Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Afgedankte OB-bestuurder hof toe om werk terug te kry

Die afgedankte bestuurshoof van die kantoor van die openbare beskermer (OB), beweer dat die OB, adv. Busisiwe Mkhwebane, in talle ondersoeke haar magte misbruik en partydig opgetree het.

Basani Baloyi wil ’n dringende aansoek in die hof bring om haar werk terug te kry. Sy wil ook hê dat die hof moet verklaar dat Mkhwebane met ’n verskuilde agenda opgetree het.

In hofstukke beweer sy dat Mkhwebane en die OB-kantoor se uitvoerende hoof, Vusi Mahlangu, saamgespan het om van haar ontslae te raak omdat sy ’n struikelblok vir hulle was.

Baloyi se dringende aansoek sou Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word, maar weens die oorvol hofrol sal dit na verwagting eers Woensdag aangehoor word.

“Die werklike rede hoekom ek ontslaan is, was omdat ek ’n struikelblok vir die openbare beskermer en die uitvoerende hoof was wat hul magte tot hul eie voordeel misbruik het,” beweer Baloyi in ’n beëdigde verklaring.

Volgens haar is die korrekte prosedures in ondersoeke nie altyd gevolg nie en Mahlangu het onregmatig by van die ondersoeke probeer inmeng.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer. Foto: Getty Images

Mkhwebane staan die aansoek teen. Sy ontken al die aantygings teen haar en beskryf Baloyi se bewerings as “kwaadwillig . . . skandalig en irrelevant”.

Baloyi brei verder uit oor die ondersoek waarin Mkhwebane bevind het dat pres. Cyril Ramaphosa die parlement mislei het oor ’n R500 000-skenking van Bosasa aan sy CR17-veldtog om president van die ANC te word.

Daar word ook verwys na die ondersoek waarin Mkhwebane teen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, oor die omstrede “rogue unit” van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens bevind het.

Albei dié verslae van die OB word tans deur die hof hersien.

“Die manier waarop die openbare beskermer albei hierdie ondersoeke hanteer het, was erg buitengewoon,” sê Baloyi.

* Sy beweer wyle Gavin Watson, voormalige grootbaas van Bosasa, het in ’n onderhoud met Mkhwebane gesê hy het destyds geld aan Ramaphosa se veldtog, maar ook aan dié van Ramaphosa se teenstander, Nkosazana Dlamini-Zuma, geskenk. Tog het Mkhwebane besluit om nie die skenking aan Dlamini-Zuma se veldtog te ondersoek nie.

* Baloyi sê Mkhwebane het die buitengewone stap gedoen om “buitemense” by die ondersoek te betrek terwyl Mkhwebane die personeel van die OB in die duister gehou het.

* Baloyi beweer verder dat Mkhwebane sonder geldige redes albei die ondersoeke geprioritiseer. “Hierdie soort ondersoek word gewoonlik eers binne twee jaar gefinaliseer, maar die verslae is binne ’n paar maande afgehandel,” sê sy.

Mkhwebane, wat al talle kere in die howe bloedneus oor haar verslae gekry het, voer regstegniese argumente aan oor hoekom die hof nie Baloyi se aansoek moet oorweeg nie. Volgens haar versuim Baloyi byvoorbeeld om te verduidelik hoekom sy die hooggeregshof nader, en nie die arbeidshof nie.

Baloyi sê sy het op grond van die aantal agterstallige ondersoeke wat sy afgehandel het, beter as haar voorgangers presteer.

Maar Mkhwebane voer weer aan sy moes Baloyi basiese bestuursvaardighede “met ’n lepel voer”.

Die OB sê dit was nie vreemd dat sy die ondersoeke gedoen het op die manier wat sy het nie, omdat die buitengewone aard van die ondersoeke dit vereis het.

“Dit is alombekend dat daar ’n doelbewuste poging deur minister Pravin Gordhan en sy span was om my kantoor te diskrediteer en sy werk te verpolitiseer deur my as ’n deelnemer aan korrupsie en staatskaping te bestempel.

“Dit is spekulatiewe, verbeeldingryke en ongegronde sameswering teen my,” voer sy aan.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Basani Baloyi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.