Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace wil die ANC so seer as moontlik maak

Ace Magashule weet dat sy dae in die ANC getel is, maar wil maksimum skade in die party aanrig sodat hy die grootste moontlike gaping los vir ’n nuwe politieke beweging wat ná ’n ANC-suiweringproses kan ontstaan.

“Dis in dié stadium ook vir hom duidelik dat hy nie meer op die steun van die nasionale uitvoerende komitee van die ANC kan staatmaak nie. Daar gaan boonop soveel ander mense uitgedwing word,” sê ’n vertroueling in die radikale ekonomiese transformasiekamp (RET).

Ace Magashule

In dié stadium lyk dit onvermydelik dat die twis op ’n afsplitsing van die RET-groep afstuur, maar Maga­shule probeer om dit vir so lank as moontlik uit te stel.

Daar is egter ook tekens dat sy ondersteuners, wat hulself as die RET-groep beskou, besig is om te versplinter. Van Magashule se getrouste ondersteuners het die afgelope week teen hom gedraai.

“Die kos op jou tafel speel ’n groot rol in ANC-binnepolitiek en dis vir sommige van sy ondersteuners duidelik dat hy nie meer in ’n posisie is om vir hulle te sorg nie,” sê die bron.

Ramaphosa se geslaagde besoek aan Botshabelo in die Vrystaat Dinsdag het die winde selfs in Magashule se tuisprovinsie teen hom laat draai.

Maar in minstens drie ander provinsies is daar aanduidings van verset.

In Noordwes het sommige ANC-takke die afgelope twee weke besluit dat die RET-faksie “hul eie ANC” moet stig en in die Noord-Kaap beplan takke om vandeesweek die bedanking te eis van die premier, Zamani Saul, ’n lojale Ramaphosa-ondersteuner.

Ook in Mpumalanga is daar ANC-takke wat dreig om die afdwing van die opsystaan-besluit met hofgedinge te probeer keer, berig City Press.

Die nasionale werkkomitee sal Maandag besluit hoe om die sogenaamde “opsystaan-besluit” verder beslag te gee. ’n Bron in Luthuli-huis het aan die koerant gesê Magashule sal moontlik die naweek vir Rama­phosa ontmoet voor Maandag se vergadering van die nasionale werkkomitee (NWK).

Magashule het op die vorige vergadering van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) 30 dae grasie gekry voordat hy opsy moet staan sodat hy vyf ANC-veterane daaroor kan raadpleeg.

Dinsdag het Gwede Mantashe, voorsitter van die ANC, gesê Maga­shule het tot dusver net vir Mathews Phosa en oudpres. Jacob Zuma ontmoet saam met Tony Yengeni. “Daarmee skep hy ’n uitdaging vir die ANC, want hy ontmoet net mense wat met hom saamstem. Die organisasie sal daardie uitdaging moet aanvaar,” het Mantashe gesê.

Maar Vrydagmiddag het Magashule inderhaas ook twee hoflikheidsbesoeke aan oudpresidente Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe gebring.

Hy en sy ondersteuners het dit egter duidelik gemaak dat hy nie gaan opsy staan nie. Hulle dring trouens daarop aan dat hy aanbly tot die ANC se volgende leierskonferensie aan die einde van 2022 waarheen die party se takke regstreekse verteenwoordigers stuur.

Mantashe sê Magashule, Supra Mahumapelo, wat Woensdag uit die party geskors is, en hul ondersteuners probeer die opsystaan-besluit voorhou as iets nuut, terwyl dit al lank in die ANC toegepas word en beslis nie daarop gemik is om sekere mense in die party te teiken soos hulle beweer nie.

“Mahumapelo praat oor die resolusie asof dit deel is van die Grondwet van die republiek. Hier is ’n leier van die ANC wat nie verstaan nie dat die ANC ’n vrywillige organisasie is wat sy eie reëls het en waarby jy vrywillig aansluit.

“Dis om die goeie naam van die organisasie te beskerm. Dis ’n vrywillige stap om die impak van jou optrede op die goeie naam van die ANC te beperk. Eers wanneer jy weier om dit te doen, sal die party stappe teen jou doen – jou skors of na ’n tugkomitee verwys,” het Mantashe in ’n onderhoud met Tshidi Madia van Eyewitness News gesê.

Dit hoef ook nie die einde van iemand se politieke loopbaan te beteken nie.

“Tony Yengeni (wat in 2003 tot tronkstraf gevonnis is oor korrupsie) het opsy gestaan, en is vandag lid van die NUK. Jacob Zuma het opsy gestaan oor die wapentransaksies en het president geword. Twee hoofswepe van die ANC is gevra om opsy te staan. My vriendin Dina Pule is gevra om as minister van kommunikasie opsy te staan.”

Maar Mantashe het dit ook duidelik gemaak dat Magashule die NUK geen ander keuse gee om hom te skors as hy weier om opsy te staan nie.

“Die integriteitskomitee besluit of jou optrede die party oneer aandoen. Die argument dat net die takke kan besluit om hom te skors en dat dit eers op ’n volgende konferensie van takverteenwoordigers kan gebeur, is nie eerlik nie.

“Dit was ’n besluit van die 2017-konferensie. Die NUK moet sorg dat daardie besluit toegepas word,” het Mantashe gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.