Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
AfriForum en SAUAC van Soweto werk saam
Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, en Siphiwe Kunene, leier van SA United Against Crime, in Thokozapark in Soweto. Foto: Deaan Vivier

“Dinge soos plaasmoorde en onwettige grondgrype raak ons almal, wit, swart of Indiër,” sê Siphiwe Kunene, leier van SA United Against Crime (SAUAC).

SAUAC en AfriForum het Vrydagoggend in Soweto, Johannesburg, bymekaar gekom om idees uit te ruil oor hoe om ernstige misdaad stop te sit.

Kunene sê die SAUAC wil graag saamstaan om alle tipes misdaad te bekamp,” sê hy.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê dié organisasie is ’n paar maande gelede deur die SAUAC genader vir hulp met onder meer gemeenskapspatrollies en om in gesprek te tree oor misdaad, plaasmoorde en grondgrype.

Lede van albei organisasies het Vrydag in Thokozapark in Soweto bymekaar gekom.

“Dié spesifieke gebied is ’n brandpunt in Soweto veral ten opsigte van gewapende roof en ernstige misdaad. Hier is ook ’n yslike dwelmprobleem. Hierdie byeenkoms skep vir ons ’n geleentheid om idees uit te ruil oor hoe verskillende gemeenskappe sekere kwessies aanpak,” sê Cameron.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, en Siphiwe Kunene, leier van SA United Against Crime, in Thokozapark in Soweto. Foto: Deaan Vivier

Tydens dié byeenkoms het ’n handjievol patrolleerders van die SAUAC opleiding ontvang, onder meer oor wat hulle mag doen tydens patrollies om binne die perke van die wet te bly.

Die SAUAC het sowat 300 patrolleerders wat in die omgewing van Soweto werk om misdaad te voorkom. Hulle patrolleer brandpunte tydens piektye in ’n poging om ernstige misdaad te verminder.

Volgens Kunene is die SAUAC ’n buurtwag in Soweto en ander dele van Johannesburg wat beplan om later na ander gebiede uit te brei.

Hy sê hy het die werk wat AfriForum doen op sosiale media en die nuus raakgesien.

Thomas van Dalen, AfriForum se opleidingsbestuurder van gemeenskapsveiligheid, gee opleiding aan lede van SA United Against Crime in Thokozapark in Soweto. Foto: Deaan Vivier

“Ons het besef dat hulle positiewe werk doen. Die feit dat AfriForum al misdaad bekamp het voor ons, het ons laat besef dat dit ’n sinvolle vennootskap kan wees om saam met hulle te werk,” sê Kunene.

Kunene en Cameron stem saam dat dit vir albei organisasies belangrik is om nie by politiek betrokke te raak nie.

“Dit maak nie saak hoeveel geraas daar rondom ons is nie, ons wil net daarop fokus om misdaad te bekamp,” sê Cameron.

Cameron sê AfriForum het Vrydag met die SAUAC gepraat oor hoe gemeenskapspatrollies by dié organisasie werk.

“AfriForum is nou al ’n hele paar jaar besig met veiligheidstrukture en ons het duisende vrywilligers oor die land heen. Ek dink ons het ’n baie positiewe boodskap oor hoe goed gemeenskapsbetrokkenheid werk, en as Siphiwe-hulle dit hier kan regkry, sal dit ’n baie goeie ding wees.”

Meer oor:  Afriforum  |  Ian Cameron  |  Soweto  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.