Die burgerregte-organisasie AfriForum oorhandig Maandag ’n memorandum met sy besware teen ’n residensiële grondeis in Centurion, Gauteng, aan ’n verteenwoordiger van die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming.
“AfriForum se volgehoue druk en die mobilisering van die gemeenskap het daartoe gelei dat Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, op 22 Februarie aangekondig het dat onroerende eiendom wat deur dié eis geraak word nie onteien sal word nie,” lui ’n mediaverklaring van AfriForum.
Die minister het gesê aangesien dit ’n beboude gebied is, is dit nie moontlik om die grond wat geëis word in die hande van die eisers te plaas nie, berig Jana Marx.
Lees ook: 'Moenie paniekerig raak oor grondeis nie,' sê minister.
“Die grondkommissie sal dus in hierdie geval met die eisers vergader om opsies soos alternatiewe grond, geldelike vergoeding, of enige ander vorm van herstel soos wat die wet bepaal, te oorweeg,” het Nkoana-Mashabane gesê.
Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê egter die organisasie “kan nie staatmaak op vae beloftes van ’n regering op wie se woord ’n mens nie kan reken nie”.
“Ons veg voort om te verhoed dat belastingbetalers se geld vermors word en dat huiseienaars verontrief word deur die beperkings wat grondeise op hulle plaas,” sê Cameron.
Die eis – wat al in 1998 namens 39 verskillende families van die familie Mahlangu by die grondeisekommissie ingedien is – is in Junie verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer.
Dit raak groot dele (sowat 4 000 hektaar) van veral die suide van Centurion. Daar is ook ’n soortgelyke eis in die ooste van Pretoria.
* Die organisasie sal die memorandum Maandag om 11:30 by Kerkstraat 236, Pretoria, aan ’n departementele verteenwoordiger oorhandig.