Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace swyg oor verskoning, maar oefen om te boks
Ace Magashule Foto: Daily Sun

Die kans is “baie skraal” dat Ace Magashule die ANC en die land om verskoning sal vra omdat hy pres. Cyril Ramaphosa verlede week kort ná sy eie tydelike skorsing uit die party “geskors” het.

Dit is die mening van politieke kenners nadat daar Donderdagaand nog geen aanduiding was dat Magashule dit teen die einde van die week sal doen nie.

Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het vroeër vandeesweek gesê hoewel die nasionale uitvoerende komitee (NUK) nie ’n vaste spertyd gegee het nie, “is die hoop dat hy dit teen die einde van die week sal doen”.

Magashule kon nie Donderdag vir kommentaar bereik word nie, maar ’n video van hom is wyd op sosiale media versprei waarin hy vuishoue oefen teen ’n slaansak.

Die ANC het Donderdagmiddag ’n beroep op al sy lede en strukture gedoen om hulle agter die besluite van die NUK, sowel as konferensie-resolusies, te skaar.

Dit was in reaksie op ’n groep jeugdige ANC-lede wat ná Magashule se tydelike skorsing Donderdagaand ’n nagwaak by die ANC-hoofkwartier, Luthuli-huis, in Johannesburg beplan het om die ANC “te verenig en te red”.

Die groep eis onder meer dat Ramaphosa en die hele NUK onmiddellik bedank. Hulle voer in hul uitnodiging na die nagwaak aan dat die huidige NUK “die vyand van eenheid is” en moet “aftree om die revolusie te red”.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, sê ’n verklaring die NUK bly gefokus op die eenheid en hernuwing van die ANC en dat dit onwaar is dat die NUK net die “opsystaan’-resolusie toepas.

’n Ingeligte bron naby die Magashule-kamp het dit Donderdag egter duidelik gemaak dat “die sekretaris-generaal nie om verskoning sal vra nie”.

Die NUK sal binnekort ook die ANC in streke en in provinsies besoek om sy mees onlangse besluite aan hulle te verduidelik.

Van daardie besluite is Magashule se tydelike skorsing en die verskoning wat hy moet aanbied.

’n Ingeligte bron naby die Magashule-kamp het dit Donderdag egter duidelik gemaak dat “die sekretaris-generaal nie om verskoning sal vra nie”.

Volgens dié bron berei Magashule hom eerder voor om sy tydelike skorsing in ’n hof te betwis.

’n Ander betroubare bron meen egter dat Magashule “se ANC-lidmaatskap vir tot vyf jaar opgeskort kan word of dat hy permanent uit die party geskop kan word” as hy nie om verskoning vra nie.

Dié bron sê hulle is ook bewus van ’n groep Magashule-ondersteuners in die Vrystaat wat besig is om ’n terugveg-strategie te formuleer teen sy tydelike skorsing. “Hulle is egter ’n klein groep in die konteks van die groter ANC en sal nie ’n impak op die verloop van sake hê nie.”

Slegs die ANC se nasionale tugkomitee kan besluit hoe om Magashule te straf as hy nie om verskoning vra nie.

Prof. Zwelinzima Ndevu, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, het Donderdag gesê die ANC wil met sy optrede teen Magashule stabiliteit in die ANC herstel en wys dat “die huidige leierskap in beheer is”.

Ndevu meen die kans is “baie skraal” dat Magashule om verskoning sal vra.

“Hy gaan alles moontlik doen om tyd te koop om sy skorsing op die party se komende nasionale hoofraadsvergadering te betwis.”

Ndevu sê slegs die ANC se nasionale tugkomitee kan besluit hoe om Magashule te straf as hy nie om verskoning vra nie.

Prof. Dirk Kotze, politieke ontleder by Unisa, stem saam dat net die tugkomitee oor ’n moontlike straf kan besluit.

“Hy kan of uit die party geskop word of slegs ’n boete kry. Daarna sal hy nog kan appelleer na die nasionale appèlkomitee. Dit kan ’n baie lang proses word.”

Meer oor:  Ace Magashule  |  Jessie Duarte  |  Boks  |  Verskoning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.