Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
AfriForum se Roets in sop oor ou vlag
Ernst Roets

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) oorweeg stappe teen Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, nadat hy in ’n uitdagende inskrywing op sosiale media die ou landsvlag vertoon het.

Die stof het nog nie eens gaan lê nie, nadat die gelykheidshof Woensdag die doellose vertoon van dié vlag tot haatspraak verklaar het, toe Roets die inskrywing op sy Twitter-rekening maak.

Roets het ’n foto van die ou landsvlag geplaas en daarby gevra: “Het ek sopas haatspraak gepleeg?”

Roets se inskrywing het erg onder kritiek van Twitter-gebruikers deurgeloop, wat dit onder meer as verdelend beskryf het.

Tseliso Thipanyane, uitvoerende hoof van die MRK, sê die MRK oorweeg klaar stappe teen Roets ongeag of klagtes ontvang word.

Roets het duidelik hier oortree.
Tseliso Thipanyane, uitvoerende hoof van die MRK

“Roets het duidelik hier oortree. Ons sal teen enigiemand optree wat die hof se uitspraak minag of wat die Grondwet deur haatspraak oortree,” sê Thipanyane.

Volgens hom moet die MRK nog besluit hoe teen Roets opgetree gaan word. Om die hof te nader is een van die opsies wat oorweeg sal word, sê hy.

Roets kon nie vir kommentaar bereik word oor die MRK se oorwegings nie.

Hy het egter kort voor dit aan Netwerk24 gesê hy het sy twiet in ’n akademiese konteks geplaas, wat volgens die uitspraak toelaatbaar is.

Luidens die hof se uitspraak word die vertoon van die vlag voortaan beperk tot joernalistieke, akademiese en artistieke uitdrukking en slegs as dit in belang van die publiek is.

Word die ou vlag om enige ander rede vertoon, sal dit beskou word as haatspraak, diskriminasie en teistering soos omskryf in die Wet op Gelykheid.

“Ek is besig met navorsing oor minderheidsregte en dit is in hierdie akademiese konteks wat ek die inskrywing gemaak het,” sê Roets.

Die uitspraak van die gelykheidshof kom nadat die Nelson Mandela-stigting ’n aansoek gebring het omdat hy meen die vertoon van die vlag sonder ’n geldige rede is aanstootlik.

Die MRK was die tweede aansoeker.

AfriForum het die aansoek in die hof teengestaan omdat dit volgens hom vryheid van spraak bedreig.

“Die saak gaan oor meer as net die vlag, want dit gaan oor die beginsel van vryheid van spraak. Dit is vreemd dat mense uit liberale geledere gejubel het oor die uitspraak wat vryheid van spraak ’n knou toegedien het,” sê Roets.

My twiet het juis die soort reaksie ontlok wat ek verwag het. Sensuur word deur die onderdrukkers van minderhede toegepas
ERNST ROETS

“My twiet het juis die soort reaksie ontlok wat ek verwag het. Sensuur word deur die onderdrukkers van minderhede toegepas,” sê Roets.

Buiten Roets was daar ander mense wat die ou vlag Woensdag op sosiale media gedeel het.

Thipanyane het Suid-Afrikaanse burgers gewaarsku om, ondanks die uitspraak, nie doelbewus en sonder die aanvaarbare konteks die ou landsvlag op sosiale media te deel nie.

“Die MRK het nie ’n klagte nodig om die kwessie te ondersoek nie. Ons sal kyk na al die inskrywings. Ons sal vir die oortreders kom,” waarsku hy.

Prof. Koos Malan, ’n grondwetkenner, sê mense wat die vlag op sosiale media deel, loop gevaar om in die moeilikheid te beland.

“Indien iemand dit waarneem en as kwetsend beskou, en as dit nie binne ’n aanvaarbare konteks geplaas word nie, kan daar gevolge wees,” sê Malan.

“Dit is ironies dat die hof deur sy uitspraak nasiebou probeer bevorder het, maar doen nou juis die teenoorgestelde,” sê hy.

Meer oor:  Ernst Roets  |  Ou Vlag  |  Mrk  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.