Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace: Stigtings verwelkom lasbrief

Verskeie stigtings en organisasies het die nuus verwelkom dat ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, uitgereik is.

Magashule sal Vrydag op korrupsieverwante aanklagte in die hof in Bloemfontein verskyn in verband met die Vrystaatse asbesdak-ouditsaak in die tyd toe hy premier was.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) sê in ’n verklaring die nuus is “positief vir die burgerlike samelewing”.

“Die gesegde waar daar ’n rokie trek, is daar ’n vuurtjie klink op wanneer dit by Ace Magashule kom en by ’n aantal kwessies oor wanadministrasie en korrupsie.

Ace Magashule

“Magashule is een van dié na wie vinger gewys word en sy inhegtenisneming sal vertroue wek dat die strafregstelsel weer werk,” sê Outa.

Neeshan Balton, uitvoerende direkteur van die Ahmed Kathrada-stigting, sê in ’n verklaring die lasbrief bied hoop dat ondersoeke deur wetstoepassingsagentskappe vrugte begin afwerp.

Hy sê as die Valke se vorige inhegtenisnemings van vermeende korruptes in ag geneem word, asook dat die Zondo-kommissie strenger begin optree teen getuies, stuur dit ’n sterk boodskap dat bewerings van korrupsie nie bloot in die doofpot gestop sal word nie.

Hy het egter gewaarsku dat die optrede teen korrupsie tot dusver net die oortjies van die seekoei is.

“Korrupte netwerke bly verskans, ons verkrygingsbeleide is nie daarteen bestand nie en finansiering vir politieke partye bly troebel,” sê Balton.

Dave Steward, voorsitter van die FW de Klerk-stigting, sê die feit dat Magashule op korrupsieverwante aanklagte in die hof verskyn, is beduidend van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se bereidwilligheid om senior politici te vervolg.

“Magashule sal teregstaan en die howe moet besluit of hy skuldig is of nie,” sê Steward.

Francis Antonie, direkteur van die Helen Suzman-stigting, sê die verwikkelinge rondom Magashule is ’n baie belangrike stap om aanspreeklikheid te bevorder.

Volgens hom sou die NVG slegs die saak teen Magashule aanpak as hy ondersoek ingestel en “iets gekry” het.

“Dit is op die ou einde die hof wat moet bepaal of iemand sonder redelike twyfel op aanklagte skuldig is of nie. Daarom moet ons die prosesse toelaat om plaas te vind.”

Meer oor:  Ace Magashule  |  Bloemfontein  |  Lasbrief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.