Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Advokaat wat Jiba aangekla het, getuig dalk Dinsdag

Adv. Jan Ferreira sal dalk Dinsdag getuig in die ondersoek na adv. Nomgcobo Jiba, geskorste adjunkdirekteur van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), en adv. Lawrence Mrwebi, geskorste hoof van die NVG se handelsmisdaadeenheid, se geskiktheid vir hul poste.

Die ondersoek wat Maandag in Centurion begin het, word in opdrag van pres. Cyril Ramaphosa deur oudregter Yvonne Mokgoro gelei.

Oudregter Yvonne MokgoroFoto: Sarel van der Walt
Ferreira is die Pretoriase aanklaer wie se besluit in 2015 om Jiba van bedrog en meineed aan te kla omgekeer is.

Sy besluit het verband gehou met Jiba en Mrwebi se wanvoorstellings in die vervolging van genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, en die terugtrek van moordklagte teen lt.genl. Richard Mdluli, voormalige hoof van misdaadintelligensie.

Die aanklagte teen Booysen is in 2014 deur die hooggeregshof in KwaZulu-Natal tersyde gestel omdat dit volgens die regter nie eens aan die minimum vereistes voldoen het nie.

Ferreira sal Dinsdag ná Chris Macadam, ’n staatsaanklaer van die NVG se eenheid vir prioriteitsmisdaad, getuig.

Dr. Silas Ramaite, waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), was Maandag die eerste getuie. Hy het getuig oor die prosedure wat gevolg word met vervolging, asook die rol wat die adjunkdirekteurs van die NVG en die nege provinsiale NVG-direkteurs speel.

Adv. Chris Jordaan SC, ’n afgetrede hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se eenheid vir gespesialiseerde misdaad.Foto: Sarel van der Walt
Ramaite het onder meer gesê “openbare opvatting” het geen rol te speel in die besluit van die NVG om te vervolg of nie.

Dr. Silas Ramaite, waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolging, lê die eed af voordat hy Maandag voor die Mokgoro-kommissie begin getuig het. Foto: Sarel van der Walt
Volgens hom het die nasionale adjunkdirekteurs ook geen reg om in te meng by die sake en die besluite van direkteurs van nasionale vervolging nie – tensy dit op die gebied van hul jurisdiksie is.

Adv. Chris Jordaan SC, ’n voormalige hoof van die NVG se eenheid vir gespesialiseerde misdaad wat in 2011 afgetree het, het daarna getuig dat die eenheid gestig is weens ’n agterstand in kommersiële-misdaad-ondersoeke.

Jordaan het getuig die eenheid was onafhanklik en kon self besluit of daar redelike gronde vir suksesvolle vervolging sou wees of nie.

* Adv. Thabani Masuku, vir Jiba, het Mokgoro Maandagoggend gevra om haar nie te laat mislei deur die beweringe dat Jiba en Mrwebi omkoopgeld van die omstrede maatskappy Bosasa ontvang het nie.

Angelo Agrizzi, eertydse bedryfshoof van Bosasa, sal glo voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping daaroor getuig.

Masuku sê Jiba ontken dat sy omgekoop is.

Adv. Nasreen Bawa, getuienisleier, sê sy het die Zondo-kommissie gevra vir ’n afskrif van Agrizzi se verklaring, maar het dit nog nie ontvang nie.

“Dit is ook nog nie met die betrokke partye bespreek nie. Daarom is dit nie getuienis voor die kommissie nie,” sê Bawa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.