Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ace ‘wil weet waar hy staan’ met NVG

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, wil weet of daar planne is om hom in hegtenis te neem.

Victor Nkhwashu, Magashule se prokureur, sê hy het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die ondersoekdirektoraat in die kantoor van die nasionale direkteur van openbare vervolging al ’n week gelede gevra of hulle van voorneme is om hom in hegtenis te neem.

Nkhwashu het Woensdag gesê dié instellings het ontvangs van die navraag erken, maar nie daarop gereageer nie.

“Ons het die navraag ingedien nadat die Valke vir ons gesê het hulle het nie ’n lasbrief vir Magashule se inhegtenisneming gekry nie.”

Daar is verlede week op sosiale media berig dat Magashule in hegtenis geneem is, maar sowel die Valke as die NVG het dit ontken.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, wag steeds om te hoor of daar planne is om hom in hegtenis te neem, sê sy prokureur. Foto: Facebook

Mense wat vroeër na aan Magashule was toe hy nog premier van die Vrystaat was, meen Magashule het self die nuus op sosiale media versprei dat hy in hegtenis geneem is om die water te toets en te kyk of die NGV en die ondersoekdirektoraat sal erken dat hulle op sy spoor is.

Toe Sisi Ntombela, huidige Vrystaatse premier, Woensdag gevra is of sy dink Magashule gaan in hegtenis geneem word, het sy gesê: “Ai, kom ons praat later.”

‘Daar kom nog inhegtenisnemings’

Brig. Hangwani Mulaudzi, nasionale woordvoerder van die Valke, sê by navraag daar sal nog inhegtenisnemings in die Vrystaat kom sodra die bewyse in die sake wat hulle ondersoek, gereed is.

Op die vraag of Magashule moontlik een van dié mense is, het hy gesê “ons werk met getuienis en nie met mense se name nie”.

“Sodra daar genoegsame getuienis in ’n saak is, neem ons mense in hegtenis. Ons kan nie vooraf sê wie ons in hegtenis gaan neem en wanneer nie.”

Magashule se seun, Thato, het Woensdagoggend aan Netwerk24 gesê hy het sy pa sowat drie weke gelede gesien en hy lyk “gefrustreerd”.

Victor Nkhwashu, Ace Magashule se prokureur in Johannesburg, sê hy het al ’n week gelede navraag gedoen by die nasionale vervolgingsgesag en die ondersoekdirektoraat of daar planne is om Magashule in hegtenis te neem. Hy wag steeds op ’n antwoord. Foto: Facebook

Op die vraag hoekom hy dink sy pa “gefrustreerd” is, sê hy hy weet nie. “Dalk is dit die nuwe ‘job’ van hom as sekretaris-generaal van die ANC wat hom so maak.”

Sipho Ngwema, woordvoerder van die NVG, sê hy weet meer inhegtenisnemings kom nog in die asbesdak-saak.

“Maar ek kan nie sê wie dit is en wanneer dit gaan wees nie. Ons sal julle betyds laat weet sodat julle daar kan wees.”

Geen name kan vooraf gegee word oor wie in hegtenis geneem gaan word en wanneer nie. “Ons mag dit nie doen nie.”

Mosebenzi Zwane, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) wie se naam ook genoem word in vermeende voorvalle van staatskaping in die Vrystaat, sê hy was Dinsdag in Johannesburg en Magashule in Durban.

“Ons bel mekaar net as daar ’n behoefte daarvoor is.”

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê hulle bly “skepties optimisties” dat daar genoeg bewyse sal wees vir nog “politieke inhegtenisnemings” in die Vrystaat. Foto: Argiewe

Hy weet ook nie hoekom daar op sosiale media berig is oor Magashule se beweerde inhegtenisneming “wat later as vals nuus afgemaak is” nie.

Werner Horn, DA-LP, sê die moontlikheid bestaan dat Magashule aangekla kan word dat hy versuim het om politieke oorsig te doen of leiding te neem vir die administrasie van die Vrystaat toe hy vir bykans twee termyne premier was as sy handtekening nêrens op kontrakte verskyn nie.

“Ons sal moet wag en sien wat gebeur.”

• Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê as dit van hom afgehang het, sou Magashule en ’n klomp ander politici in oranje oorpakke gewees het. Die heen en weer bewerings van ’n lasbrief of nie, klink soos ’n strategie wat later gebruik kan word deur die verdedigingsprokureurs in die hof, sê hy.

“Ons bly skepties optimisties dat die ondersoekbeamptes genoegsame bewyse het om die vervolgingsgesag die nodige redes te gee vir ’n inhegtenisneming.

“Hoe langer hulle sloer met verdere politieke inhegtenisnemings, hoe minder vertroue het mense in die strafregstelsel om beweerde korrupsie hok te slaan.”

Meer oor:  Nvg  |  Roy Jankielsohn  |  Ace Magashule  |  Sisi Ntombela  |  Lasbrief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.