Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Adjunk reageer op kritiek ná twiets oor kanker en geweld
Hendrietta Bogopane-Zulu
Hendrietta Bogopane-Zulu, adjunkminister van maatskaplike ontwikkeling Foto: Gallo Images/Oupa Bopape

Mense moet verstaan dat ’n vroeë diagnose van sekere kankers die kans kan verklein dat vroue deur hul huweliksmaats en kêrels mishandel word.

So het Hendrietta Bogopane-Zulu, adjunkminister van maatskaplike ontwikkeling, Sondag gesê nadat sy deurgeloop het oor ’n reeks twiets waarin sy aanvoer dat kanker tot geslagsgeweld aanleiding kan gee.

Dié twiets kom nadat sy onlangs ’n veldtog bygewoon het van die PinkDrive-organisasie wat hom vir borskankerbewusmaking beywer.

Bogopane-Zulu het in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê sy is teleurgesteld omdat mense nie die verband tussen kanker, soos testikulêre, bors- en servikale kanker, en geslagsgeweld kan insien nie. Sy het glo al met verskeie vroue gepraat wat dié probleem ervaar het.

“Vroue wat hul borste weens borskanker moet verwyder, word dikwels deur mans as halwe vroue gesien. As hulle nie instem tot borsrekonstruksie nie, kan die mans met wie hulle in ’n verhouding is hulle slaan.”

Testikulêre kanker veroorsaak weer volgens haar dikwels dat mans nie seks kan hê nie, wat tot woede-uitbarstings kan lei. Hulle kan dan hul woede op vroue uithaal, meen sy.

Servikale kanker kan letsels laat en ook iemand se sekslewe beïnvloed, wat volgens Bogopane-Zulu tot mishandeling kan bydra deurdat hul lewensmaat dink dit is hul “reg” om te verneuk.

Sy moedig vroue aan om gereeld ’n papsmeer te ondergaan en vir mense om hul te laat toets vir kanker omdat dit lewens kan red – ook dié van vroue wat deur mans mishandel word.

Bogopane-Zulu sê in die geveg teen geslagsgeweld kan sekere oorsake nie geïgnoreer word nie.

Eerw. Bafana Khumalo van Sonke Gender Justice, ’n organisasie sonder winsbejag, het by navraag gesê die adjunkminister se uitlatings ondermyn die geveg teen geslagsgeweld, want haar boodskap lei tot verwarring omdat kanker nie die onderliggende rede vir geweld teen vroue is nie.

“Die gevaar bestaan ook dat skuldiges dit as ’n verskoning kan gebruik. Ons kort duidelike boodskappe met duidelike oplossings om die verskynsel hok te slaan.”

Volgens hom is die oorsaak van geslagsgeweld eerder patriargie, die stelsel waarvolgens mans voel vroue behoort aan hulle en dat hulle daarop geregtig is om alles van vroue te kry wat hulle soek.

“Hulle mishandel dan vroue om beheer oor hulle uit te oefen,” sê Khumalo.

Meer oor:  Hendrietta Bogopane-Zulu  |  Sosiale Media  |  Twitter  |  Geweld Teen Vroue  |  Kanker  |  Twiets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.