Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace veg terwyl boeke verdwyn

Meer as 100 eksemplare van die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh se boek Gangster State is Dinsdagaand in Johannesburg gesteel.

“Kyk hierdie DA-gemors,” sê Ace Magashule Saterdag kort voor hy ANC-T-hemde begin uitdeel aan inwoners van Sweet Home in Philippi, Kaapstad. Magashule, wat gister en vandag in en om die Kaap stemme vir die ANC werf, het nagelaat om te sê dat Sweet Home in ’n ANC-beheerde wyk van Kaapstad is. Foto’s: Edrea du Toit

Die boek se bekendstelling by Exclusive Books in Sandton City is ontwrig deur gewelddadige ANC-jeugligaondersteuners wat wil keer dat die boek, met onthullings oor die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule, versprei word.

Grattan Kirk, uitvoerende hoof van Exclusive Books in Sandton, het die diefstal van die boeke bevestig. Die boekhandelaar het die bekendstelling van Gangster State wat Donderdag in sy tak in die Waterfront in Kaapstad moes plaasvind, afgestel weens nóg dreigemente van die jeugliga.

Sello Pietersen, woordvoerder van die jeugliga in die Vrystaat, waar Magashule voorheen premier was, sê meer as 100 van Myburgh se boeke word in die liga se Bloemfonteinse kantoor gebêre.

Ons glo dis gemors wat vernietig moet word.
Sello Pietersen

Volgens Pietersen het “lede van die gemeenskap, van oral, ook uit ander provinsies” die boeke vir die jeugliga gebring om te verbrand. “Ek weet nie presies hoeveel daar is nie, maar daar is baie meer as honderd. Ons glo dis gemors wat vernietig moet word. Daarom het ons lede en die breë gemeenskap dit van die rakke gekoop en vir ons gebring,” sê Pietersen.

Die Vrystaatse jeugliga sou die boeke in ’n plegtigheid op ’n munisipale vullisterrein in die Rosestad verbrand, maar is deur ANC-leiers verbied om dit te doen.

“Ons praat Maandag met die ANC-leierskap om ’n kreatiewe manier te vind waarop ons die boeke kan vernietig,” sê Pietersen.

“Kan ons praat oor die feit dat ons ’n klomp belasting betaal en dan kom eet hierdie f*****s daai geld hier uit,” het Siviwe Gushu gesê kort voor Magashule ’n ANC-T-hemp aan hom kom oorhandig het by die Rands-restaurant in Khayelitsha. Gevra of hy die hemp gaan hou, het Gushu geantwoord: “Nie ’n manier nie. Die ANC is korrup.”

Dit het intussen ook aan die lig gekom dat Mbali Hlophe, Maga­shule se persoonlike assistent, tydens die ontwrigting van die boekbekendstelling in Johannesburg in die kitskosgedeelte van Sandton City was.

“Ek kom gereeld in Sandton City,” sê Hlophe. “Ek het geweet daar word ’n boek oor my baas bekend gestel in Exclusive Books, soos ons almal geweet het dié boek is op die rak. Ek het egter niks verkeerd gesien of gehoor by Exclusive nie, dis ver van die kitskosgebied waar ek was,” sê sy.

In die eerste oplaag is 40 000 eksemplare van die boek gedruk. ’n Week nadat dit op die rak verskyn het, is die oplaag met 10 000 verhoog.

Die boek, wat in fyn besonderhede met stawende getuienis die netwerk van staatskaping en korrupsie onthul wat Magashule glo oor meer as ’n dekade in die Vrystaat opgebou het, het enorme druk op Magashule geplaas.

Bronne in sy binnekring sê hy veg om politieke oorlewing sedert die boek se verskyning twee weke gelede.

Die druk op Maga­shule het verder vergroot nadat Mxolisi Dukwana, voormalige LUR in die Vrystaat, aan die Zondo-kommissie vertel het hoe Magashule hom aan die Gupta-familie voorgestel het, met versoeke dat staatskontrakte aan hulle toegeken word.

Magashule het glo ook aan sy binnekring erken dat daar hard gewerk word om hom uit Luthuli-huis te verwyder voor pres. Cyril Ramaphosa ná die verkiesing sy nuwe kabinet aankondig, sodat hy (Magashule) nie kan deelneem aan gesprekke oor wie in die nuwe kabinet moet dien nie.

Magashule verwag blykbaar ook dat daar nóg onthullings oor hom voor die Zondo-kommissie gedoen gaan word en hy oorweeg dit na bewering daarom om self voor die kommissie te verskyn om sy naam skoon te kry.

Senior figure in die ANC se nasionale uitvoerende komitee het glo ook steun aan Magashule onttrek en sy posisie as sekretaris-generaal word bevraagteken.

Luidens ’n bron in Luthuli-huis beplan Magashule glo om sy aansien te herwin met ’n magsvertoon in die Vrystaat. Hy het die afgelope week samesprekings gevoer met die Vrystaatse leiers van die burgerorganisasie Sanco en die studenteorganisasie Sasco om hom te help om die veldtog te mobiliseer.

Hy is die naweek Wes-Kaap toe om werwing vir die verkiesing te doen, maar gaan dié week vergaderings in Qwaqwa in die Suidoos-Vrystaat bywoon.

Sowat ’n derde van die provinsie se kiesers woon in Qwaqwa, ’n arm gebied waarvan ’n groot gedeelte deur die bankrot Maluti-a-Phofung-munisipaliteit bestuur word. Die ANC in die gebied is diep verdeeld tussen ondersteuners van Magashule en Ramaphosa.

Die stadsraad het in Desember verlede jaar téén die opdragte van die party se provinsiale leiers ’n Rama­phosa-lojalis tot burgemeester verkies. Kort daarna is 14 stadsraadslede en die nuwe burgemeester deur die ANC uit hul ampte gepos.

Die munisipaliteit is boaan die lys van stadsrade wat geld aan Eskom skuld, met ’n kragrekening van meer as R3 miljard.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.