Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
AfriForum vra Cele moet plaas- en buurtwagte inspan

Bheki Cele, minister van polisie, het Woensdag ’n brief van ontvangs aan AfriForum gestuur, in reaksie op die burgerregteorganisasie se versoek vir ’n dringende vergadering om buurtwagte en ander veiligheidstrukture gedurende die inperking toe te laat om aktief werksaam te wees.

“Ons aanlyn petisie om openbare steun vir die versoek te werf, is Woensdagoggend ná drie dae deur sowat 7 000 mense onderteken,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

“Die petisie sal in die volgende twee weke versprei word waarna ons ’n versoek aan pres. Cyril Ramaphosa en Cele sal stuur met die petisie as rugsteun.”

Bheki Cele Foto: Gallo Images

In die brief wat AfriForum aan Cele gestuur het, word die noodsaaklikheid van buurt-, plaas- en kleinhoewewagte, asook ander soortgelyke veiligheidstrukture in hul onderskeie gemeenskappe beklemtoon.

“AfriForum het 153 strukture met sowat 12 300 mense wat daarby betrokke is. Misdade soos diefstal, inbrake en gesinsgeweld het sedert die begin van die inperkingstydperk beslis toegeneem.”

Die brief aan Cele fokus op verskeie maniere waarop die minister hierdie strukture moontlik binne die raamwerk van die wet kan benut om wet en orde te handhaaf.

“Die Covid-19-pandemie bring nuwe uitdagings vir almal en ons glo buurtwagte en ander veiligheidstrukture kan waardevolle ondersteuning aan ons gemeenskappe in ’n baie onsekere tyd bied. Hulle ken hul gemeenskappe en kan sekere take doeltreffend aanpak, wat die druk op ander rolspelers soos die polisie en weermag kan verlig.”

Volgens Cameron het vee- en oesdiefstal op die platteland die hoogte ingeskiet.

“Gesinsgeweld neem ook oral toe omdat mense gedwing word om nader aan mekaar te leef en dit plaas druk op reeds bestaande maatskaplike kwessies wat tot meer geweld lei. Mense gaan waarskynlik in die komende dae finansieel swaarkry met ’n ernstige tekort aan basiese benodigdhede soos kos en water, wat die druk verder sal laat toeneem,” verduidelik Cameron.

“In die noorde van die land is daar nie soveel plundery nie, maar dit begin ’n probleem in dele van die Wes-Kaap word. Dit het Dinsdag ook rondom Port Elizabeth begin opvlam.”

Plundery kan dalk toeneem soos wat mense waarskynlik in die komende maande begin honger ly, voorspel hy.

“AfriForum glo dat buurtwagte en hul lede met voldoende riglyne en opdragte van die regering so te werk kan gaan dat daar nie ’n bedreiging is om Covid-19 verder in gemeenskappe te versprei nie,” sê Cameron.

AfriForum glo dat buurtwagte en hul lede met voldoende riglyne en opdragte van die regering so te werk kan gaan dat daar nie ’n bedreiging is om Covid-19 verder in gemeenskappe te versprei nie.

“Die regering het reeds aangedui dat die impak van die Covid-19-pandemie vir maande lank gevoel sal word. Verskeie polisiekantore is reeds weens infeksies gesluit en verskeie polisie- en weermaglede het al die virus opgedoen. Ons sal veel eerder ’n raamwerk in samewerking met die minister wil opstel wat ons strukture in staat stel om tot die bestaande beskikbare vermoë by te dra.”

Die VF Plus het ook vroeër die week ’n skrywe aan pres. Ramaphosa gerig.

“Dit is vir ons onverstaanbaar dat minister Cele nie buurt- en plaaswagte se hulp wil aanvaar nie, terwyl hulle die oë en ore van die polisie is en daar ’n goeie werksverhouding tussen hulle en die polisie bestaan,” sê die party in ’n verklaring.

Geweld neem toe

“Gesinsgeweld het toegeneem,” sê ’n polisiesersant aan die Oos-Rand, wat anoniem wil bly.

“Mense is nie gewoond daaraan om vir so lank in beperkte ruimtes saam te leef nie. Vandalisme en diefstal by skole, verkragting en inbrake by winkels is van die ander misdade wat gereeld voorkom.”

Die spanning onder polisiebeamptes neem ook toe.

“As jy buite die kantoor werk, is daar altyd die risiko dat jy jou eie mense met die virus kan aansteek wanneer jy aan die einde van jou skof weer huis toe gaan,” sê hy.

Petrus Nel, voorsitter van die Kameeldrift-plaaswag in die noorde van Pretoria, het Woensdag by navraag gesê dit is net ’n kwessie van tyd voordat iemand gaan seerkry.

“Ons het beslis sedert die tweede week van die inperking ’n toename in onnatuurlike beweging in ons omgewing opgemerk.”

Ons het beslis sedert die tweede week van die inperking ’n toename in onnatuurlike beweging in ons omgewing opgemerk.

Volgens Nel word die Kameeldrift-gebied deur ’n arm gemeenskap omring wat nie noodwendig ver vooruit kos kon koop nie en dit dra tot misdaad by.

Slegs in die eerste week van die staat van inperking was dit stil gewees in die gebied, sonder enige noemenswaardige klagtes. Kort daarna is daar vier aanvalle binne 12 uur aangemeld.

“ ’n Vrou wat in ’n rolstoel is, is beroof, daarna wagte op ’n plaas, werkers op ’n ander plaas en ook ’n gesin,” sê Nel.

Brig. Mathapelo Peters, waarnemende woordvoerder vir Cele, het Woensdag gesê geen amptelike misdaadsyfers is nog bekend vir die inperkingstydperk nie.

Volgens die minister is daar wel, gegrond op die voorlopige syfers, ’n afname in ernstige misdade soos verkragting, moord, inbrake en kapings, vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Verkragting het van 699 tot 101 voorvalle gedaal, moord van 326 tot 94 en triomisdade van 8 853 tot 2 098.

Meer oor:  Koronavirus  |  Afriforum  |  Bheki Cele  |  Covid-19  |  Buurtwag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.