Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Dag 1 van Ace vs. ANC

Die beleërde Ace Magashule durf die ANC Donderdag en Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg aan om sy tydelike skorsing as die party se sekretaris-generaal ter syde gestel te kry.

Die ANC staan die aansoek teen. Pres. Cyril Ramaphosa en Jessie Duarte, ANC-adjunk-sekretaris-generaal, is saam met die party die respondente in die aansoek.

Magashule sal ook vra dat die ANC se opsystaan-besluit ter syde gestel word.  Hy en verskeie ander ANC-lede wat tans in howe op aanklagte van korrupsie en ander ernstige misdade teregstaan, is ingevolge hierdie besluit geskors nadat hulle geweier het om hul poste vrywillig te ontruim.

24 Jun. 17:51:30

Verrigtinge hervat Vrydag – Llewellyn Prince

Mpofu sê op ‘n vraag van Molahleli dat die NUK geen magte aan die NWK gegee het om Magashule te skors nie.

“Dit is waarom Duarte skielik in haar beëdigde verklaring probeer om uit die valstrik te kom deur te sê dat die NWK en sy oortuig was dat dit in belang van die ANC was om Magashule te skors.”

Kollapen verdaag die verrigtinge tot Vrydag om 09:00.

24 Jun. 16:39:50

Mpofu sluit af – Llewellyn Prince

Mpofu sê dat dit die regters se taak is om die reg “blindelings” in hierdie aangeleentheid toe te pas.

“Maak nie saak wie betrokke is nie. Verbeel julle dit is enigiemand voor julle wat sê hul grondwetlike reg om aan enige organisasie te behoort, is op die wyse weggeneem wat ek vandag beskryf het.

“Daar is geen hof wat kan bevind dat dit menslik moontlik was dat hierdie skorsing wettig is nie. Veral nie weens die manier hoe dit gedoen is nie.

“Dit is ‘n gemors. En om alles te kroon, kom hulle en wysig Reël 25.70 en die opsystaan-resolusie en sê die nasionale werkkomitee het die magte om dit te kan doen.”

Mpofu is nou klaar met sy argument.

24 Jun. 16:34:36

‘Reël 25.70 is tans in ‘n waaksaal’ – Llewellyn Prince

Mpofu sê ten spyte van al sy argumente, moet die hof veral kyk of die ANC voldoen het aan Reël 25.70 van sy grondwet toe hy vir Magashule geskors het.

Die reël bepaal volgens Mpofu dat die sekretaris-generaal ‘n ANC-lid mag skors. “Die afgevaardigdes op die Nasrec-konferensie het daardie mag spesifiek aan ‘n mens in die vorm van die sekretaris-generaal gegee, nie aan ‘n struktuur nie.

“Duarte is nie die sekretaris-generaal nie. Sy is net die adjunk in sekere situasies. Sy neem nie net outomaties die SG se magte oor nie. Sy het geen magte gehad om die sekretaris-generaal te skors nie.

“As ek verkeerd is en Duarte wel die mag gehad het, dan moet sy oortuig wees. Sy sê egter in haar skorsingsbrief (aan Magashule) dat die nasionale werkkomitee oortuig was dat dit in die belang van die ANC was om hom te skors.”

Volgens Mpofu is dit ‘n drogrede dat die ANC Reël 25.70 toegepas het deur Magashule te skors.

“Dit is belaglik. Reël 25.70 is tans in ‘n waaksaal omdat die ANC dit geslag en gewysig het om dit soos iets anders te laat lyk.”

24 Jun. 16:27:24

Faksionalisme – Llewellyn Prince

Dit is volgens Mpofu, wat namens Magashule optree, die eintlike motief waarom die ANC se NUK die party se Nasrec-“opsystaan”-resolusie “gedokter” het.

“Toe die Nasrec-konferensie die resolusie aanvaar het, wou hulle korrupsie in al sy lelike vorms uitroei.

“Maar sommige mense het iewers op Zoom besluit dat korrupsie in sommige vorms uitgeroei moet word wat net ‘n sekere faksie raak.

“Dit is verkeerd en daar is geen hof wat sulke gedrag kan duld of kondoneer nie. As dit so is, Edelagbare, moet ons aanvaar dat die herskepte NUK-resolusie vals is en self korrupsie is teen nie net Magashule nie, maar ook teen die afgevaardigdes van die nasionale konferensie.”

Mpofu sê daardie afgevaardigdes het die miljoen ANC-lede verteenwoordig. Die nasionale konferensie is die hoogste liggaam. As dit gepraat het, moet sy besluite eerbiedig word.

“Daardie grondwet wat hulle saamgestel het, kan nie net deur hulle gewysig word nie.”

24 Jun. 16:21:40

Ondersteuners van Ace Magashule het Donderdag voor die hooggeregshof in Johannesburg saamgekom om hom te ondersteun. Foto: Melinda Stuurman

24 Jun. 16:21:27

24 Jun. 16:17:35

Huidige NUK-resolusie is ‘gedokter’ – Llewellyn Prince

Al het die ANC sy Nasrec-“opsystaan”-resolusie aangepas om die wêreld te red, was dit steeds verkeerd, sê Mpofu.

Die NUK het nie die magte om besluite van enige ANC- nasionale konferensie te wysig nie.

Die regspunt is dat dit irrasioneel is om dit te doen.

“As die NUK nie die grondwetlike reg het om die konferensie-resolusie te wysig nie, kon hulle dit dus nie gedoen het nie.”

Magashule is ingevolge die ANC-NUK se “opsystaan”-besluit tydelik geskors.

Die resolusie lui dat alle ANC-lede wat in ‘n hof teregstaan op aanklagte van korrupsie en ander ernstige misdaad opsy moet staan.

Volgens Mpofu sê die ANC se Nasrec-“opsystaan”-resolusie dit, maar ook dat almal anders teen wie van beweringe van korrupsie gemaak het en diegene wat geld gebruik het om stemme by konferensie te koop, ook opsy moet staan.

Volgens hom is die huidige NUK-resolusie daaroor “gedokter”.

Hy sê so is dit ook teen die ANC om geld te gebruik om ANC-konferensies te wen. “Of dit nou R300 miljoen of R1 miljard is.”

24 Jun. 16:08:12

Advokate moet ewe veel tyd kryLlewellyn Prince

Regter Kollapen vra vir Mpofu om aan te dui hoe lank hy nog sal wees met sy argumente.

Mpofu sê dat sy kollega gereed is om Vrydag te begin met haar deel van die argument. Sy sal ongeveer 45 minute nodig hê.

Hy self sal nog tot 16:30 argumenteer.

Adv. Wim Trengove, SC, vir die ANC, dring aan dat hy net soveel tyd as Mpofu kry om sy kant te stel. “Hulle het al reeds vir drie en ‘n half uur betoog en sal vandag nog ‘n uur kry. En môre ook. So ons kyk na vyf uur.”

Kollapen sê dat daar gewerk moet word sodat Trengove ook dieselfde tyd as Mpofu kan kry om hul kant te stel.

Mpofu sê dit is reg met hom.

24 Jun. 15:40:40

Reël 25.70 is ‘ongrondwetlik’ – Llewellyn Prince

Mpofu betoog dat dit hul standpunt is dat Reël 25.70 van die ANC se grondwet ingevolge waarvan Magashule tydelik geskors is, ongrondwetlik is omdat dit die Grondwet en Magashule se regte skend.

Dit is omdat hy voor sy skorsing geen kans gekry het om eers sy kant te stel nie, die veronderstelling van onskuld van hom weggeneem is en dat hy nie die reg het om intern teen sy skorsing te appelleer nie.

Mpofu sê as hulle verkeerd is en daar word bevind dat Reël 25.70 “wonderbaarlik” grondwetlik is, is daar geen twyfel dat Magashule geskors moet bly nie.

“As ons reg is daaroor, is dit die einde van die saak wat betref Magashule se skorsing.

“Die sekretaris-generaal het ook nie aan die (ANC se) integriteitskommissie gesê dat hy opsy sal staan nie. Hy het aan hulle gesê dat as die NUK hom vra om opsy te staan, sal hy dit vrywillig doen.

“Hy (Magashule) sê egter dat hy wettig versoek moet word om vrywillig opsy te staan.”

24 Jun. 15:29:35

'Dit is net een groot gemors’ – Llewellyn Prince

Mpofu sê dat Magashule ‘n verwagting gehad dat hy voor sy tydelike skorsing uit die ANC eers ‘n verhoor met die ANC se NUK sou kry om sy kant van die saak te kan stel.

Die ANC se topsesleiers het hom glo eers twee dae nadat die 30 dae verstryk het om vrywillig opsy te staan na ‘n vergadering by pres. Cyril Ramaphosa se huis genooi. Hy het ook nog verskeie kere daarna met die ANC-grootkoppe vergader.

Volgens Mpofu is hy egter nooit daartydens ‘n kans gegun om sy kant van die saak oor sy skorsing te stel nie.

“Daar is geen twyfel by enigiemand dat hy nie ‘n kans gegun is om sy kant van die saak voor die NUK te stel nie.”

Volgens Mpofu was die ANC se nuwe “opsystaan”-regime nog nie eens amptelik deur die ANC se NUK aanvaar nie.

“Dit is net een groot gemors.

“Die minste wat hulle kon gedoen het, was om op die spesiale NUK-vergadering van 8 Mei vir hom te vra oor waarom hy dink hy nie geskors moes word nie.”

Sy skorsing was dus voortydig omdat dit gedoen is nog voordat die NUK op 8 Mei daaroor kon vergader, voer Mpofu aan.

Magashule het 12 redes in sy voorlegging aangevoer oor waarom hy nie geskors moet word nie, maar hy is nooit die kans gegun om dit aan die NUK te stel nie.

Meer oor:  Anc  |  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Opsystaan  |  Hofstryd  |  Teenstaan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.