Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace tart ANC uit om groter ‘martelaar’ te wees
Ace Magashule praat Maandag ná die hofsaak van oudpres. Jacob Zuma met ondersteuners in Pietermaritzburg. Foto: Deaan Vivier

Ace Magashule wil met sy voortdurende uittarting van die ANC sy “martelaarsprofiel” uitbou om meer steun en simpatie by ANC-ondersteuners op grondvlak te kry.

So het ’n politieke ontleder Maandag gesê nadat ’n duidelik veglustige Magashule met sy ondersteuning van oudpres. Jacob Zuma in die hooggeregshof in Pietermaritzburg sy skorsingsvoorwaardes verbreek het.

Intussen het pres. Cyril Ramaphosa en die ANC ’n swaargewig-regspan aangestel om Magashule se dringende hofaansoek om sy tydelike skorsings as sekretaris-generaal om te keer, teen te staan.

Dié span sluit adv. Wim Trengove, SC, in.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het Maandagmiddag bekend gemaak dat Ramaphosa, wat tans in Frankryk is vir ’n Covid-19-beraad, en die res van die ANC se topses-leiers Maandag die Magashule-hofaansoek bespreek en bevestig het dat hulle die aansoek sal teenstaan.

“Die ANC het Ledwaba Attorneys aangestel as opdraggewende prokureurs. Hulle sal ondersteun word deur Trengove, adv. Ngwako Maenetje, SC, adv. Fana Nalane, SC, en adv. Buhle Lekokotla.”

Magashule is op 3 Mei vanjaar tydelik geskors nadat hy en ander ANC-lede wat weens korrupsie en ander ernstige misdaad in ’n hof teregstaan, nie vrywillig hul poste wou ontruim, soos die ANC einde Maart vanjaar beveel het, nie.

Van sy skorsingsvoorwaardes is dat hy nie die ANC in die openbaar of op enige platform mag verteenwoordig nie, hom nie openlik oor enige ANC-kwessies mag uitlaat of nie enige ANC-struktuur mobiliseer oor sy tydelike skorsing nie.

Magashule het ná Zuma se hofverskyning Maandag egter aan ondersteuners in Pietermaritzburg gesê niemand sal hom 'in ’n demokrasie verban nie'.

Magashule het ná Zuma se hofverskyning Maandag egter aan ondersteuners in Pietermaritzburg gesê niemand sal hom “in ’n demokrasie verban nie”.

“Niemand sal die ANC uit my verwyder nie. Ek sal nie ’n ander party vorm nie. Ek sal sterf in die ANC. Ek sal nooit die ANC verlaat of uit die party verban word nie,” het Magashule gesê terwyl hy die verhoog gedeel het met Zuma en ander nasionale leiersfigure van hul faksie van radikale ekonomiese transformasie (RET), soos Tony Yengeni, Supra Muhamapelo en Carl Niehaus.

Magashule het bygevoeg hy sal ook die Vrystaatse ANC mobiliseer om Zuma se volgende hofverskyning by te woon.

Hy is ook gesien waar hy kontant aan ’n vroulike ondersteuner gegee het wat ook die Zuma-hofverskyning bygewoon het.

Mabe kon nie Maandag vir kommentaar oor Magashule se beweerde verbreking van sy skorsingsvoorwaardes bereik word nie.

Magashule het Maandag steeds geweier om die ANC en Suid-Afrika om verskoning te vra, soos hy beveel is nadat hy ná sy eie skorsing ook vir Ramaphosa uit die ANC “geskors” het.

Volgens hom is dit deel van die hofaansoek waarin hy ook vra dat die ANC se “opsystaan”-besluit, ingevolge waarvan hy geskors is, as ongrondwetlik verklaar word, maar dat sy “skorsing” van Ramaphosa geldig verklaar moet word.

Magashule se skending van sy skorsingsvoorwaardes is deel van die RET-faksie se ondermyning van Ramaphosa se statuur en profiel.

Yengeni het in Pietermaritzburg sy bewering herhaal dat staatsorgane teen Magashule misbruik word.

Volgens hom is die ANC “nou op ’n punt waar takke hul stemme moet dik maak en ingryp” omdat hulle Magashule as sekretaris-generaal gekies het.

Hy het bygevoeg die ideologiese verskille tussen die ANC-faksies is tans “onversoenbaar”.

Niehaus het bygevoeg as die ANC Magashule wil verwyder, moet ’n spesiale verkiesingskonferensie daarvoor gehou word. “Ons weet die sekretaris-generaal sal as oorwinnaar daar uitstap.”

Intussen het prof. André Duvenhage, politieke ontleder by die Noordwes-Universiteit, gesê Magashule se skending van sy skorsingsvoorwaardes is deel van die RET-faksie se ondermyning van Ramaphosa se statuur en profiel.

“Magashule wil die ANC met sy uittarting dwing om verder teen hom op te tree sodat hy sy status as martelaar-slagoffer kan uitbou om meer steun en simpatie by ANC-ondersteuners op grondvlak te kry.”

Meer oor:  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Skorsing  |  Uitdaging  |  Anc  |  Martelaarskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.