AfriForum se bestuur het Woensdag in Amerika aangekom om die eerste been van die organisasie se internasionale veldtog teen onteiening sonder vergoeding van stapel te stuur.
Die doel van die besoek is om internasionale bewusmaking oor plaasmoorde en grondonteiening in Suid-Afrika te skep.

Kallie Kriel. Foto: Nelius Rademan, Argief

Ernst Roets.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sal met regeringsverteenwoordigers, navorsingsinstellings, die media en moontlike beleggers in die buiteland vergader, sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.
Kriel en Roets sal besoek aflê in Dallas in Texas, asook in Washington D.C.
Afvaardigings sal ook na Europa en Australië gestuur word.
“Gedurende dié besoeke in die buiteland sal AfriForum ’n memorandum oor onteiening in Suid-Afrika aan die politici oorhandig,” sê Taute.
Roets het verlede week op ’n mediakonferensie in Centurion gesê AfriForum hoop om die internasionale samelewing te mobiliseer om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om nie met sy onteieningsbeleid voort te gaan nie.
“Ons glo dat hierdie veldtog ’n verskil kan maak as mense in ander lande hul stemme dik maak oor onteiening. Optogte teen plaasmoorde en onteiening is reeds in Australië gehou,” sê Taute.