Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace vra hof om Cyril se ‘skorsing’ geldig te verklaar

Pres. Cyril Ramaphosa en sy faksie in die ANC wil Ace Magashule ten alle koste uit die “magtige” amp van sekretaris-generaal verwyder om Ramaphosa se pad vir herverkiesing as ANC-president volgende jaar “makliker” te maak.

Magashule voer dit aan in hofstukke in die dringende hofaansoek wat hy teen sy “onwettige, radikale en voortydige” tydelike skorsing by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien het.

Magashule versoek ook die hof om sy “skorsing” van Ramaphosa as “geldig en effektief” te verklaar totdat dit wettiglik nietig verklaar word.

Ramaphosa, Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris-generaal wat verlede week die skorsingsbrief aan Magashule uitgereik het, en die ANC is die respondente in die aansoek.

Dit was ten tyde van publikasie Vrydagoggend nog onbekend of hulle die aansoek sal teenstaan.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - APRIL 08: ANC Secreta
Ace Magashule op 8 April in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Magashule vra in die hofstukke, wat Vrydagoggend beskikbaar gestel is, ook dat die “opdrag” wat hy gekry het om teen einde vandeesweek aan die ANC en Suid-Afrika om verskoning te vra omdat hy Ramaphosa kort ná sy eie skorsing verlede week ook uit die party “geskors” het, as “onwettig en onafdwingbaar” verklaar word.

Verder wil hy hê dat die ANC se “opsystaan”-reël ingevolge waarvan hy geskors is, sowel as sy tydelike skorsings, as “onwettig, ongrondwetlik en nietig” verklaar moet word.

Eric Mabuza, wat hom onlangs onttrek het as oudpres. Jacob Zuma se prokureur in sy korrupsiesaak, is die opdraggewende prokureur in Magashule se dringende aansoek.

News24  het Woensdagaand berig adv. Dali Mpofu SC tree op as Magashule se advokaat.

Magashule voer verder in sy hofstukke aan dat die uitslag van sy aansoek ’n “reuse- en diepgaande” impak op openbare belang sal hê omdat die betrokke kwessies en mense die hoogste kantoor in die ANC en Suid-Afrika raak.

Hy voer aan dat die diepgewortelde faksionalisme tussen die sogenaamde CR17- en NDZ-faksie (in verwysing na dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, wat die ANC se presidensiële wedloop teen Ramaphosa verloor het en waarvan hy erken hy ’n lid is) die werklike rede is waarom hy geteiken word en wat agter sy “onwettige, radikale en voortydige” skorsing skuil.

Dit word volgens hom gedoen onder die dekmantel van wat hy die ANC se “nuutgevonde teenkorrupsie-skoonmaakveldtog” noem.

“Daar is geen engele en duiwels nie soos die kwessie sorgvuldig in die hoofstroom-media gechoreografeer word wat die dominante CR17-faksie ondersteun.

“Die werklike motief agter my vervolging is die wens om my ten alle koste te verwyder uit die magtige posisie van sekretaris-generaal sodat die pad na die herverkiesing van pres. Cyril Ramaphosa en sy faksie in die volgende nasionale konferensie makliker gemaak word. Ek wil byvoeg dat die vrese dat ek by die demokratiese prosesse sal inmeng, ’n misplaaste teken van onnodige paniek is.”

Volgens Magashule is dit daarom nie verrassend dat die “dominante” CR17-faksie in die NUK hom deur niks sal laat keer in sy strewe om “die kantoor van die sekretaris-generaal te kaap nie”.

Magashule meen hy het egter geen planne om die kantoor van die sekretaris-generaal te misbruik nie.

Volgens hom is hy soos elke ANC-lid geregtig op die beskerming van die howe om te verhoed dat hy onwettig uit sy amp verwyder word.

• Dit is ’n ontwikkelende storie.

Meer oor:  Politiek  |  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Opsystaan  |  Anc-Faksies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.