Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace ‘staan nie opsy en takke moet besluit’

Ace Magashule, beleërde sekretaris-generaal van die ANC, sê hy sal nie opsy staan nie en dat die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC dié saak aan ANC-takke gegee het om ’n besluit te neem.

Dié besluit sal dan van die takke af aan die NUK oorgedra word, het Magashule Vrydag gesê op ’n mediakonferensie in Bloemfontein nadat hy vir die tweede keer in die landdroshof in die stad verskyn het op aanklagte van bedrog.

Magashule het verwys na Benjamin Netanyahu, Israelse premier, wat ook tans in ’n hofstryd oor korrupsie gewikkel is, en gesê hy is steeds premier.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, ry deur die strate van Bloemfontein ná sy verskyning in die landdroshof in die stad. Foto: Mlungisi Louw

“Ek is die sekretaris-generaal van die ANC en is onskuldig totdat daar deur ’n bevoegde hof anders bewys word. Daar was géén verkeerde handeling van my kant af nie en ek was nie betrokke by die isolering van tenders sodat nabye vriende, familie of mense met goeie konneksies hierby baat kon vind nie.”

Magashule het gesê hy hou die mediakonferensie om diegene wat hom vir sy tweede hofverskyning kom ondersteun het, te bedank.

“Mense het van alle uithoeke van die samelewing in groot getalle gekom om hul solidariteit en ongelooflike kameraadskap te kom wys. Ongelukkig is die tweede vlaag van die Covid-19-pandemie aan die gang en geld vlak drie-inperkingsmaatreëls, wat veroorsaak dat ek nie die ANC-lede kon toespreek nie.”

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, krap sy kop terwyl hy van die landdroshof in Bloemfontein wegstap. Foto: Mlungisi Louw

Hy voel nietemin nederig en dankbaar teenoor diegene wat gekom het om hom te ondersteun.

Op die vraag wie vir hul reisgeld betaal het, het hy gesê hy weet nie “omdat ek nêrens betrokke was met die organisering van mense om na die hof te kom nie”.

“Wanneer ek na KwaZulu-Natal reis vir die hofsaak van oudpres. Jacob Zuma, soos wat ek gaan doen, betaal ek vir myself.”

Hy was ook “in konsultasie met Zuma sodat ’n afspraak tussen hom en die topses van die ANC gereël kan word”.

Olly Mlamleli, uitgeskopte uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, druk in gesprek in die hof. Albei is beskuldigdes in die asbesdaksaak waarby bedrog van R255 miljoen na bewering betrokke is. Foto: Mlungisi Louw

Magashule het “respek vir die regbank” en alle Suid-Afrikaners het volgens hom die reg op ’n regverdige verhoor deur ’n bekwame hof.

“Ek het gedink dat die saak in Mei, Junie of Julie kan voorkom omdat ek gereed is, maar omdat ons baie beskuldigdes is wat deur ’n groot verskeidenheid van regslui verteenwoordig word, is daar van die ander wat in daardie tyd reeds by ander sake betrokke is. Daarom is besluit dat die vooraf-verhoordatum 11 Augustus sal wees.”

Volgens Magashule “is daar ernstige kommer” oor waarom hulle aangekla word.

Daar is ook “baie bykomende uitdagings met die Covid-19-inperkings” maar “dit maak nie saak hoe steil die berg is wat ons moet uitklim nie, dit is altyd vorentoe en nooit agtertoe nie”.

Meer oor:  Anc  |  Ace Magashule  |  Bedrog  |  Nasionale Uitvoerende Komitee (Nuk)  |  Besluit  |  Aanklagte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.