANC-lede wat Woensdag ook skorsingbriewe van Duarte ontvang het, aanhits om ook te appelleer.

Duarte neem ná Magashule se skorsing tydelik as sekretaris-generaal waar.

Die ANC was weens dié bisarre verloop van partysake genoodsaak om Woensdagaand laat dringend ’n verklaring in reaksie op die uitgelekte Magashule-dokumente uit te reik.

“Die ANC neem kennis van die brief deur Magashule aan pres. Cyril Ramaphosa,” het Pule Mabe, ANC-woordvoerder, in die verklaring gesê.

Volgens Mabe bly die besluit van krag van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) en nasionale werkkomitee (NWK) dat Magashule en ander ANC-lede wat nie vrywillig hul poste binne die gegewe 30 dae ontruim het nie, met onmiddellike effek geskors is.

“Die NUK sal oor die naweek vergader en sal gevolglik op die sekretaris-generaal (Magashule) reageer. Die ANC versoek die sekretaris-generaal om die NUK-besluite te respekteer en om homself aan die dissipline van die organisasie te onderwerp.”

Die ANC neem kennis van die brief deur Magashule aan pres. Cyril Ramaphosa.

Duarte het verder Woensdagaand aan Netwerk24 gesê net die NUK of NWK kan ’n ANC-lid skors.

Magashule het dus geen magte as sekretaris-generaal om Ramaphosa te skors nie, hy kan slegs mense inlig oor wat die NUK of NWK besluit het.

Die egtheid van die twee Magashule-dokumente wat Woensdag wyd op verskeie sosialemediaplatforms versprei is, kon nog nie met Magashule self bevestig word nie.

Carl Niehaus, woordvoerder van Umkhonto we Sizwe se veteranevereniging en stoere Magashule-lojalis, het egter Woensdagaand aan Netwerk24 gesê die dokumente is eg.

Magashule “skors” in die dokumente vir Ramaphosa in sy hoedanigheid as “ANC-sekretaris-generaal”.

Dit is ondanks sy eie skorsingsbrief, wat Woensdag ook uitgelek het, wat onder meer lui dat Magashule tydens sy tydelike skorsing – wat vanaf 3 Mei van krag is – nie enige pligte en verantwoordelikhede van sy kantoor as sekretaris-generaal mag uitvoer nie.

Hy mag ook nie die ANC in die openbaar of op enige platform verteenwoordig nie, hom ook nie oor enige ANC-aangeleenthede in die openbaar uitlaat of enige ANC-strukture, enige ander organisasies of individue mobiliseer oor onder meer die opsystaan-kwessie en ander verwante aangeleenthede nie.

Magashule voer in die uitgelekte dokumente ook aan dat Duarte nie gemagtig was om die skorsingsbriewe aan hom of die ander ANC-lede uit te reik nie én dat die briewe op ’n selektiewe en faksionele interpretasie van die relevante resolusie gegrond is.

Hy hou vol sy skorsing is ongrondwetlik.

In ’n brief aan Ramaphosa voer Magashule aan dat Ramaphosa en sy ondersteuners met sy CR17-veldtog “geld ingesamel het in ’n poging om die (ANC-)takke te kry om jou uiteindelik as ANC-president te verkies”.

“Dit is algemene kennis dat hierdie aangeleentheid hangend voor ons howe is en die CR17-dokumente verseël bly. Kameraad die president, jy sal onthou dat behalwe dat hierdie aangeleentheid by ons wetstoepassingsagentskappe aangemeld is, het die ANC ook die gebruik en die rol van geld in sy interne verkiesings op konferensies betreur.”

Magashule “skors” dan namens die NWK vir Ramaphosa weens bogenoemde beweringe tydelik hangende interne ANC-prosesse en die afhandeling van bogenoemde hofsake.

Hy is eintlik net die sekretaris van die NWK en NUK wat die liggame se besluite op mediakonferensies moet kommunikeer. Waar kry hy die reg om namens die NUK op te tree teen die party-president?

Theo Venter, ’n politieke ontleder, beskryf Magashule se optrede as niks anders nie as ’n “terugdrukpoging deur Magashule en die faksie vir radikale ekonomiese transformasie”.

Venter stem saam met Duarte dat Magashule as sekretaris-generaal niemand uit die ANC kan skors nie.

“Hy is eintlik net die sekretaris van die NWK en NUK wat die liggame se besluite op mediakonferensies moet kommunikeer. Waar kry hy die reg om namens die NUK op te tree teen die party-president?

“Die skorsingsbriewe wat Duarte uitgereik het, was amptelik en in oorleg met die NWK- en NUK-besluite.”

Die politieke ontleder dr. Ralph Mathekga meen die uittarting deur Magashule was voorspelbaar.

“Die ANC moet seker maak sy strukture en ANC-lede word nie nou opgestook om te rebelleer nie. Dit lyk of Ace besig is om ’n massa-uittarting te orkestreer.” – Llewellyn Prince, Vicus Burger, Sarel van der Walt en Marietjie Gericke

Meer oor:  Nuk  |  Ace Magashule  |  Korrupsie  |  Cyril Ramaphosa  |  Opsystaan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.